Foto’s Francois Oberholster, Justin Patrick en Elza Roux

1. Binne-buite-plesier

WIE WOON HIER: Jacques en Mari-Louise van der Merwe, en hul kinders, Gavin en Giselle
WAAR: Swellendam

Die Van der Merwes het ’n ou pakkamer wat uit die 1800’s dateer, in ’n braaikamer omskep – nou is dit ’n verlengstuk van die leefruimte by hul huis, wat ook deels gastehuis is. Jacques boer met beeste en wild; dis daarom amper vanselfsprekend dat hulle weekliks braai. Maar die gesin gebruik die vertrek ook daagliks as ontspan- en kuierplek, en die swembad reg langsaan is heerlike afkoelplek vir die kinders in die somer. “En in die winter, wanneer die vuur brand, word dit so gou knus en warm hier dat ons nie eens die koue voel nie,” sê Mari-Louise.

Buffetkas geverf met Annie Sloan-verf in die kleur Pure; muur geverf met Duramdakverf in die kleur Charcoal; hangligte van Ashanti Design; Fishbonedeken, grofgebreide deken en mandjie van Weylandts; kussing met sjevronpatroon, Antique Moss-kussing en Java-houtbord van Mr Price Home

Slim idee #1

’n Duursame grasmat wat maklik skoongemaak kan word, gee warmte op die vloer.

Wat laat dié vertrek werk?

  • ’n Gesellige kuiergevoel danksy vintageen tweedehandse meubels, wat perfek is vir ’n buiteleefvertrek. Enige slytasie dra eenvoudig by tot die informele atmosfeer.
  • Verskillende teksture en patrone – strooikussings, geweefde ligskerms en ’n rietplafon – skep ’n aardse gevoel.
  • Dekens is byderhand in ’n mandjie wanneer die aandlug begin byt.
  • ’n Buffetkas hou als netjies en maak dit maklik om direk van die braai af op te dien.
  • ’n Muurgemonteerde kollig verskaf taakbeligting by die braai.
  • Die houtskool muurverf dra by tot die warmte in die ruimte.

2. Aards

WIE WOON HIER: Annie en Mike Gradidge, en hul seuns, Matthew en Joshua
WAAR: Bellville

Annie en Mike het ’n paar jaar gelede hul buitebraaiplek in ’n volwaardige braaikamer omskep. Deesdae is dit die plek waar hulle die week se stres kom ontlaai. Mike is ’n ywerige kunsvlieghengelaar en die vertrek dien ook as “hoofkwartier” wanneer die manne vlieë kom bind vir hul volgende hengeluitstappie. In die winter is dit waar Tara die skaaphond en George, ’n skaaphond-schnauzer-kruising, kom hitte soek.

Slim idee #2

’n Braaikaggel van vlekvrye staal kos dalk duurder, maar sal langer hou.

Wat laat dié vertrek werk?

  • Dis ’n aparte vertrek, wat dit moontlik maak om die deur toe te trek en van die skottelgoed te vergeet.
  • ’n Warm atmosfeer danksy aardse teksture soos ’n rietplafon, rottangmeubels, ’n houttafel en houtwerkvlakke.
  • ’n Praktiese sementvloer waarop die kole maar kan val en die marinade kan drup.
  • Tweedehandse kopies, soos die kis wat as koffietafel dien, gee karakter. Annie het ’n stuk glas laat sny wat bo-op pas en die oppervlak beskerm. Gesinsfoto’s dra ook tot die atmosfeer by.
  • ’n Gemaklike hoekbank.
  • Drankies is byderhand danksy ondertoonbank-yskaste.
  • Genoeg pakplek vir hout onder die braaiplek, en ’n ingeboude kassie vir breekware.
  • ’n Groentewasbak langs die braaikaggel maak kosvoorbereiding makliker.
  • Persoonlike elemente, soos die draadkunswerk van ’n leervis wat een van Mike se hengelvriende spesiaal by ’n straatkunstenaar laat maak het.

Sementvloer verseël met Glatex 8-epoksi; rietplafon deur African Reed; kaggel en skoorsteen geverf met Midas Earthcote Fresco in die kleur Licorice; skoenlapperbord, bakkie met metaalkleurige harte, dekoratiewe peer (op sytafel), vase, houtsnybord en takbok-strooikussing van Woolworths; Kuifie-beeld van ’n straatkunstenaar

3. Landelik en gesellig

WIE WOON HIER: Len en Alison Bester, en hul kinders, Zac en Alex
WAAR: Paarl

Sedert Len en Alison Bester hul braaikamer aangebou het, braai hulle twee keer per week. Van steak en ribbetjies tot lekker vars snoek met patats beland gereeld op die rooster. In die winter gebruik hulle die braaiplek ook as kaggel.

Slim idee #4

’n Dakwaaier, groot voudeur en staalraamvensters verseker in die warm maande goeie ventilasie.

Wat laat dié vertrek werk?

  • ’n Sementvloer wat nie skade opdoen as daar vonke spat nie.
  • Die gebruik van verskillende teksture, waaronder die ontblote baksteenmuur.
  • ’n Dakwaaier, groot voudeur en staalraamvensters wat in die warm maande goeie ventilasie verseker.
  • Pakplek vir hout onder die vuurmaakplek, en plek vir ’n tafel en kassie weerskante.
  • ’n Gesellige atmosfeer danksy sagte beligting en die oopplan-uitleg na die kombuis.
  • Gemaklike sitplek. Die ou Art Deco-stoele is met ’n kombinasie van lap en leer oorgetrek; die kussings se slope gaan wasmasjien toe as dit vuil word en glipsies op die leer word net afgevee.
  • Maklike toegang tot die tuin, wat noodsaaklik is met kleingoed in die huis.

Dekor deur Franza Carstens Interiors; staalraamvensters van Klapmuts Staal; dakwaaier van Décor Lighting; dekens en kopervase van Weylandts; kussing met biermotief van Design Team

4. Pure plaashuis

WIE WOON HIER: Suzette en Sas Rautenbach
WAAR: Roodepoort

Hoewel Suzette en Sas Rautenbach se braaikamer heerlik ruim is, het dit ’n knus atmosfeer wat die byt uit die Hoëveldse winterdae haal.

Braaimuur geverf met Rust Inventor van Plascon en Cretecote van Cemcrete, ander mure is afgewerk met Colourcem (ook van Cemcrete) en die vloere met Cretecote; konfytflesligte van Sutherlands Home Furnishings; houtblompotte en linnevadoeke van Weylandts; stoele gestoffeer met oorskietlap van Chamdor Faktry Store; smeulstofie van Heatwave

Slim idee #5

Geverfde sinkplate vir die plafon gee dié vertrek ’n heerlik rustieke gevoel.

Wat laat dié vertrek werk?

  • Met ’n kaggel én ’n braaiplek is daar oorgenoeg hitte in die koue wintermaande.
  • Karakter danksy die gebruik van herwinde boumateriaal, soos die sinkplaatplafon wat Sas by ’n skrootwerf gekoop het. Die eetkamerstoele is erfgoed wat met oorskietlap in verskillende kleure gestoffeer is.
  • Goed ontwerpte pakplek – daar’s ’n ingeboude wynrak en hoë rakke vir hout weerskante van die kaggel.
  • Sentimentele elemente, soos die dik ornamentele houtbalke wat Sas jare lank gebêre het. Dít en die juk (oorkant) kom van ’n familieplaas op Fauresmith.
  • ’n Goeie ligging reg langs die kombuis en eetkamer. Die TV is net langsaan in die sitkamer; daarom kan Sas heeltyd een oog op die rugby hou!
  • Goeie taakbeligting danksy ’n muurlamp bo die braaiplek.
VERSKAFFERS