Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Osaka seëvier ná trane in badkamer

Toe Naomi Osaka verlede September in die eindstryd van die Amerikaanse Ope tussendeur die drama van Serena Williams se histerie en ’n vyandige skare staande gebly het om haar eerste Grand Slam-titel te wen, het ’n mens vermoed jy aanskou die geboorte van ’n nuwe ster.

Naomi Osaka
Naomi Osaka vier haar oorwinning in die eindstryd van die Australiese Ope in Melbourne.

Toe sy gister in Melbourne die histeriese stemme in haar eie kop stil speel om haar tweede Slam te verower, was daar geen twyfel nie dat die wêreld getuie was van die geboorte van ’n superster.

Die 21-jarige Osaka het gister gewys sy is die hede en die toekoms van vrouetennis, toe sy ’n uitstekende eindstryd teen die vegter Petra Kvitova gewen het om as Australiese Ope-kampioen gekroon te word.

Die wentelling van 7-6 (7/2), 5-7, 6-4 kon eers ná 2 uur en 27 minute in die geskiedenisboeke opgeteken word, maar is nie werklik ’n akkurate weerspieëling van die wedstryd nie. Osaka het Kvitova veel meer probleme besorg as andersom – in ’n stadium moes die Tsjeg selfs haar afslaanstyl verander omdat Osaka haar oorspronklike templaat so maklik gelees het – en die jong Japanner is net deur haar eie senuwees weerhou van ’n skoonstel-sege.

Dis jammer dat bogenoemde sin dit laat klink asof Kvitova bloot ’n lam ter slagting was. Die 28-jarige speler het darem al te veel in haar lewe oorkom om sonder ’n verbete stryd die handdoek in te gooi, en onder die 33 wenhoue wat sy afgevuur het, was ’n paar asemrowendes.

Dít was op die dag eenvoudig nie genoeg nie. Osaka het net te veel magiese voorarmhoue, te veel onhanteerbare afslane en te veel waagmoed na die partytjie gebring.

Naomi Osaka soen die wennerstrofee. Foto: Getty Images
Naomi Osaka

Die Tsjeg het die wedstryd we­liswaar rustiger begin as Osaka. Sy het die eerste kans gehad om deur te breek (drie kanse, om die waarheid te sê, op 0-40 in die sewende pot). Toe ál daardie kanse verdwyn, het die wedstryd heeltemal verander. Aangevuur deur die wete dat sy haarself uit enige teenspoed kan speel, het die Japanse jongeling die tempo en gang van sake begin bepaal.

Sy het die valbylpot van die eerste stel op ’n drafstap gewen en in die tweede stel knaend onder Kvitova se vel ingeklim vir ’n voorsprong van 5-3 ná agt potte.

Toe sy die eerste drie punte van die negende pot op Kvitova se afslaan wen, het dit gevoel of die stryd gewonne was. Sy het drie wedstrydpunte gehad, en skynbaar oorgeloop van selfvertroue. Maar die oomblik het toe net te groot vir Osaka geraak. Skielik kon sy nie die nodige krag agter haar houe sit om Kvitova onder druk te plaas nie. Sy het ál 18 van die volgende 22 punte verloor (onder meer ál die punte van die 12de pot, op haar eie afslaan) om die stel in te boet, en die baan betraand te verlaat vir ’n badkamer-besoek.

Australiese Ope

Dit is natuurlik oomblikke soos dié wat die kampioene van die res skei. Met al die momentum skielik agter Kvitova, kon die Japanner maklik net daar haar greep op die wedstryd verloor het. Dít sou fataal wees – Kvitova het voor gister ál agt haar laaste eindstryde, en ál tien haar laaste wedstryde in Australië gewen en sy sê nie nee dankie vir ’n oop deur nie.

Maar Osaka is ook nie die soort speler wat sommer deure laat oopstaan nie.

Met haar terugkeer na die baan het sy haarself reggeruk en al in die derde pot van die derde stel deurgebreek. Daarna het sy nie weer teruggekyk nie.

Danksy dié triomf sal Osaka Maandag die eerste Asiese vrou tot nog word wat die eerste posisie op vrouetennis se wêreldranglys inneem – welverdiend.

Vir Kvitova was dit duidelik ’n pynlike nederlaag, maar haar tyd in Australië was sowel letterlik as figuurlik ’n tyd van sonskyn. Sy het die Sydney-titel twee weke gelede gewen en die Aussie-eindstryd met ’n rits skittervertonings gehaal.

Duidelik is daar weer skop in haar loopbaan.

Meer oor:  Australiese Ope  |  Naomi Osaka  |  Petra Kvitova  |  Aussie Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.