Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KSA-geldnood, maar soek 12 franchises

Krieket Suid-Afrika (KSA) oorweeg radikale veranderinge aan die sport plaaslik. Sou dinge uitwerk soos hulle hoop, sal die plaaslike opset heeltemal anders lyk aan die begin van die 2020/’21-seisoen volgende September.

Die ses bestaande franchises sal tot 12 uitgebei word. Die toevoegings is meestal die huidige junior vennote in die franchises. Oostelikes, Noordwes, Boland, Grens, Griekwas en SWD sal eersterangse status verwerf, terwyl KwaZulu-Natal Binneland verdwyn.

Al 12 eersterangse spanne sal in drie kompetisies (vierdagkrieket, eendagkrieket en T20) in aksie wees. Die gedagte is glo dat die 12 in twee groepe van ses verdeel sal word in die meerdaagse kompetisie, met die wenner van elke groep wat mekaar in ’n eindstryd sal pak.

Die 12 mag ook in twee groepe verdeel word vir die korter weergawes van die spel, hoewel KSA nog niks finaal vasgemaak het nie.

Uit die binnekring word gereken dat die nuwe voorstelle weens verskeie redes sinvol is. Dit sal ’n einde maak aan die huidige semi-professionele strukture, met sy 13 spanne, en ’n beduidende paar rand in die proses bespaar.

Dit sal hopelik help dat Protea-spelers, indien beskikbaar, altyd vir hul provinsies sal kan speel. Daar was al internasionale spelers wat wedstryde moes misloop wens kwotavereistes. Maar dit sal ook ’n einde maak aan vennootskappe wat nie wil vlot nie.

“Dis soos ’n gereëlde huwelik, nie waar nie?” het ’n bron verlede week gevra. “Ek sou reken dat in die gevalle van WP en Boland, Vrystaat en Griekwas, OP en Grens en KwaZulu-Natal en sy binneland is daar min tevredenheid met die situasie.

“Om die waarheid te sê, glo ek hulle kan nie wag om van mekaar ontslae te raak nie.”

Die KSA-segsman Koketso Gaofetoge sê die onderwerp moet nog bespreek word deur die KSA-raad en wou g’n verdere kommentaar lewer nie. Dis egter bekend dat die huidige ses franchises deur die SA Krieketspelers­vereniging (SAKV) geadviseer is om nog net vir een seisoen – dié van 2019/’20 – te kontrakteer, wat daarop dui dat verandering reeds waarskynlik is.

Die nuwe voorstelle kan egter sorg vir botsings tussen KSA en die SAPV. Eerstens beteken dit ’n hele paar semi-professionele en selfs beroepspelers se werk gaan in die gedrang kom. En tweedens is baie min van dié gedagtes vervat in ’n onlangse Memorandum van Verstandhouding tussen dié twee liggame en dus ’n tree agteruit.

Rapport is bewus daarvan dat die SAKV glo daar is ’n fundamentele gebrek aan deursigtigheid rondom KSA se finansies. Een betrokkene sê dié finansies is in ’n droewige toestand.

Dis baie onwaarskynlik dat die SAKV sal instem tot grootskaalse werkverliese vir hul lede as daar twyfel is oor hoe leeg KSA se beursie inderdaad is. Maar KSA het verlede jaar in die parlement erken dat hulle verliese van tot R654 miljoen kan ly oor die volgende drie jaar.

Die SAKV sal redeneer dat hulle die spit moet afbyt weens die wanbestuur wat KSA byvoorbeeld meer as R200 miljoen laat mors het op die afgestelde Wêreld-Superliga in 2017.

KSA flankeer ook met die gedagte dat stede moet bie om toetse aan te bied.

Teenkanting in die media en pleidooie dat sekere datums op die krieketkalender – die Nuwejaarstoets op Nuweland en die Wanderers se jaarlikse Pienk Dag – amper heilig is, het egter die KSA-raad op ’n telekonferensie tot sy sinne gebring.

Meer oor:  Krieket Suid-Afrika  |  Franchises  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.