Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Saru: ‘Politici, amptenare die rassiste’
Mark Alexander wens Tendai Mtawarira onlangs geluk met sy 100ste toets vir die Springbokke. Foto: Gallo Images

Dikwels is eerder politici en administrateurs rasbehep en rassisties as wat die mense op voetsoolvlak is.

Só het Mark Alexander, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se president, Dinsdag in ’n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor sport en ontspanning gesê.

Dit was in reaksie op die vraag deur Mncedisi Filtane, LP van die UDM, of die veelrassigheid in die Springbok-span sy prestasievlak verswak of verbeter het.

Alexander het gesê hy kan nie die vraag beantwoord nie omdat Saru ’n nie-rassige organisasie is.

Debatte oor transformasie binne rugby en Siya Kolisi se aanwysing as die Springbokke se eerste swart toetskaptein het Filtane se vraag voorafgegaan.

Saru moes aan die komitee verslag doen oor verskeie aspekte van sy bedrywighede, met die LP’s wat grotendeels in transformasie en die ontwikkeling van die spel in landelike gebiede belanggestel het.

Darren Bergman, DA-LP, het in die vraag-en-antwoord-sessie gesê ondersteuners in die stadions “is te wit” en dat dit onvolhoubaar is.

Daar is ’n korrelasie tussen Saru se benarde finansiële posisie en die gebrek aan transformasie onder Springbok-ondersteuners.
Darren Bergman

“Daar is ’n korrelasie tussen Saru se benarde finansiële posisie en die gebrek aan transformasie onder Springbok-ondersteuners,” het Bergman gesê.

“As jy na enige foto van die ondersteuners in ’n stadion kyk, sonder die spelers en bestuur, dan sien jy die probleem met transformasie.”

Beverley Abrahams van die ANC wou ook weet waarom Pieter-Steph du Toit die Springbokke se 60ste kaptein was en Siya Kolisi die 61ste kaptein, aangesien Kolisi as die kaptein vir die tuistoetse teen Engeland aangewys is.

Pieter-Steph du Toit / Foto: Gallo Images

Alexander het aan haar verduidelik dat Du Toit kaptein was van ’n toerspan wat in Washington teen Wallis gespeel het, terwyl die eerste toets teen Engeland ’n week later eers in Johannesburg beslis is.

Dit sou dus nie in die beste belang van die Springbokke wees om Kolisi in ’n kort tydperk vir albei toetse oor talle tydsones heen en weer te laat vlieg nie.

Hierna het Filtane Alexander gevra of veelrassigheid die Bokke se vertonings verbeter, al dan nie.

“Ek het ’n video op my foon wat tydens een van Saru se onlangse jeugrugbyweke geneem is, waar talle jong seuns uit alle agtergronde saamkuier en saamsing,” het Alexander gesê.

“Dit vertel die storie dat Suid-Afrika al aanbeweeg het. Onder hierdie seuns was daar geen rassisme nie. Ons (met verwysing na die administrateurs en politici) is die rassiste. Ons sit met bagasie. Die jongelinge het nie bagasie nie.”

Die probleem is by die ouers, ouens soos ons, wat nog bagasie dra. Ons sien partykeer dinge wat ons nie moet sien nie.
Mark Alexander

Volgens Alexander is daar ook geen rassisme onder rugbyspelers in spanverband nie.

“Die probleem is nie daar nie. Die probleem is by die ouers, ouens soos ons, wat nog bagasie dra. Ons sien partykeer dinge wat ons nie moet sien nie. Die probleem begin by ons.”

Meer oor:  Mark Alexander  |  Siya Kolisi  |  Kaapstad  |  Curriebeker  |  Saru  |  Springbokke  |  Bokke  |  Transformasie  |  Toetsrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.