Die Pukke het Maandagaand in Johannesburg gewys hulle het geen strooijonker-babelas nadat hulle verlede jaar in die Varsitybeker-eindstryd deur Maties afgeransel is nie.

Shane van Rooyen, die Pukke se heelagter, was een van sy span se uitblinkers in hul Varsitybeker-kragmeting met UJ Maandag in Johannesburg. Foto: Saspa
Trouens, op pad na hul sege van 21-8 oor die Universiteit van Johannesburg (UJ), het ’n mens die gevoel gekry dat ervaring die studente van Potchefstroom se grootste bondgenoot in dié jaar se reeks gaan wees.
Dié wedstryd is met ’n rapsie meer as tien minute weens donderweer kortgeknip.
Voorseisoen-spinnerakke was volop en ’n paar belowende bewegings aan albei kante het op dadels uitgeloop, maar dit was die Pukke se koelkoppe en fisieke oorheersing wat dié wedstryd vir hulle beklink het.
In die skrums, op die verdediging en by die afbreekpunte het die Pukke die tuisspan platgevee, veral aan die begin van die wedstryd. Die besoekers het binne 12 minute ’n voorsprong van 14-0 opgebou en dit het so gebly tot rustyd.
Ná die omdraaislag wou dit voorkom of die jong UJ-span se senuwees bedaar het. Hulle het begin om hul eie wedstrydplan te probeer afdruk en die telling ná volgehoue druk tot 8-14 laat krimp.
Hierna het die Pukke se ervaring ingeskop. Met ou hande soos die losskakel, Schalk Hugo, aan die spits, het hulle kalm gebly en hergroepeer.
Die Pukke het ná die tuisspan se eerste drie teruggeslaan met ’n drie van hul eie en daarna was die neusie verby vir UJ.
Die Pukke se heelagter, Shane van Rooyen, was uitstekend en veral kwiksilwer op teenaanvalle, waar hy gereeld sy eerste en tweede direkte teenstanders geklop het.
Wian Conradie, Pukke se agtsteman, was net so indrukwekkend. Hy het ’n enorme fisieke teenwoordigheid.
Die kaptein en haker, Louis van der Westhuizen, wat die Pukke se eerste drie ná ’n indrukwekkende rolmaalbeweging gedruk het, was ook goed voorlangs. Ditto die oopkantflank, Gideon van der Merwe.
Vir UJ het die binnesenter, Cyprian Nkomo, ’n vonk in die agterlyn verskaf toe sy span dit nodig gehad het.
Die losskakel, Jeanluc Cilliers, het met tye met slim skoppies vorendag gekom.
* Puntemakers:
Pukke 21 (14): Drieë: Louis van der Westhuizen, Pienaar van Niekerk, Lungelo Gosa. Doelskoppe: Schalk Hugo (3).
UJ 8 (0): Drie: Cyprian Nkomo. Strafdoel: Jeanluc Cilliers.