1. Smeulstofies is in verskillende groottes beskikbaar, en jy moet vooraf weet wat is die volume van die vertrek of vertrekke wat jy wil verhit. Werk dit so uit: vermenigvuldig die breedte van die vertrek met die lengte van die vertrek en die hoogte van jou plafon. Dit gee jou die volume in kubieke meter. Die verkoopsagent sal jou kan help met hoë groot joune moet wees (dit word in kilowatt gemeet).

2. Stofies word van gietyster of staal gemaak. Gietysterstofies het meestal ’n langer waarborg, maar dit wissel van verskaffer tot verskaffer; maak maar seker voor jy koop. Duurder modelle is soms beskikbaar met ’n opsionele emaljebedekking. Dit lyk mooi, maar is moeilik om te herstel.

3. Gietysterstofies raak baie warm. Hou daarom in gedagte hoe naby jou meubels aan die stofie gaan staan. ’n Lekker groot stofie gaan dalk die vertrek goed warm maak, maar dan is daar dalk nie genoeg plek vir jou rusbank oor nie!

4. Stofies uit China is meestal goedkoper as stofies uit Europa. As jy ’n Chinese stofie oorweeg, maak seker dit voldoen aan die standaarde van die Europese Unie (dikwels die geval as die ontwerp Europees is, maar die stofie in China vervaardig is).

5. Installeringskoste ewe veel as die stofie self kos. Hou dit maar in gedagte wanneer jy begin somme maak. Hoe hoër jou plafon (of dak as dit byvoorbeeld ’n dubbelverdiepinghuis is) hoe meer skoorsteenpyp het jy nodig – ’n duur item!

6. Die meeste skoorsteenpype is van vlekvrye staal, wat mettertyd ’n koperkleur kry vanweë die hitte. As jy nie daarvan hou nie, kan jy die pyp laat swart kleur.

7. Op houtvloere moet jy ’n hittebestande paneel onder jou stofie hê vir veiligheid. Dit kan van getemperde glas, graniet of staal wees. Laasgenoemde is die goedkoopste.

8. Sekere stofies het ’n konveksie-funksie – dis meestal duurder, maar maak die vertrek waarin dit staan, egaliger warm. ’n Gewone gietyster-stofie maak weer danksy uitstralingshitte warm; hoe nader jy aan die stofie is, hoe warmer sal dit dus wees.

9. Maak seker jou stofie het ’n los aspan (dit maak makliker skoon) en ’n handvatsel wat nie jou hand gaan brand nie. Party het los handvatsels – dis ’n veiligheidsmeganisme sodat kinders nie dalk die deurtjie oopmaak terwyl die vuur brand nie.

10. En onthou – met ’n klein stofie kan jy dalk sukkel om jou houtstompies in te pas, wat beteken jy moet hulle dalk eers deursaag. Dink maar wat die gemiddelde lengte van ’n houtstomp is, en maak seker jou kaggeltjie se deur is groot genoeg! Want wie is nou lus vir sukkel wanneer dit koud is.