Foto uit Tuis November 2015.

Die hemelbed

Die hoofslaapkamer in Rosalind and Grant Nale se Stanford huis is weggesteek in ’n stil hoek van die huis. “Ek en Grant wou regtig ’n ruimte skep waar ons kon ontspan, toe besluit ons op ’n wit kleurskema,” vertel Rosalind. Sy het tekstuur bygevoeg met vintage-kant oor die sytafel, ’n gehekelde deken, ’n geweefde mandjie en mat, en items van onbehandelde hout.

Die muskietnet is veral vir Rosalind spesiaal omdat dit ’n verjaardaggeskenk van vriendinne op die dorp was; nie net is dit prakties in die somer nie, dit verskaf ook ’n tikkie elegansie aan die vertrek.

“Ons hoofslaapkamer laat my elke keer glimlag wanneer ek daar instap.”

Foto uit Tuis Maart 2017.

Deur die blare 

Die groen blaarmuurplakkers deur Vinyl Art SA in Suzelle en Dewaldt de Kock se slaapkamer in hul Stellenbosse huis verskaf ’n bietjie visuele drama, ’n wonderlike manier om ’n groot verskil op ’n knap begroting te maak!

Foto uit Tuis Junie 2014.

Vive la France!

Thelna en Marius reis bitter graag en een van hul gunstelingbestemmings is Frankryk – veral Parys en Provence. Vandaar dié Frans geïnspireerde slaapkamer in hul huis op Meyerton. 

Ons is dol oor die sagte elegansie van die tekstuurryke fokusmuur, vars wit beddegoed en tikkie blieng van die kandelaber. Die kopstuk is uit ’n ou tuinhek gemaak.

Foto uit Tuis September 2014.

Hoog in die wolke 

Ryk, aardse tone saam met hout-elemente maak Jan Schenk se Bo-Kaapse toevlug ’n rustige ruimte. 

Dubbele oopswaaideure alkant van die slaapkamer stel Jan in staat om die lugvloei te reguleer en die uitsig ten beste te benut – dit was ook die enigste opening waardeur hy sy bed tot in die kamer kon ophys in sy huis!

Foto uit Tuis September 2017.

Sag en romanties 

Sue en Bruce MacDonald se slaapkamer in hul Noordhoek-huis is bewyse van hul liefde vir vintage en shabby-sjiek. Die sagte meubels en geblomde elemente lyk lieflik saam met die wit mure en gelamineerde vloere.