Party huise het dit net: daardie “iets” wat ’n “professionele ontwerperselement” genoem word. 

Hou dit eenvoudig 

Eenvoud is een van die grootste geheime van ontwerpers. Vermy tierlantyntjies by vensters. As jy dit op ’n eenvoudige en eenvormige manier bedek, lyk die vertrek groter en minder besig. Nog ’n ontwerptruuk is om gordyne, blindings of hortjies in dieselfde of net ’n effens donkerder kleur as die mure te kies: Dit skep beslis ’n gevoel van ruimte.

Skep ruimte met verf

’n Mens kan toor met verf. Mure en vloere in ligte kleure of wit, soos op die foto hieronder, skep ’n illusie van lig en ruimte. Dit laat ook ’n vertrek breër lyk as die plafon in ’n ligter kleur as die mure geverf is. Onthou, wit kan koud en klinies lyk. Wissel dit af met skakerings wat na die romerige kant toe neig en gebruik teksture soos hout en rottang. Só ’n neutrale kleurskema is soos ’n oop skilderdoek vir jou dekor, wat jy maklik met sagte meubilering kan verander.

0106_newyear-11

Breek oop

Die uitbreek van mure is deesdae so algemeen dat ’n mens dit skaars ’n ontwerpgeheim kan noem, maar eerder ’n ontwerptruuk. En ook nie om dowe neute nie: ’n Huis kan heel anders lyk – en geselliger leef – nadat ’n paar mure uitgebreek is. Dis ook ’n slim manier om probleemruimtes tot jou voordeel te gebruik: Breek die mure uit en sluit dit by ’n bestaande vertrek in. Vertrekke wat so aaneenvloei, is heerlik gesellig. Noudat die vertrek vensters in verskillende mure het, is dit heelwat koeler danksy beter ventilasie.

0106_newyear-6

Speel ligte-speletjies 

Hope natuurlike lig maak ’n groot verskil aan hoe mense ’n leefruimte ervaar. Dit skep ’n gevoel van ruimte en bring iets van die buitewêreld binnetoe. As jy ’n nuwe plek laat bou of ’n ou plek opknap, gebruik groot deure (ook binnenshuis) en vensters waar die lig instroom en mense gemaklik kan beweeg. En as jy dit ’n stap verder wil voer, sorg dat jou vertrek meer as een natuurlike ligbron het, soos die een op dié foto. Dit verbeter nie net die liggehalte nie, maar ook die ventilasie.

0206_bluring-4

Goeie beplanning

As daar twee dinge is wat onmiddellik ’n ontwerpers-indruk kan maak, is dit goed beplande beligting en pakplek. Verstelbare muurlampe soos op die foto is nie net nuttig nie, maar spaar ook plek op die bedkassies. Laaie wat deel uitmaak van die kopstuk, lyk netjies en is besonder prakties.

0206_bluring-6