Om ’n ma te wees, is die edelste beroep wat enige vrou kan volg, want jy gee jouself – jou álles – om ’n kind joune te noem.

’n Kind wat deel van jou lyf was, bly vir ewig jonk in jou gedagtes. In Rome staan ons voor die Pietá in die St. Pietersbasilika en verwonder ons aan dié beeldhouwerk waarin Michelangelo Jesus ná sy kruisiging op sy moeder se skoot in marmer verewig het – die gesigte en lywe van Jesus en Maria ewe oud. ’n Medereisiger wil by ons gids weet:

Hoekom? Die gids antwoord dat ’n kind in die oë van ’n moeder ewig kind bly, maak nie saak hoe oud die mens is nie. Die kyker sien die volwasse man, maar wat Maria sien, is die baba Jesus.

Noudat ek ouer raak, verstaan ek meer van ma-wees. Ek kyk na al die moeders om my en word stil oor hoe hulle hul kinders beskerm asof dié steeds klein is.

Want ’n ma voed haar kinders na liggaam én na siel vir solank as sy leef. Van vroeg af seën sy hulle met kos. Systaan voor die stoof en haar oë word stil terwyl sy deeg afknie, die pot se deksel lig en die geure inadem. Dag na dag bly haar gedagtes by haar kinders, leef sy hul lewe, en vorm sy in haar gedagtes die lewens wat hulle eendag as grootmense gaan leef. ’n Ma wil altyd alles beter hê vir haar kinders as toe sy self kind was. Sy spoor hulle aan, bederf hulle, kyk blindelings verby hul foute – want sy is ma. Sy bly onbaatsugtig as dit by haar kinders kom.

My grootse ode gaan aan al die tweede mammas van die kinders van die wêreld waarin ons woon. Dié wat as huishulp en nanna omsien na ander se kinders en hulle soos hul eie grootmaak. Wat hulle voed, stories vertel, hulle medisyne gee as die koors rooi op hul wange uitslaan. Hulle sag aan die slaap sing as die vaak kombers gooi oor die kinderogies. En daarna die pad huis toe neem en tuis haar eie kinders gaan versorg en die rol van moeder, trooster, skoonmaker, kok, onderwyser en anker ook daar vervul.

My ander ode gaan aan die enkelmoeders wat beide ma, pa, trooster, voeder, onderwyser, vriend – alles saam – vir hul kinders moet wees. Aan al die ma’s wat nie die luukse het om te kan kies of hulle beroepsvrou of ma gaan wees nie. Wat móét werk, nie vir ekstras soos ’n tweede motor, ’n swembad of ’n oorsese vakansie nie, maar vir ’n nuwe skoolhemp as haar liefkind die oue ontgroei het, vir ’n koeldrankgeldjie as hy saam met sy span op die buurdorp moet gaan speel, vir ’n gesonde ontbyt voor die kleinspan bus toe stap.

Die kosbaarste geskenk wat ’n ma haar kind kan gee, is tyd – tyd vir speel, gesels, koekies bak, egte kos gee, hand aan hand stap, lepellê onder die duvet as die herfsdae teen die venster klop. En om jou kind, as die tyd kom, vlerke te gee om die lewe te gaan verower. Daarvoor sal jou kind jou ewig eer as moeder, ma en mentor.

In The Bridges of Madison County skryf Robert James Waller: “A woman gets two choices on earth. One is to live her own life, the other is to live the lives of her children.”

Hoe edel is dit nie om ’n ma te wees en jou eie lewe te gee vir dié uit jou lyf wat jy “my se eie kind” roep nie.