Foto’s Francois Oberholster en Charlene Schreuder

Dak toe

Die klavierkamer in Aleit Swanepoel van The Aleit Group se huis is ’n rustige wit – van die mure tot die afgevlakte sementvloer. Dié vertrek laat ’n mengelmoes kuns, spieëls en ander muurdekor tot hul reg kom – party stukke tot bo teen die plafon. Selfs Sir Bacchus die kat voel tuis hier.

Wit op swart

In Aleit se kombuis is die muur na die stoep met ’n mat akriel-PVA van Dulux geverf (die kleur is Black). Dit skep ’n treffende kontras met die wit rande om die vensters, die deur en die A-raamdak met sy ontblote balke. Die mat afwerking steek ongelykhede weg én jy kan daarop skryf met kryt. Rakke gemaak van steierplanke en rou werkbanke van Col Timbers verskaf bêreplek en rond die prentjie af.Tousakkies vir uie en aartappels vanaf R80 stuk en potmandjie vir orgidee vanaf R150 van Handmade by Maggie Jo; orgidee R389, keramiekbakke R207 elk, Franse linneservette R35 elk, keramiekbeker in die voorgrond R125 en dienbord R299 van Biggie Best; hangende vetplante R265 (klein) en R290 (middelslag) van Opus; keramiekmelkbeker R195 en maatbeker R175 van Loft Living

Aweregs …

Amanda Craddock van die Kaapse buurt Pinehurst het dié romantiese dog elegante fokusmuur in haar hoofslaapkamer geskep met subtiele plakpapier, ’n klompie interessante rame en ’n spieël wat die kompakte vertrek groter laat lyk. Die verskillende groottes en vorms van die rame gee haar muur trefkrag. Sy het die bed se kopstuk self met Hammerite in die kleur Old Gold geverf sodat dit nou ’n metaalvoorkoms het wat die rame komplementeer.

Skryf daarop 

Swartbordverf is ’n maklike manier om ’n fokusmuur te skep en die kleinspan kreatief besig te hou. Lemon & Lilac Paint Techniques & Home Décor het reeds in 2006 dié muur in Georg en Sanet de Villiers van Durbanville se kinderspeelkamer geverf en met vrolike strepe opgehelder. Nege jaar later is die strepe nog ewe treffend, met kabels waaraan Mila (12) en Stef (7) se kinderkuns hang. Noudat dié twee ’n bietjie ouer is, dien die vertrek ook as hul studeer- en huiswerkkamer. Die geel fietsie teen die muur was Sanet s’n in haar Oos-Kaapse kinderdae.

Opmekaar

Een van Tuis se medewerkers, Karin Cronjé, het boksrame op ’n lysie agter haar bed gestapel. Sy woon net tydelik daar en wou nie baie geld op ’n kopstuk spandeer nie, maar dié bokse kan sy oppak en saamneem wanneer sy trek. Hoewel die bokse hoofsaaklik as bêreplek dien, skep die hoë stapel ’n fokuspunt teen die muur agter haar bed. ’n Rooi lig is van ’n muurprop af na een van die bokse aangelê. Strooikussings en deken van Hertex

Knip en plak

Nog ’n Tuis-medewerker, Jana-Marie Hey, het met ’n slim plan vorendag gekom – afvalstukke plakpapier en winskopie-rolle van uitverkopings is saam gebruik vir ’n prettige fokusmuur in haar seuntjie, Benjamin (2), se kamer. En hy is dol daarop! Die plakpapier heel links het Jana by ’n museum in Praag gekoop, terwyl die blompatroon net een euro by ’n winkel in Amsterdam gekos het! Ook die wolkie-plakpapier was ’n winskopie – R25 vir ’n rol van 10 m by ’n klein ysterwarewinkel in Kaapstad.

Grafiese kontras

’n Siersteenmuur is dikwels ’n aspoestertjie wat toegepleister of weggesteek word, maar dié een, ook in Georg en Sanet de Villiers van Durbanville se huis, het karakter danksy wit voegbry wat treffend met die rooi stene kontrasteer. Sweefrakke omskep die muur in ’n aantreklike fokuspunt met pakplek vir boeke en ornamente. Karin Cronjé van Hands on Creative Building & Management sê ’n mens kan wit voegbry of wit sement vir dié doel gebruik. “Vul die gleuwe tussen die bakstene versigtig met ’n klein skraper. Maak dan die stene redelik gou, sodra die voegbry of sement geset het, met ’n klam spons skoon, anders gaan jy rooi bakstene met wit ‘sproete’ hê!” waarsku sy.

Onthou om te onthou

Karin en Barnie Louw van Kaapstad versamel graag keramiekborde en -teëls as aandenkings aan hul oorsese reise; hier is artikels van Turkye, Denemarke, Holland en Swede saam met plaaslike kunswerke deur Theo Kleynhans en Alex Hamilton gegroepeer. Die treffende verskeidenheid artikels, kleure en fatsoene maak dat jy nie dié kombuismuur miskyk nie.