Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Swys: Leeus se jonges gaan teiken wees

Spanne gaan daarop uit wees om die Leeus vanjaar voorlangs te boelie in die Superrugby-reeks.

Só sê dié span se afrigter, Swys de Bruin.

Swys de Bruin, die Leeus se afrigter. Foto: Gallo Images

Al het 18 van die 38 spelers in die Leeus se groep geen ervaring van Superrugby nie, skrik dit De Bruin nie af nie.

“Ons gaan hierdie seisoen baie staatmaak op van die jong spelers in ons groep, maar ek is nie bang om die jonges ’n kans te gee nie. Daar is baie talentvolle spelers wat net wag vir daardie kans om te wys wat in hulle steek,” sê hy.

De Bruin sê hy gaan ook nie vanjaar onnodige druk op sy spelers plaas deur daarop te hamer dat hulle hierdie die jaar moet maak waarin die Supertrofee ná drie kere as naaswenner verower moet word nie.

“Ons gaan net aangaan met dít wat ons spel kenmerk. Ons wil nog steeds drieë druk en ons ondersteuners vermaak met ons avontuurlustige spel.

“Ek wen eerder ’n wedstryd met 50-40 as wat ek dit met 10-9 wen,” sê hy in antwoord op die vraag wat hy gaan doen met die verdediging, wat verlede seisoen die groot probleem was.

Die verlies van staatmakers in die agttal soos Franco Mostert, Jaco Kriel, Ruan Dreyer en Jacques van Rooyen is gewis ’n terugslag vir die Leeus voorlangs en dit is hoekom hy glo spanne sal dit as ’n kwesplek beskou en ’n teiken van hul agttal maak.

“Agterlangs het ons eintlik net vir Rohan Janse van Rensburg verloor en het ons nog ’n baie goeie agterlyn met baie ervaring, maar ook jong outjies soos Wandisile Simelane, Manni Rass, Gianni Lombard en Tyrone Green wat deurkom. Dit gaan egter belangrik wees dat hulle die bal kry.”

Die Haaie-slot Stephan Lewies het as leenspeler by die Leeus ingeval en het vandeesweek die eerste keer saam met die span geoefen.

“Ek ken Stephan van sy junior dae by die Haaie toe ek ook nog daar was en hy is ’n uitstekende lynstaanman en vang die bal goed uit die lug uit. Hy het ander vaardighede as Franco (Mostert),” sê De Bruyn.

Hy het ook gepraat oor die vaskopstut Carlu Sadie, wat hulle in die Kaap gaan leen het.

“Gebou soos ’n yskas”: Carlu Sadie, die stut wat die Leeus by die Stormers leen. Foto: Gallo Images

“Hy was so derde of vierde in die ry by die Stormers en ek geniet dit om sulke ouens te gaan haal, wat by hul eie span agter in die ry staan. As jy die regte knoppies met hulle druk, kry jy die beste uit hulle uit. Carlo is gebou soos ’n yskas en ek wil graag sien wat hy kan doen,” sê De Bruyn.

Om vanjaar oorsee te gaan vir hul eerste wedstryd en daar in Buenos Aires teen die Jaguares iets te moet gaan doen wat hulle nog nooit kon regkry nie, sê De Bruyn dit is ’n vooruitsig wat hom opgewonde maak.

“Die Argentyne het verlede jaar baie gespeel as nasionale span ook en ek voel die beste tyd om hulle te pak is nou so vroeg in die seisoen, terwyl hulle nog aan die herstel is,” sê hy.

De Bruyn sê die flank Cyle Brink sal in Februarie weer beskikbaar wees ná ’n besering verlede jaar sy seisoen kortgeknip het, terwyl die vaskopstut Johannes Jonker ook eers in Maart oorweeg sal kan word.

Meer oor:  Swys De Bruin  |  Leeus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.