Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-plekke op die spel, sê Du Preez

Aan die een kant van die kryt staan ’n rugbyspan wat verlede week op wreedaardige wyse platgeslaan is ná ’n voorafgaande segetog.

Handré Pollard sal sy vertoning van drie weke gelede teen die Haaie op Loftus Versfeld Saterdag wil herhaal. Foto: Gallo Images

In die ander hoek staan ’n mededinger wat homself verlede week van die krytvloer opgelig het.

Die Bulle ruk na Durban op om te vergoed vir die minagtende oorveeg wat die Chiefs hulle op hul heiligdom, Loftus Versfeld, toegedien het.

Die Haaie wil ná hul sege oor die Rebels nóg ’n stewige regterhou plant – dié keer op die wang van die einste Bulle wat hulle drie weke gelede met 37-14 in Pretoria gekarnuffel het.

Vir die Haaie is daar dus ’n element van wraak ook ter sprake.

“Ons het baie lesse geleer uit die vorige wedstryd teen die Bulle, wat ons nou wil toepas,” het die Haaie se skrumskakel en kaptein, Louis Schreuder, vandeesweek gesê.

“Dié keer is dit op ons tuisveld, voor ons tuisskare. Hopelik kan ons dit tot ons voordeel gebruik.”

Die Haaie het die seisoen goed begin met twee bonuspuntseges voordat hulle teen die Stormers (tuis) en die Bulle vasgeval het. Op hul beurt spog die Bulle met oortuigende seges oor al drie die ander Suid-Afrikaanse spanne.

Robert du Preez sal Saterdag wil voortbou op sy vertoning teen die Rebels. Foto: Gallo Images

Aan selfvertroue gemeet, is dit dus moeilik om te peil wie Saterdag breëbors by Kingspark gaan opdaag.

Die Haaie ry op die golf van ’n oortuigende sege oor die Rebels. Vir die Bulle is die Chiefs-nederlaag nog vars, maar die wete dat hulle die einste Haaie vroeër opgekeil het, sal beslis vir iets tel.

Dié wedstryd sal weer voorlangs gewen word, maar as albei agttalle goeie balbesit bewerkstellig, gaan die losskakel-stryd tussen die Bulle se Handré Pollard en die Haaie se Robert du Preez titanies wees.

In die vorige ontmoeting tussen dié spanne op Loftus het Pollard nie sy gelyke gehad nie.

“Die Bulle het ’n goeie taktiese ingesteldheid, met Handré-hulle daar. Dit gaan belangrik wees dat ons hulle onder druk plaas,” sê Schreuder.

Du Preez was wel terug op dreef teen die span van Melbourne.

“Rob het baie goed gespeel verlede week,” sê Robert du Preez sr., die breier.

“Saterdag gaan soos ’n toets wees, so ons skopspel gaan bitter belangrik wees. So ook ons fisiekheid en dissipline.”

In Suid-Afrikaanse derbies is daar boonop altyd iets bykomends op die spel.

“Hierdie is ’n groot geleentheid vir al die spelers, want Rassie (Erasmus, Bok-breier) sal na die wedstryd kyk. Dis ’n kans om ’n kleim vir die Wêreldbeker-toernooi af te steek,” sê Du Preez.

Spanne:

Haaie: Aphelele Fassi, Lwazi Mvovo, Lukhanyo Am, André Esterhuizen, Makazole Mapimpi, Robert du Preez, Louis Schreuder (k), Dan du Preez, Jacques Vermeulen, Luke Stringer, Hyron Andrews, Ruben van Heerden, Coenie Oosthuizen, Akker van der Merwe, Beast Mtawarira. PLAASVERVANGERS: Craig Burden, Thomas du Toit, Khutha Mchunu, Gideon Koegelenberg, Philip van der Walt, Grant Williams, Kobus van Wyk, Curwin Bosch.

Bulle: Divan Rossouw, Cornal Hendricks, Jesse Kriel, Burger Odendaal, Rosko Specman, Handré Pollard (k), Embrose Papier, Duane Vermeulen, Hanro Liebenberg, Ruan Steenkamp, Eli Snyman, Jason Jenkins, Trevor Nyakane, Schalk Brits, Lizo Gqoboka. PLAASVERVANGERS: Corniel Els, Simphiwe Matanzima, Conraad van Vuuren, Jannes Kirsten, Tim Agaba, Ivan van Zyl, Manie Libbok, Johnny Kotze.

Skeidsregter: Mike Fraser.

Assistent-skeidsregters: Brendon Pickerill, Rasta Rasivhenge.

TV-skeidsregter: Christie du Preez.

Meer oor:  Haaie  |  Durban  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.