Foto’s Francois Oberholster, Elza Cooper en Henrique Wilding | Stilering Marian van Wyk, Juané Scheepers en Amanda van Wyngaardt 

IDEE #1 Speel-speel mooi!

’n Tekstuurryke houtpaneel tref die oog bo die kaggel in Catherine Crawford se huis in Kaapstad. Die span by Svencraft het dit in opdrag van die vorige eienaar, die argitek Sean Mahoney, gemaak van irokohout in twee verskillende skakerings. Saam met die hout se grein skep die twee kleure ’n interessante visuele effek – amper soos ’n backgammon-bord! ’n Ronde spieël verskaf ekstra tekstuur.
Kussing van Skinny laMinx

IDEE #2 Palet-perfek

Die span by Dala Paints het gedroom van ’n treffende ingang by hul hoofkantoor in Killarney Gardens, Kaapstad. Toe gaan klop hulle aan by Hoity Toity Pallet Chic, wat met dié plan vorendag gekom het: Hulle het herwinde paletplanke in vrolike kleure geverf en op MDF-bord (pasgemaak vir die kosyn) geplak.
Stoel van Chair Crazy; mat en plantpot van MRP Home

IDEE #3 Eenvoud in ontwerp

Doreen de Waal was so beïndruk deur ’n houtkas wat sy by Weylandts raakgesien het dat sy dit vir een van haar selfsorgkothuise in Kaapstad gekoop het. Dit was oorspronklik ’n klerekas, maar Doreen het die yskas daarmee verbloem – dit pas perfek by die populierhout-werkblad en -sweefrakke daarbo. Doreen het die kas spesiaal laat aanpas volgens die yskas se grootte en die deure aan die buitekant van die yskasdeure laat heg met skarniere.
Kas van Weylandts; hanglamp van Builders Foto Greg Cox/ bureaux.co.za

IDEE #4 Selfs op die kombuisvloer

Toe Colette Nel in 2008 haar huis op Stellenbosch opknap, het sy die ou blokkiesvloer op die hele boonste verdieping, waar dié kombuisie is, laat optel om te restoureer vir hergebruik. Die teer waarmee dit in die 1930’s gelê is, is afgekrap en die blokkies is geskuur, gebeits en vernis. Colette het dit in ’n visgraat-patroon laat lê in pas met die Franse tema van die vertrek. Dis nie ’n tipiese keuse vir ’n kombuis nie, maar volgens haar het sy nog geen probleme daarmee gehad nie. “Dis baie duursaam en word maklik skoongehou met ’n klam, seperige mop.”

Wenk Verseël houtvloere in klam vertrekke met Dulux Woodgard Floorgard of Woodoc Water-Borne.

IDEE #5 Slim bekleding

Bryan en Celesté Smith het nie gehou van die oudmodiese kombuisteëls in hul Baaise huis nie. Bryan het toe besluit om die mure onderlangs te beklee met die planke van ou houtkratte. Die planke is met skroewe aan die muur vasgesit. Die boonste en onderste ry skroewe is slim weggesteek met wit randafwerkings van hout; die middelstes is net so gelos om in te pas by die kombuis se aardse tema. En as die kombuis ’n nuwe voorkoms moet kry, kan die Smiths dit maklik met ’n leksel verf doen!

IDEE #6 Blomme vir ewig

Carla Burger het dié lasergesnyde houtblomme op TV gesien. Sy was dol oor die idee en het dadelik haar eie van Purple Puppy vir haar huis in Oude Westhof, Kaapstad, bestel. Pleks van in ’n vaas pryk dit teen die muur bo ’n eikehoutrak – dit lyk kompleet of dit uit die hout groei.

Ek is mal oor die idee van houtblomme omdat dit vir ewig sal hou ... – Carla

IDEE #7 Ryk aan tekstuur

Werner en Mariaan Botha van Pretoria het nog altyd gehou van Oriented Strand Board, wat bestaan uit saamgeperste houtskaafsels en gom. Toe hulle dit nie plaaslik kon opspoor nie, het hulle dit ingevoer vir die kopstuk in hul slaapkamer. Omdat dit nie baie dik is nie (sowat 2 cm) het hulle dit aan ’n dennehoutplank vasgeplak voor dit aan die muur vasgesit is. Hulle het al so baie komplimente by vriende en familie gekry dat Werner en sy pa, Gerhard, intussen hul eie houtwerk-en-meubelsaak, Lumber & Foundry, op die been gebring het.

IDEE #8 Uit die boeke

Sumari Krige van La Grange Interiors moes ’n boekrak ontwerp vir ’n boekwurm se slaapkamer – ’n klein ruimte met hoë mure. Die rakke moes “dieselfde taal praat” as die res van dié stylvolle huis in Bantrybaai, maar moes ook prettig genoeg wees vir ’n kinderkamer. Sumari het pasgemaakte eikehoutbokse (grys gebeits om by die kopstuk te pas) in ’n lukrake manier bo die bed gerangskik; nog bokse kan maklik later bygevoeg word namate die boekery groei. Die kopstukke, ontwerp deur La Grange Interiors, spog met los oortreksels.

Hou jy van dié leer? Maak sommer self een! Tuis se selfdoenghoeroe, Deon de Goede, gee stap-vir-stap-aanwysings: 1 Koop 44 x 69 mm- geskaafde dennehoutpale en 30 mm-sporte. 2 Boor gate halfpad deur die dennehout en heg die sporte met Alcolin Wood Glue. Anders kan jy die gate regdeur boor sodat die sporte alkant uitsteek. 3 Saag die onderkant van die pale teen ’n hoek van 22,5° sodat die leer stewig staan wanneer dit teen die muur leun.

IDEE #9 Sagter dimensie

Die interieurontwerper en projekbestuurder Lei Lester het dié gastebadkamer van 6 m² vir ’n Kaapse kliënt ontwerp. Omdat dit vir gaste is, wou die huiseienaars iets hê wat effens afwyk van die kontemporêre dekor in die res van die huis. “Ek is dol oor die sagtheid wat hout verleen,” sê Lei. “Dit bring dadelik ’n ander dimensie in ’n kontemporêre ruimte. Ek dink nie daar is ’n vertrek waar jy nié hout kan inwerk nie.” Die houtbekleding agter die toilet was eers deel van die huis se oorspronklike vloere. Lei het ’n ruwe olienhoutplank saamgebring; haar klant het besluit dit was perfek vir die wasbak. Dis met ’n mariene vloerseëlaar behandel.

IDEE #10 ’n Lus vir die oog!

Gordon en Lucy Beckett wou graag die gastebadkamer in hul Irene-huis opknap. Dit was vreeslik oudmodies – tot hul absolute skok het dit selfs ’n volvloermat gehad!

Daar was reeds herwinde blokkiesvloere met ’n weefpatroon in die res van die huis, en toe hul vriend Braam Burger, eienaar van Gablor Woodworking, dié houtteëls met ’n treffende driedimensionele effek vir hulle wys, was dit net wat hulle wou hê. “Ons sou dié patroon ook in ander vertrekke wou inspan, maar dis ongelooflik tydrowend, toe beperk ons dit tot die kleinste vertrek,” sê Lucy. Hulle het afvalstukke patryshout en Zambezi teak vir die 3D-effek gekies, en kiaat vir die rand.

Braam het die teëls gemaak deur drie diamantvormige blokkies van verskillende skakerings aan mekaar te plak. Die Becketts het die teëls self gelê met Pekay W598, ’n waterbasisgom. “Daarna het ons die vloer geskuur en gepoets, en met drie lae Woodoc 25 Polyurethane Floor Sealer geseël,” verduidelik Lucy.

Ons vloer is ’n ware apploustrekker; die algemeenste reaksie is ‘dit kan interessant raak ná ’n paar glase wyn!’ – Lucy
KONTAKTE EN VERSKAFFERS
  • Builders 0860 284 533, builders.co.za
  • Chair Crazy 021 465 9991, chaircrazy.co.za
  • Gablor Woodworking 071 383 2306
  • Hoity Toity Pallet Chic 082 333 6933, hoitytoityfurniture.co.za
  • La Grange Interiors 021 447 3508, lagrangeinteriors.co.za
  • Lei Lester 083 567 8554, leilester.co.za
  • Lumber & Foundry lumberandfoundry.com
  • MRP Home 0800 212 535, mrphome.com
  • Purple Puppy 021 419 1962, purplepuppy.co.za
  • Skinny laMinx 021 424 6290, shop.skinnylaminx.com
  • Svencraft 021 447 0377
  • Weylandts 0860 103 400, weylandts.co.za