Wat is nou mooier as ’n spierwit varkoor in die winter – hetsy in jou tuin, in ’n pot of in die veld?

Dié inheemse blom het ’n stylvolle bekoring van sy eie. Varkore kom feitlik oral in Suid-Afrika voor en is ’n algemene gesig in die Wesen Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Noordwes-provinsie.

Afhangend van die omgewing en reënval, is varkore immergroen of bladwisselend. In winterreënstreke is varkore rustend gedurende die somermaande wanneer die reën min is, en in die somerreënstreke rus dié plant weer in die winter. Wanneer hulle konstant water kry, is varkore immergroen.

Die varkoor is ’n baie veelsydige en geharde plant. Dit groei heeltemal gelukkig in die see se soutsproei aan die kus, en aard ook goed op hoogliggende dele met koue winters en mistige bergtoestande. Varkore kan matige ryp hanteer. Hoewel die plant (ook bekend as aronskelk) in Engels ’n lelie (“arum lily”) genoem word, is varkore nie deel van die leliefamilie nie. Die wit van die blomskede word wel met die reinheid van ’n lelie geassosieer; geen wonder dat dié ouwêreldse blom al menige bruid se ruiker versier het nie.

Kweek varkore só

Varkore groei goed in die son as dit naby water staan, maar ook in halfskaduwee as daar nie permanente water naby is nie. Hoewel dit in volskaduwee nie soveel sal blom nie, maak sy blinkgroen en soms gespikkelde loof nog steeds ’n mooi vertoning onder bome.

Die plante blom op hul mooiste van Augustus tot Januarie. Plant jou varkore naby ’n waterfokuspunt in die tuin in ryk, goedgedreineerde grond as jy wil hê dit moet op hul beste lyk. Dis maklik om varkore aan die groei te kry. En om dit te vermeerder is ook kinderspeletjies. Verdeel die risoom wanneer die plant rustend is en plant dit weer sowat 5 cm diep. In die groeiseisoen kan jy die plant met ’n graaf verdeel. Dit groei ook van saad – saai dit in die lente.

Varkore is uitstekende snyblomme wat lank in water hou. Onthou net dat dit ’n beskermde blom is en jy mag dit nie sommer net langs die pad of in die veld pluk nie. En as dit op ’n plaas groei, kry eers toestemming by die eienaar voor jy van die blomme pluk.

Hou vir jou slim

Die groot (gewoonlik wit) kelk wat ons die vark-“blom” noem, is eintlik ’n skutblaar rondom die goudgeel bloeikolf wat die eintlike blomme (manlikes bo en vroulikes onder) dra.

Kan jy glo?

Daar word vertel dat Simon van der Stel, wat van 1679 tot 1699 kommandeur en later goewerneur aan die Kaap was, varkore as ’n interessantheid na Europa gestuur het. Maar dit blyk dat die blom reeds jare vroeër al in Europa bekend was – trouens, dit pryk op ’n illustrasie van die koninklike tuine in Parys met die datum 1664 daarop!

IMGP0806