Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Klein Kolbe inspireer Senatla

Hy’s ’n bietjie groter as Cheslin Kolbe, maar beslis meer buksie as bielie. Daarom put Seabelo Senatla baie inspirasie uit sy voormalige Blitsbok-spanmaat se deurbraak op toetsvlak.

Seabelo Senatla wil vanjaar vir die Stormers uitstyg in die Superrugby-reeks. Foto : Gallo Images

“Wanneer jy dít sien, besef jy dat – ongeag wat mense sê – jy bo kan uitkom danksy jou talent. Dit maak nie saak hoe groot of klein jy is nie,” sê Senatla.

“Eintlik het ek my nooit regtig met daardie dinge bemoei nie. Solank as wat ek sterk en vinnig voel, en my werk op die veld kan doen, maak dit nie saak nie. Cheslin verdien lankal erkenning. Hy’s een van die talentvolste spelers wat ek ken en al as spanmaat gehad het.”

Kolbe, wat vir die Franse klub Toulouse skitter, het nou sewe toetse op sy kerfstok nadat hy in September teen Australië in Brisbane sy buiging vir die Bokke gemaak het.

Daar is geen twyfel dat Senatla die potensiaal het om ook bo uit te kom nie. Hy het wêreldwyd erkenning gekry as ’n uitsonderlik talentvolle sewesspeler, maar moet ná ’n frustrerende tyd op die krukkelys van voor begin om sy stempel in die vyftienman-kode af te druk.

Ek bid vir ’n goeie jaar, maar meer belangrik as dít werk ek daarvoor.
Seabelo Senatla

Vir eers is toetsrugby nog ver op sy horison, want Senatla voer ’n opdraande stryd om bloot die Stormers se span in vanjaar se Superrugby-reeks te haal. Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, kan kies uit Senatla, Sergeal Petersen, SP Marais, Dillyn Leyds, JJ Engelbrecht en Craig Barry vir sy vleuels.

“Dis ongelooflik om daardie soort mededinging te hê. Dit lig die standaarde in die groep, As jy op die dag van stryk is, is daar ’n ander speler met ewe veel talent om jou plek te neem. Ons raak almal in die proses beter spelers,” sê Senatla.

Hy hoop vanjaar kan sy groot deurbraak op Superrugby-vlak wees nadat hy nog nie momentum op daardie vlak kon kry nie.

“Ek bid vir ’n goeie jaar, maar meer belangrik as dít werk ek daarvoor. Ek plaas ook voor elke wedstryd druk op myself om uit te blink. Ek glo ek het die vaardighede, so voel asof ek myself in die steek gelaat het wanneer ek dit nie regkry nie,” sê Senatla.

Fleck maak eers Donderdag sy span bekend vir Sondag se vriendskaplike wedstryd teen die Bulle in die Kaapstad-stadion, maar die verwagting is dat Senatla in aksie sal wees.

Meer oor:  Cheslin Kolbe  |  Seabelo Senatla  |  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.