Foto uit Tuis Januarie 2015.

Klassieke smal swart rame beklemtoon die kuns binne die raam, terwyl die (amper!) perfekte simmetrie ’n elegante fokuspunt in dié hoekie skep. Ons is dol oor die “onpaar” raam wat die oog tref!

Foto uit Tuis February 2017.

Spieëls is ’n wonderlike manier om lig by ’n vertrek in te bring, dit groter te laat voel en visuele interessantheid te skep, veral hier waar rame van wisselende vorms en groottes gebruik is.

Foto uit Tuis February 2014.

Het jy nie een groot kunswerk vir ’n fokuspunt op ’n muur nie? ’n Versameling kleiner werke kan dieselfde effek skep.

Foto uit Tuis Maart 2015.

Skep fokus teen ’n muur deur ’n groter, meer prominente kunswerk te omring met kleiner kunswerke.

Foto uit Tuis April 2015.

Soms trek die rame self die meeste aandag! Dié klein versameling in swierige rame, met ’n tekstuurryke blou muur, skep ’n lieflike fokuspunt.

Foto uit Tuis April 2016.

Gebruik rame van verskillende vorms, kleure en groottes om ’n wit muur lewe te gee. Bring 3D-elemente in vir ekstra tekstuur.

Foto uit Tuis Mei 2016.

Getinte foto’s in dieselfde vorm skep ’n kalm atmosfeer in dié eetkamer.

Foto uit Tuis Junie 2013.

Bypassende rame en ’n eenvormige uitleg is nommerpas vir ’n versameling prente met ’n tema.

Foto uit Tuis Julie 2015.

’n Versameling prente – veral een met wisselende groottes, teksture en kleure – help hoogte in ’n knap ruimte beklemtoon.

Foto uit Tuis Augustus 2013.

Daar is nie ’n “regte” vertrek waar kuns in jou huis moet hang nie! In dié vertrek met verskillende kleure en patrone werk onopsigtelike rame beter, want dit trek nie die aandag af van die kunswerke nie.

Foto uit Tuis November 2015.

Vir dié kleurryke prente werk die wit rame perfek, maar ons hou tog van die parmantige “onpaar” een en die karaktertjie wat op die onderste raam rus!

Foto uit Tuis November 2017.

In dié sagte, elegante ruimte tel die kleure van die uitstalling (rame inkluis) in die dekor van die res van die vertrek op. [Uit: ’n Reisiger se boheemse tuiste in die Bo-Kaap]

Foto uit Tuis February 2017.

Daar is heelwat tydelike planne om jou kuns op te hang. Jy kan dit ophang met tydelike hake, op ’n string vasknyp met knippies, dit sommer staanmaak op ’n rak of leer, of steek dit vas teen ’n kurkbord. Andersins kan jy (dekoratiewe of sterk) kleefband of selfs Velcro gebruik.

Foto uit Tuis Febraury 2017.

’n Versameling rame in ’n neutrale kleur sal tekstuur by ’n kleurryke muur voeg.

Foto uit Tuis Oktober 2016.

Breek ’n groot muur op en vertel ’n verhaal met gesinsfoto’s langs ’n trap. Volg die kurwe van die trap vir eenvormigheid.

Wie sê jy moet net by een muur hou wanneer jy familiefoto's hang? Dink buite die boks (of om die hoekie!) wanneer jy sulke versamelings wil hang.

Drie topwenke:

  • Sit al die rame op die vloer of trek die rame op papier af en besluit op die uitleg voor jy begin hang.
  • Mik na minstens 5 cm oop ruimte tussen elke raam; probeer dié spasie konsekwent tussen rame hou.
  • Wees dapper – jy kan ’n verskeidenheid items gebruik in ’n galerymuur: juweliersware, bakkies, lugplante, of selfs tydskrif- of albumomslae.