Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Meng jou met die semels...

As daar ’n Breinfloute van die Maand-prys was wat hier uitgedeel moet word, oorhandig Skuimkop dit met oorgawe aan die Bulle se Springbok-losvoorspeler Duane Vermeulen.

Al die maatjies by mekaar. Duane Vermeulen (die groot ou regs) saam met sy vroutjie, die sanger Bobby van Jaarsveld en die se vrou en een of ander ou met ’n swart bofbalkeppie. Foto: Twitter

Dié voormalige Stormer-stormram was vandeesmaand in die kollig op sosialemediaplatforms nadat hy op sy Twitter-profiel ’n foto geplaas het waar hy (en sy vrou) saam met die Afrikaanse sanger Steve Hofmeyr poseer, breë glimlaggies op die gesigte.

Hy het dié foto uitgevee, nie lank na die twiet die wye wêreld ingestuur is nie.

Hoekom? sou jy dalk vra, liewe leser. Hoekom die foto so vinnig verwyder? En waaroor nou die groot bohaai? ’n Ou kan mos kuier saam met wie jy wil, luister na die musiek van wie ook al in jou smaak val?

Skuimkop kan aan twee vinnige antwoorde vir die hoekom’s en waarom’s dink.

1) Hofmeyr se politieke sienings word enersyds, vanuit die objektiefste oogpunt móóntlik, as konserwatief beskou. Andersyds reken baie – reg of verkeerd – hy is ’n aartsrassis.

2) Duane, as hoëprofielatleet en onderkaptein van die Suid-Afrikaanse rugbyspan, behoort te wéét gemeenskaplikhede soos dié, ’n oënskynlike hand-op-die-blaas-oomblik met ’n omstrede figuur, is nie betaamlik of eerbaar nie.

Kom ons laat Hofmeyr en sy benepe politieke sienings eenkant, waar dit hoort. Die fokus van die fiasko moet eintlik wees op ’n gewilde sportman wat sy land in die internasionale arena verteenwoordig.

As hy uit dieselfde mond as Saru, sy werkgewer, praat (en Skuimkop glo diep in sy hart hy doen dit wel) moet Duane die einste beginsels aanhang waarvoor Saru hom beywer: transformasie, diversiteit, eenheid oor rassegrense heen.

Met dié foto wil dit egter voorkom asof hy dik pelle is met Hofmeyr. Trots glimlag saam ’n persoon wat deur menige Suid-Afrikaner as ’n ongure karakter beskou word.

Die Bok-onderkaptein, hoe onskuldig ook al, het ’n ernstige denkfout begaan. Daar gaan diegene wees wat sy kop eis, wat reken hy behoort afstand van sy Springbok-trui te doen.

Skuimkop sê ons moenie die kar voor die perde inspan nie. Maar iemand moet wel ’n ernstige gesprek met Duane hê. Soos ’n pa met ’n seun wat sy skrobbering verdien.

Jy kan seker maatjies wees met wie jy wil, ja. Maar as dit iemand is wat dikwels om verkeerde redes in die nuus is, moet jy nie in die openbaar te koop loop met jou vriendskap nie.

* Skuimkop wonder wat die reaksie sal wees as die Bok-kaptein, Siya Kolisi, ’n glimlaggende selfie saam met nog ’n rassis, Black Land First se Andile Mngxitama, sou neem?

Die seuns is weer manne

Die nasionale sokkerbreier, Stuart Baxter, klap hande vir die Bafana Bafana-ondersteuners wat die span se verligting by O.R. Tambo-lughawe kom ervaar het. Foto: Gallo Images

Uiteindelik gaan ons weer die nasionale sokkerspan in ’n behoorlike toernooi sien speel. Een met ’n bietjie gravitas!

Bafana Bafana het verlede naweek gekwalifiseer om in Junie vanjaar in Egipte deel te neem aan die toernooi wat Afrika se sokkerkampioen sal bepaal. Dit word elke twee jaar beslis.

Ons het in 1996 dié kroon gedra, toe Suid-Afrika ook die gasheer was. Ongelooflik. En ook kort op die hakke van die Springbokke wat eweneens met hul terugkeer tot die internasionale rugbyarena in 1995 die Wêreldbeker tuis verower het!

In 1998 was Bafana naaswenners. Maar sedertdien – in die verloop van tien toernooie (ná opeenvolgendes in 2012 en 2013) – was daar net mooi niks om oor huis toe te skryf nie. Trouens, in 2015 is ons in die groepfase uitgeskakel en in 2017 het ons (vir ’n derde keer sedert 2010) nie eens gekwalifiseer om te speel nie.

Vanjaar is Bafana weer aanspraakmakers nadat die span laas naweek in sy beslissende groepwedstryd Libië met 2 – 1 geklop het om sy plek as die 24ste span in die toernooi te bespreek.

Skuimkop is bitter opgewonde oor dié vooruitsig. Versigtig optimisties, selfs.

Nou moet die span se afrigter net sy geesdrif effens temper. Stuart Baxter se kop was op die kapblok voor dié beslissend kragmeting met Libië. Die laksman se byl was geslyp. ’n Loesing teen Libië sou waarskynlik sy einde beteken het.

“Met die huidige groep spelers,” was sy woorde toe die span by OR Tambo-lughawe verwelkom is ná die sege, “kan ons énige teenstander klop. Ons hoef niemand te vrees nie.”

Stadig oor die klippe, Stu. Bafana sal met die trekking op 12 April weet wat in die groepfase van die toernooi op hulle wag. En dan moet jy ons manne slaggereed kry.

* Iewers gaan Senegal, Tunisië, Marokko, Nigerië en Kameroen ter sprake kom. Hoe dapper gaan Baxter en Bafana dán wees?

Meer oor:  Stuart ­Baxter  |  Steve Hofmeyr  |  Duane Vermeulen  |  Bafana  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.