Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers klop hulself in Auckland

SP Marais se verbroude strafdoel laat in die wedstryd het die verhaal vertel: Die Stormers het elke geleentheid gehad, maar deur hul eie toedoen Saterdag se Superrugby-wedstryd op Edenpark teen die Blues met 9-24 verloor.

Die 36-jarige All Black-senter Ma’a Nonu was kookwater in die Blues se middelveld. Foto: Getty Images

Kort voor daardie verbroude skop het die Blues se regtervleuel, Tanielu Tele’a, die trekpas gekry nadat hy vir Dillyn Leyds in die lug gespeel het. Dit was toe 17-9 vir die Blues, maar met 10 minute oor en ’n speler beter daaraan toe, was ’n sege binne die Stormers se bereik.

Teen die tyd wat almal egter ophou wonder het oor hoe Marais daardie skop kon skeeftrek, was die All Black-vleuel Rieko Ioane agter die Stormers se doellyn en daar vir die Kapenaars skielik niks meer om voor te speel nie.

Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, sal waarskynlik na die statistieke van balbesit en veldgebied verwys as bewys dat sy taktiek in die kol was.

Maar was dit regtig?

Die Stormers het fase ná fase gespeel sonder om die indruk te wek dat hulle vaardig genoeg is om deur die Blues se verdediging te breek.

In die proses het die Kapenaars hulself pootuit gespeel.

Die Stormers se sterkpunt is hul voorspelers, so waarom weg van hulle speel?

Waarom nie geleenthede op rolmaalbewegings gebruik nie?

Jaco Coetzee was onder die Stormers se uitblinkers. Foto: Getty Images

Die Blues is natuurlik die soort span wat net 30% van die balbesit nodig het om ’n teenstander planke toe te stuur.

Tele’a se drie in die eerste hefte het weereens gewys hoe die Blues in ’n oogwink kan toeslaan. Hulle was met ’n halfuur verstreke met 0-6 agter, maar al wat dit nodig gehad het was vir Rieko Ioane om ’n bres te slaan en ’n man aan die buitekant weg te stuur. En siedaar – 7-6.

Met rustyd was dit 10-6 vir die Blues, maar die Stormers se skouers het allermins gehang. Inteendeel, die Kapenaars het onmiddellik ná die omdraaislag weereens met mening ingeklim met die bal in die hand.

Maar net as ’n mens gedink het daar kom ’n ding, is dit deur ’n fout ongedaan gemaak. Selfs Pieter-Steph du Toit het ongedwonge hanteerfoute gemaak.

Ondanks al die Stormers se aanvallende spel was hulle in die 62ste minuut weer onder hul eie pale. Hierdie keer het Otere Black afgerond ná ’n puik aangee in kontak deur Sonny Bill Williams.

Die oorsprong van daardie drie was egter in ’n hanteerfout wat vir die Blues ’n skrum gegee het om van aan te val.

En daarin lê die verskil: Jy hoef die Kiwi’s nie twee keer te nooi om ’n gulde geleentheid te benut nie.

Puntemakers:

Blues 24 (10): Drieë: Tanielu Tele’a, Otere Black, Rieko Ioane. Doelskoppe: Black (3). Strafdoel: Black.

Stormers 9 (6): Strafdoele: Jean-Luc du Plessis (3).

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Blues  |  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.