In ’n seetuin met ’n uitsig op die Kogelberge aan die een kant en Bettysbaai se branders aan die ander kant – dis waar Jill Atwell in die grond woel.

[divider]

Stap vir stap na ’n suksesvolle kustuin

’n Suksesvolle kustuin moet in verskillende stappe aangelê word. Dis altyd wys om jouhele tuin eers te beplan en dan van ’n kant af daaraan te werk.

Stap 1 Begin deur arm, sanderige en droë grond te verryk met goed verrotte kompos. Sommige kustuine word in die winter baie nat en kompos sal ook help om dit te verbeter.

Stap 2 Plant eerste geharde grondbedekkers, eenjarige plante en snelgroeiende struike om die los en sanderige grond in toom te hou. Jy kan die grond ook toemaak met ’n deklaag van klippies of basstukke (sorg net dat dit stewig genoeg is en nie sommer sal wegwaai nie) of plavleiblokke, of deur inheemse buffelsgras te plant. (Sien plantlys vir voorbeelde van plante om te gebruik.)

Stap 3 Om die krag van die wind te verminder, is ’n vertikale windskerm nodig. Dit beteken nie ’n soliede muur nie – die skerm moet van die wind kan deurlaat. Hoewel skadunet ’n goeie tydelike oplossing is, sal ’n stewige struktuur van houtpale of -latte die ding doen. Of plant ’n digte heg van vinnig groeiende struike en bome: Plant laer groeiende struike aan die windkant en hoër groeiende struike daaragter; daarna kan jy geharde bome plant. Dis ook die moeite werd om geharde jaarplante tussen jou struike en bome te plant terwyl hulle nog klein is. Dink maar aan bokbaaivygies wat dit mooi kleurvol sal laat lyk.

Stap 4 Sodra die windskerm goed gevestig is, kan jy kleiner en minder geharde beddingplante aan die beskermde kant van die windskerm plant. Sodra die bome genoeg skaduwee gee, kan jy ook skaduplante soos Plectranthus gebruik.

Maak seker al die plante wat jy kies is geskik vir jou grondtipe en groei natuurlik in kusgebiede. Hoe meer inheemse plante van die omgewing op jou lysie is, hoe beter. En as jy dan verras word met diere soos ystervarke of skilpaaie op jou werf, beskou dit as ’n kompliment dat hulle jou tuin as tuiste of kuierplek gekies het! Só kan jy seker wees jy het die natuurlike omgewing goed nagemaak.

Kusvaalbos (Brachylaena discolor)

[divider]

Rooskoringblommetjie (Scabiosa incisa)

[divider]

Strandmalva (Pelargonium betulinum)

[divider]

Rankbietou (Dimorphotheca fruticosa)

[divider]

Donkievye (Carpobrotus edulis)

[divider]

Blousambreeltjie (Felicia amelloides)

[divider]

Kus-ghwarrie (Euclea racemosa)

[divider]

Kusgousblom (Arctotis stoechadifolia)

[divider]

Plantlys

Eenjariges (vir stap 2)

gousblom (Arctotis hirsuta)

vetkousie (Carpanthea pomeridiana)

bokbaaivygie (Dorotheanthus bellidiformis)

hongerblom (Senecio arenarius)

Namakwalandse madeliefie (Dimorphoteca sinuata)

Witbotterblom (Dimorphoteca pluvialis)

Skilpadsambreeltjie (Felicia dubia)

Grondbedekkers (vir stap 2)

Donkievye (Carpobrotus edulis)

Suurvy (Carpobrotus acinaciformis)

Strandbotterblom (Gazania rigens var.

Rigens of var. leucolaena)

Kusgousblom (Arctotis stoechadifolia)

Rankbietou (Dimorphotheca fruticosa)

Vaalbietou (Chrysanthemoides incana)

Soutvygie (Disphyma crassifolium)

Kusmalva (Pelargonium capitatum)

Anemoonvygie (Jordaaniella anemoniflorus)

Skilpadvygie (Ruschia macowanii)

Bome en struike as windskerm (vir stap 3)

Kusvaalbos (Brachylaena discolor)

Duinekraaibessie (Searsia crenata)

Bietou (Chrysanthemoides monilifera)

Kuskanferbos (Tarchonanthus littoralis)

Kus-ghwarrie (Euclea racemosa)

Witmelkhout (Sideroxylon inerme)

Minder geharde beddingplante (vir stap 4)

Bruinsalie (Salvia africana-lutea)

Strandsalie (Salvia lanceolata)

Bitterbessie (Chironia baccifera)

Blousambreeltjie (Felicia amelloides)

Galjoenblom (Lobelia valida)

Strandmalva (Pelargonium betulinum)

Rooskoringblommetjie (Scabiosa incisa)

Kapokbossie (Eriocephalus africanus)

Algemene riglyne vir kustuine

Baie van ons droom van ’nmooi tuin by die see, maargee sommer moed op as dieseewind begin waai.

In kustuine is die grootste struikelblokke seesproei, sand, soutbelaaide wind en baiemaal styl hellings. Dis ook belangrik om die grond te leer ken: meestal sanderige, alkaliese grond (as gevolg van die skulpinhoud) wat baie arm is. As jou tuin verder van die see af en teen ’n berghang is, kan die grond daar suur wees.

Die keuse van jou plante is dus belangrik. Nie net gaan dit die karakter van jou tuin bepaal nie, maar ook hoe suksesvol jy gaan wees. Dit help nie om net te plant wat vir jou mooi is nie, jy sal plante moet kies wat by die plaaslike omstandighede in jou tuin en die omgewing pas.

Wat interessant is, is dat plante wat natuurlik naby die see groei gewoonlik goed aangepas is by die soutbelaaide wind en die alkaliese grond. Kyk wat in die omgewing groei en moenie bestaande plante uithaal nie – gebruik dit tot jou voordeel en vul die bestaande plante aan met nuwes.

Die beste tyd om te plant is in die herfs, winter en lente sodat die plante hulself kan vestig voor die warm somerweer. Gooi nuwe plante gereeld nat en werk baie kompos in. Met ’n goeie begin sal jou seetuin gou selfonderhoudend wees.

Watsonia pyramidata 'Ardernei'

[divider]