So ’n speelhuisie-bouery kan net vet pret wees – probeer dit gerus!

Projekgids

Harde werk 5/10

Vaardigheidsvlak 5/10

Tyd nodig Naweekprojek

Klaar grootte ± 1 800 mm (l) x 1 800 mm (b) x 1 800 mm (h)

Bou dit self teen ± R4 165 (laaghout R2 400; pale R240; sement, klip, sand R300; dennehout R350; skroewe, skarniere R120; lym R50; weerstrook R55; onderlaag en verf R650)

Projeknotas

• Ons het 2 440 x 1 220 x 18 mmbehandelde denne-laaghoutblaaie gebruik om die struktuur mee te bou.

• Ons het 44 x 22 mm-dennehout vir die vensterrame, deurkosyne en “stoep”-relings gebruik.

• Ons het 110 mm dik pale gebruik om die stelte waarop die huisie rus, te bou.

• Ons het ’n deur en hortjies gemaak uit die panele wat ons vir die vensteropeninge uitgesaag het.

• Ons het grys dakverf op die dak en die “stoep” gebruik, en wit op die buitemure.

ONTHOU Bedek al die houtoppervlakke om te keer dat dit krom trek of deur die weer beskadig word.

Inkopielys

• Agt 2 440 x 1 220 mmlaaghoutblaaie, gesaag in:

twee panele van 1 764 x 1 200 mm (voor- en agterpaneel)

twee van 1 300 x 1 050 mm (sye)

twee van 1 800 x 1 025 mm (dak)

twee van 1 800 x 900 mm (vloer)

• Vyf 1 800 mm-lengtes 96 x 32 mmbehandelde dennehout, gesaag in:

twee lengtes van 1 800 mm en

drie van 1 736 mm (vloerraam)

• Twaalf 1 800 mm-lengtes 44 x 22 mm-dennehout, in die volgende lengtes gesaag:

2 x 1 000 mm en 1 x 456 mm (deurkosyn)

4 x 400 mm en 8 x 356 mm (vensterrame)

2 x 1 800 mm en 5 x 356 mm (“stoep”-reling)

4 x 450 mm en 8 x 412 mm (trappies)

Gereedskap

• boor

• 5 mm-boorpunt, versinkboorpunt

• tekendriehoek

• figuursaag

• 10 mm-moersleutel

• verstekklamp

• potlood

• maatband

• verstekbak en handsaag

Plus

• waterdigte houtlym

• 16 mm-skroewe en 50 mmspaanderbordskroewe

• 100 mm-spoorskroewe

• T-skarniere

• rubber-weerstrook

• 60-grint-skuurpapier

• onderlaag en verf

• verfkwas of sponsroller

So maak jy

1 Merk die buitelyne van die vloerpaneel op die grond en grawe vier gate van 300 mm wyd en sowat 500 mm diep ongeveer 300 mm binne elke hoek. Saag die stelte in lengtes van 800 mm. Sit een in elke gat en vul die gate op met ’n betonmengsel.

2 Wag tot die beton droog en hard is, en sit die 96 x 32 mm-planke aan die bokant van die pale vas as raamwerk vir die vloer. Sit ’n steunstuk in die middel by, boor gidsgate en skroef die planke met spoorskroewe aan die steltpale vas.

3 Posisioneer die twee 1 800 x 900 mmpanele op die raamwerk en skroef dit op die rande vas.

4 Merk die vensters en die deuropening in die sy- en voorpanele. Merk ook die dakprofiel op die voor- en agterpaneel; saag die openinge en profiel uit. Hou ’n agter- en sypaneel haaks met ’n verstekklamp en skroef dit by die hoeke op die basis vas.

5 Voltooi nou die huisie se raamwerk deur ook die ander twee muurpanele op dieselfde manier vas te sit. Let Wel Die 1 300 mm-lengtes pas oor die 1 764 mm-lengtes.

6 Sit die twee 1 800 x 1 025 mm-dakpanele op, wend waterdigte houtlym aan op die borande van die muurpanele en skroef vas.

7 Bou die relingraamwerk deur die vyf 356 mm-lengtes eweredig tussen die  twee 1 800 x 44 x 22 mm-lengtes vas te skroef. Skroef dit dan aan die voorkant van die vloerpaneel vas.

8 Maak die twee stelle trappies deur die vier treetjies teen ’n hoek tussen die trapsye vas te skroef, en skroef die trappe ook aan die stoeprand vas.

9 Gebruik die vier 400 mm- en agt 356 x 44 x 22 mm-lengtes vir die vensterrame. Maak eers die buiteraam en sit dan die kruisstukke binne-in; skroef die raam in die opening vas. Herhaal die nodige stappe vir die deurkosyn.

10 Saag die dele wat vir die vensteropeninge uitgesaag is in twee hortjies vir elkeen; sit die skarniere aan en skroef die hortjies aan die rame vas. Saag die deurpaneel kleiner om presies in die kosyn te pas, skroef skarniere aan en hang dit.

Gebruik 16 mm-skroewe om die rubber-weerstrook oor die nok vas te sit; dit sal keer dat water deursyfer waar die panele by mekaar aansluit.

Ons het ’n rand reg rondom die dak gesit, asook ’n oorhang bo die deur om te keer dat water daar inkom.

Skroef die reling stewig op sy plek aan die voorkant van die “stoep” vas.

Maak ’n mooi deurhandvatsel. Ons het ’n tak in die verlangde lengte gesaag, boute en ’n paar wassers as spasieerders aangesit en die handvatsel aan die deur vasgeskroef.

So maak jy kruisstukke vir vensters

1 Saag ’n 22 mm-gleuf in die middel van elke kruisstuk uit.

2 Pas die 400 mm-lengte oor die korter (356 mm-) lengte om die buiteraam te vorm, en sit dan die binneraam in.

3 Gebruik 50 mm-spaanderbordskroewe om die rame in die openinge vas te skroef. Skroef skarniere aan die hortjies en die deur.