Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hoe word bepaal of Heyneke bly of gly?

Heyneke Meyer se lot as Springbokafrigter sal na afloop van vergaderings tussen Saru se uitvoerende raad en hoëprestasie-subkomitee in die hande van Suid-Afrika se 14 rugbyunies wees.

Daar word op ’n algemene jaarvergadering op 11 Desember in Kaapstad oor Meyer se toekoms besluit.

Die unies het elkeen twee stemme op die vergadering, met Oregan Hoskins, Saru-president, wat ook ’n stem sal hê.

Verskeie rugbyunies, waaronder die Westelike Provinsie, Boland, SWD en die Luiperds het reeds aangedui dat hulle wil hê Meyer se kop moet rol.

Indien die unies nie eenstemmigheid kan bereik nie, sal die stemming nietig verklaar word.

’n Hooggeplaaste by ’n noordelike rugbyunie het gesê hy is nie bewus van enige noordelike unie, behalwe moontlik die Blou Bulle, wat vir Meyer gaan stem nie.

Die uitvoerende raad, bestaande uit Hoskins, Mark Alexander, James Stoffberg, Tobie Titus, Pat Kuhn, Boet Fick, Francois Davids, Louis von Zeuner, Monde Tabata, Mputumi Damane, Jurie Roux (uitvoerende hoof) en Basil Haddad, sal voor die vergadering ’n besluit oor moontlike kandidate moet neem.

’n Subkomitee, wat deur die raad aangewys is, en die hoëprestasiekomitee sal ook by die besluit betrek word.

Die komitee bestaan uit James Stoffberg (voorsitter), Kevin de Klerk, Francois Davids en Pat Kuhn. Jurie Roux, Rassie Erasmus en dr. Ismail Jakoet (sekretaris) is uitgenooide lede van die komitee.

Die Springbokafrigter word volgens Saru se grondwet deur die uitvoerende raad aangewys, maar die aanstelling moet op ’n algemene vergadering deur die unies bekragtig word.

Volgens een van die unies se presidente, wat verkies om anoniem te bly, heers daar groot verwarring onder die presidente en uitvoerende hoofde.

“Dis so oop in hierdie stadium. Hulle kan met enigiemand of ’n lys kandidate by die vergadering aankom. Hulle kan doen net wat hulle wil.”

Hy het ook gesê daar is nie altyd ’n goeie verstandhouding tussen die unies en die uitvoerende raad nie.

Intussen het Jurie Coetzee, uitvoerende hoof van die Valke-rugbyunie, aan Netwerk24 gesê dié unie kon nog nie besluit of hulle  Meyer steun of nie.

Volgens Coetzee is die Valke se standpunt dat hulle eers ’n lys met alternatiewe kandidate wil sien voordat daar ’n besluit oor Meyer geneem kan word.

Coetzee het gesê die proses het “te veel veranderlikes”.

“Daar is ’n aantal vrae wat gevra moet word. Is ons tevrede met Heyneke? Nee. Maar daarna raak die gesprek te rugby-tegnies,” het Coetzee gesê.

“Dan raak dit ’n debat. Ouens wat hou van hardlooprugby wil hom pos, terwyl daar weer ander ouens is wat ’n meer fisieke benadering volg.”

Volgens Coetzee moet daar ook besluit word of dit Meyer self of Meyer se span is wat gepos moet word.

“Dis ’n baie moeilike besluit, die meer emosionele ouens sal wil hê hy moet gly. As ons voor die tyd ’n lys kandidate kan kry, sal ons makliker op ’n mandaat kan besluit.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.