Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Affies gee blits nuwe woema in atletiek

Met meer as 14 byeenkomsrekords en die nieamptelike titel van Suid-Afrika se voorste o.17-naelloper is daar met goeie reg groot opgewondenheid oor Eckhart Potgieter. Alles het egter nie altyd voor die wind vir dié blits van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) verloop nie.

Dié 16-jarige laat sy teenstanders vanjaar les opsê en is onlangs by die Noordvaal se Goue Interhoër-atletiekbyeenkoms, wat by die Ruimsig-stadion gehou is, as die beste senior seunsatleet gekroon met Affies wat ook die seunsafdeling gewen het.

Hier het hy die 100 m vir o.17’s gewen in ’n verstommende tyd van 10.33 sekondes. Sodoende het hy die vorige rekord (10.68) behoorlik nek omgedraai.

Eckhart Potgieter op pad na sy wentyd van 20.97 sekondes in die 200 m by die Noordvaal se Goue Interhoër. Foto: Marius Nortjé

Hy het daarna in die 200 ook die vorige rekord verpletter toe hy die wenstreep in 20.97 sekondes oorgesteek het, meer as ’n halwe sekonde vinniger as die ou rekord (21.58).

Net so het hy die o.17’s se 4x100-aflosspan van Affies tot nóg ’n nuwe rekord help voer toe hulle in 41.47 gewen het om die vorige beste van 42.09 te oortref.

En hoewel die windlesings hom ietwat goedgunstig was, heers daar geen twyfel oor sy vermoëns nie.

Dít nadat hy eens gewonder het of hy nog enigsins spykerskoene wil aantrek.

Eckhart het in 2015, nog in KwaZulu-Natal se kleure, ’n sesde plek behaal in die 100 by die nasionale laerskole-atletiekkampioenskap in 12.23 en dieselfde uitslag in die 200 geëwenaar in 25.29.

“Ek het op hoërskool in gr. 8 en gr. 9 presies dieselfde tye as op laerskool gehardloop,” sê hy.

“My atletiek het agteruitgegaan en ek was nie meer lus om te oefen nie. Ek wou nie meer deelneem nie en het sodoende nie verder ontwikkel as atleet nie.”

Eckhart het aan die begin van 2018 die Hoërskool Pionier in Vryheid verlaat om na Affies te skuif in ’n poging om lewe in sy atletiekdroom te blaas.

“Ek het Affies toe geskuif en my nuwe afrigter, Riana Raath, het die wêreld se verskil in my lewe gemaak,” sê hy.

“Ek het weer begin oefen en daagliks tyd op die atletiekbaan deurgebring.”

In 2018 het hy toe tweede geëindig by die skool se interhuisbyeenkoms en hoewel hy net aan die aflos by die interhoër deelgeneem het, het hy in geen stadium ophou oefen nie. Hy het sodoende vanjaar ’n eerste plek by die interhuisbyeenkoms behaal.

“Affies was sover nog net goed vir my en het die skuif betreklik maklik gemaak.”

Sy kompetisie binne die skool alleen is straf met sy o.17-spanmaat Bjorn van Wyk, wat self al ’n 10.70 in die 100 gehardloop het.

“Ek en Bjorn is vriende met ’n baie goeie verstandhouding. Ons druk mekaar altyd en stel altyd belang in wat mekaar se tye was,” sê Eckhart.

Die skool het vir Eckhart, wat ook ’n kranige rugbyspeler is, aangemoedig om sy atletiekseisoen voort te sit en die rugby vir eers op die agtergrond te skuif.

Dié blits is nou opgewonde om te sien wat hy nog in 2019 op die atletiekbaan kan vermag.

Meer oor:  Skoleatletiek  |  Affies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.