Foto’s Francois Oberholster, Elza Cooper en ER Lombard | Stilering Marian van Wyk, Suretha Jansen van Rensburg en Amanda van Wyngaardt

Die spatpaneel van wit teëls dra by tot die monochroom voorkoms wat die eienaars wou hê en keer dat die plakpapier gedurig nat word. Die wasbakkas, gemaak van MDF en swart gespuitverf, het reghoekige uitnsy-detail. Pleks dat die kassie simmetries onder die spieëls geplaas is, strek dit tot in die hoek sodat elke sentimeter in dié klein badkamer benut kan word. Die swart krane en stortkop verhoog die sofistikasie van die vertrek.

Wasbakkas deur Specra Kitchens; spieëls van MRP Home; muurligte van superbalist.com; krane van Lavo Bathroom Concepts

1 Meer as monochroom

Henau Marais en Sharon O’Callaghan Marais se plan was ’n minimalistiese swart-wit badkamer by die hoofslaapkamer van hul huis op Riebeek-Kasteel. “Omdat dit klein is, wou ek net skoon lyne en die skerp kontras van swart en wit hê om die ruimte groter te laat lyk,” sê Sharon, ’n interieurontwerper.

“Maar toe sien ek dié plakpapier!” Sy verwys na die Arthouse Banana Palm Coffee-plakpapier van Hertex.

“Ek was dadelik verlief daarop en moes dit net hê. Dié badkamer was die laaste vertrek wat nog reggeruk moes word, daarom was dit die enigste plek waar ek dit kon gebruik. Dankie tog dit het gewerk!” Die stortglas het ’n dun raam van swart poeierbedekte aluminium wat aansluit by die ander swart elemente in die badkamer. Sharon het die houtvloer geverf (wit Duram Showfloor Polyurethane-vloerverf) om by die basiskleur van die vertrek te pas.

Handdoekreling van Lavo Bathroom Concepts

Verfkleur Dulux Night Jewels 2
Voor

2 Soveel drama

Die gesoute opknappers Erika en Dewald van Zyl moes die gesinsbadkamer in Annelie Carstens se huis in Durbanville regruk vir die TV-program 1,2,3 fixit! op die leefstylkanaal VIA (kanaal 147 op DStv). Hulle het Annelie se inspirasiebord (lees op bladsy 72 nog oor dié hulpmiddel) gebruik om die saai ruimte te omskep in die sjiek, dramatiese badkamer wat sy begeer het.

Houtskool verf op die mure en elemente van hout en gegalvaniseerde staal het gestalte gegee aan Annelie se visie. Die ou teëls is vervang met nuwes met liggrys en blou patrone, wat nou ’n sterk fokuspunt skep teen die gedempte kleure in die res van die vertrek.

Dis in die detail
  • Nadat Dewald en Erika van Zyl ’n reghoekige spieël uit ’n pakkamer in die eienaar Annelie se agterplaas bygedam het, is dit nou ’n pragtige fokuspunt. Hulle het dit op ’n MDF-basis gemonteer en houtpaaltjies rondom aangebring, wat dit na ’n ronde spieël laat lyk. Die paaltjies sluit aan by die ander warm houtelemente in die ruimte.
  • Die oorspronklike wasbak is behou, maar omdat dit te laag was, het dit ’n “platform” gekry. Hiervoor is jarrahout van stukkende buitemeubels gebruik. Herwinde gegalvaniseerde pype hou dit in posisie. Die badkamer het tevore nie vloerlyste gehad nie, maar spog nou met ’n breë glanswit afwerking.
  • Die badkamer het tevore nie vloerlyste gehad nie, maar spog nou met ’n breë glanswit afwerking

Om koste te bespaar het Dewald en Erika besluit om nie die bad, wasbakkassie en toilet te skuif nie. Oop pype is versteek agter rakkies van dieselfde jarrahout as wat onder die wasbak gebruik is. Om aan te sluit by die ander industriële elemente is ’n nuwe toiletrolhouer gemaak van gegalvaniseerde staalpype en ’n ruwe stuk jarrahout.

Pavimento Antiqua-vloerteëls van geglasuurde keramiek van Italtile

3 Vorm en funksie

Die hoofslaapkamer se badkamer in Andrew en Katja Wenger se huis in Johannesburg spog met ’n buitestort, ’n bad en stort binne, asook ’n aantrekdeel wat na die slaapkamer lei. Die interieur-ontwerper Debbie Luke van Designed by Debbie wou ’n funksionele ruimte skep met ’n ruim, minimalistiese gevoel.

Wit planthouer van MRP Home; spieël van @home; krane van Flush Bathrooms; hangligte van hoiploy.comDie afgevlakte vloer en die betonmure en -wasbak is afgerond met Cemcrete Colour Hardener en ’n poliuretaanseëlaar. Die kassies is van MDF wat gespuitverf is.

Dis in die detail
Debbie het kaste en ’n aantrekkamer by die ruimte ingesluit sodat die slaapkamer netjies en oop kan wees.

Debbie se span het die betonwasbakke ter plaatse gegiet met behulp van houtbekisting.Die strak lyne van die swart aluminiumraam sluit perfek aan by die growwer tekstuur van die mure en vloer.

Die gepleisterde deel van die muur is swart geverf. Dit kontrasteer baie mooi met die tekstuur van die ruwe klipmuur.

Balau-dekplanke rond die buitestort af. Op die grond is sementteëls omring deur waterliewende plante. Aluminiumraamvensters kyk uit op die buitestort aan die agterkant van die huis; die enigste toegang is deur die badkamer. Dis moeilik om te glo dié ruimte was op sy dag ’n ongebruikte stegie! 

Bad van Dado; betonplanthouer van Swagger Collection

BELIGTING IN DIE BADKAMER

Eli Kalmi van K. Light sê dis belangrik om na die IP-gradering (die vlak van beskerming teen water en stof) van ligtoebehore te kyk voor jy dit in ’n badkamer installeer. Hy beveel ’n IP van minstens 44 vir badkamerbeligting aan.

KONTAK klight.co.za

4 Teëlkuns

In Raiël le Roux en Matt Besanko se huis in Observatory is ’n kinderkamer omskep in ’n hoofslaapkamer met en suite-badkamer. “Ons wou ’n skoon, moderne gevoel hier hê,” sê Raiël. Tydens ’n inkopietog vir hul kombuisopknap kom hulle toe af op hierdie blou 30 x 7,5 cm-teëls wat presies die sterk stelling sou maak waarna hulle op soek was in die badkamer.

Die badkamerkassie van eikefineerhout en witgeverfde deurtjies is vir hulle pasgemaak deur Johan Jooste. Grafietkleur kwartsblad deur ProQuartz; Evox Riley-wasbak van Tile Africa; agtkantige spieël van Vamp Furniture; Colonial Brillo Marine-teëls uit die Cifre Ceramica-reeks van Stiles Die groot teëls (120 x 60 cm) op die vloer sluit mooi aan by die liggrys mure.

Losstaande Selene-bad van Tile Africa

Pleks dat die teëls gesny is om ’n reguit lyn te vorm is hulle net so gelê met ’n oneweredige rand. Hierdeur trek die visgraatpatroon waarin dit gelê is nog meer aandag. Hulle het dadelik daarvan gehou en besluit om nie tot teen die plafon te teël nie.

Raiël en Matt se oorspronklike plan was om net die stort en agter die wasbakkas te teël, maar toe hou hulle so baie van die voorkoms dat hulle ook die muur agter die bad en toilet bedek het. “Natuurlik het dit die koste opgestoot, maar agterna beskou, was dit elke sent werd,” sê Raiël.

5 Strandstories 

Die gesinsbadkamer in Allan en Jodi Lawrence se huis in Kommetjie het ’n Bali-strandhuistema. “Met vyf kinders en twee honde het ons ’n badkamer nodig wat maklik skoongemaak kan word,” verduidelik Jodi. “Nadat hulle by die strand was, kom hulle by ’n buitedeur in en spoel gou eers onder die stort af.” Al lyk dit soos ’n buitebadkamer, het die houtaanbouing wel ’n glasdak. “Ons was mal oor die buitebadkamers wat ons in Bali gesien het, maar die Kaapse winters is net te koud om sonder beskutting buite te bad en stort.”

Wat ons die meeste van hou, is hoe die son deur die glasdak stroom en hoe die ruimte oopmaak na buite. – Jodi


’n Hoekstort in die buitebadkamer is met klassieke wit metro-teëls afgewerk.

Ons is dol hieroor! Die paartjie het dié hangligte uit Bali gekies oor die manier waarop die lig deur die rottangstrooi skyn.

Verfkleur Midas Envirolite Arniston White

Die dek met sy glasdak skep ’n kweekhuis-effek – die plante bo die bad gedy!

Vloerteëls van Moroccan Warehouse

In die “buitedeel” van die badkamer wat by die huis aansluit via ’n deurlose raam, is die mure beklee met Chromadek-dakplate en balauhout. Die balau is nie geseël nie sodat dit kan verouder tot sy tipiese mooi silwergrys.

Lang eikehout-wasbakkas gemaak deur Rare Woods; wasbakke van Bathroom Bizarre; ronde mat en hanglampe bo die bad van Eight Degrees South; bad van Builders

Staalraamvenster gemaak en ingesit deur Fabricator Steelworx

6 Klassiek modern

In hul nuutgeboude huis in Mooikloof Glen, Pretoria, wou Isma en Marnus Coetzee ’n en suite-badkamer hê met klassieke kenmerke, maar ’n moderne kinkel. Die baksteenmuur tussen die slaap- en badkamer was die inspirasie vir die ontblote koperpype – iets wat Isma ken uit die plaashuis waarin sy grootgeword het.

Die opvallende teëls op die vloer en stortmuur skep ’n kontemporêre gevoel. Hulle het die pragtige staalraamvenster wat uitkyk op die buitestort spesiaal laat maak. “Ons wou graag êrens in die huis ’n boogvenster hê,” vertel Isma. “Ons het gedink dit sou romanties wees in die badkamer. Nou lê ’n mens lekker in die bad en kyk uit op die tuintjie en klipmuur by die buitestort.” 

Kandelaber van pennylane.co.za; vloer- en stortteëls en Dado-bad van Tileworx

’n Buitestort was ononderhandelbaar. “Al is ons badkamer se stort net langsaan, is daar twee houthekke wat na die tuin en swembad lei; daarom is dit baie prakties vir die kinders nadat hulle geswem het,” sê Isma. Die muur is net soos sommige van die huis se ander buitemure beklee met Irene-klip. Planke van saamgestelde hout is as vloeroppervlak ingespan.

Klipbekleding deur Futurebuilt Construction

SAAMGESTELDE VS. REGTE HOUT

Glenn Varrie van NewTechWood South Africa verduidelik die voordele van hul dekplanke van saamgestelde hout, Ultrashield, bo regte hout: Op kort termyn is dit wel duurder as hout; maar as jy die koste van die jaarlikse versorging van hout byreken, maak dit sin. Dekplanke van saamgestelde hout spaar tyd en geld. Die planke verbleik nie en is vlek-, krap- en waterbestand. Dekplanke van saamgestelde hout het ingeboude muf-inhibeerders, wat keer dat muf binne-in die planke groei; dit kan steeds op die oppervlak vorm, maar sal nie die planke binnedring nie. Dit moet egter steeds gereeld gevee word om vullis en stofdeeltjies te verwyder. 

Net soos met hout kan jy dié materiaal met gewone houtwerkgereedskap bewerk – boor, saag, skroewe insit, selfs skaaf. Die digtheid is groter as dié van hout, daarom beveel ons lemme en boorpunte met karbiedversterking aan. Ons verskaf ’n beperkte arbeidswaarborg van twee jaar en ’n beperkte waarborg van 25 jaar op die produk self.

KONTAK newtechwood.co.za

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

@home 0860 576 576

Bathroom Bizarre 021 702 9200

Builders 0860 284 533

Dado 012 803 9431

Designed by Debbie 082 555 4965

Eight Degrees South 076 766 9842

Fabricator Steelworx 071 247 2470

Flush Bathrooms 021 511 7888

Futurebuilt Construction 079 506 4178

Hertex 021 461 7420/3

Italtile 0861 555 109

Johan Jooste 083 658 4215

Lavo Bathroom Concepts 021 461 0180

Moroccan Warehouse 021 461 8318

MRP Home 0800 212 535

ProQuartz 011 314 9411

Rare Woods 021 535 2004

Sharon O’Callaghan Marais 021 949 4462

Stiles 021 510 8310

Specra Kitchens 082 491 0877

Swagger Collective 082 876 9357

Tile Africa 011 455 6061

Tileworx 012 661 3324

Vamp Furniture 021 448 2755