Foto’s Francois Oberholster Stilering Nelia Andrag en Marian van Wyk

’n Staalraam-skuifdeur dien as afskorting tussen die leefvertrek en die kombuis. Die eetkamerstoele was ’n tweedehandse vonds wat Lochie in swart leer laat herstoffeer het en die eetkamertafel is later pasgemaak deur Haldane Martin. Die hanglamp met sy fyn glaswerk bo die eetkamertafel kom uit Lochie se grootwordhuis op Bonnievale. Die vooraansig van die huis met sy verskillende “blokke” glas, beton en sink skep die indruk van ’n modulêre ontwerp. Hermann, ’n kranige tuinmaker, het met die hulp van Mandy Morton van Black Sunbird Gardens ’n inheemse tuin geplant.

WIE WOON HIER?

Lochie en Hermann Wessels en hul kinders, Armin (12) en Ziya (16)

WAAR Stellenbosch

GROOTTE 590 m²


In ’n boomryke woonbuurt op Stellenbosch staan een van die juwele in die kroon van die beroemde Bauhaus-argitek Pius Pahl. Die huis, nes ’n aantal ander op die dorp wat ook Pahl se breinkinders is, dra talle van die kenmerke van sy ontwerpe – groot houtraamvensters met identiese proporsies, leiklipvloere, kleiteëls, houtpanele en -plafonne, en die praktiese oop leefruimtes van die na-oorlogse modernisme.

Toe Lochie en Hermann Wessels in 2011 die huis gekoop het, het dié geskiedenis hulle bekoor. “Ek het baie simpatie met die progressiewe Duitsers van die dertigerjare wat as’t ware moes vlug,” vertel hy. “Bauhaus as beweging was nog altyd vir my baie interessant. Dis te danke aan dié groep denkers dat ons sulke wêreldklas argitektuur op Stellenbosch het.”

Die paartjie was dadelik gaande oor die simmetrie en geometriese verhoudings van Pahl se ontwerpstyl wat gekenmerk word deur ’n nougesette stel wiskundige verhoudings en geometriese patrone. Die oomblik dat jy aan enige van die proporsies begin peuter, sou dit ’n uitkring-effek hê wat uiteindelik die simmetrie kan omverwerp en afbreuk doen aan die geheel van die ontwerp.

Daarom het hulle besluit om die hulp van Hein Visser van Visser Kapperer De Bruin Architects in te roep toe hulle in 2016 met opknapwerk aan die huis begin.

Die Wesselse het wel die oorspronklike stoep en buitegebou verander in ’n kombuis en kuierstoep, maar die werk wat gedoen is, het deurgaans getrou gebly aan die integriteit van Pahl se ontwerp.In die sitkamer is tikkies hout en koper ’n doelbewuste kopknik aan die ontwerpstyl van die middel 1900’s. Die uitstalkas langs die kaggel was ’n geskenk aan Lochie se ma met haar 21ste verjaarsdag en pas nou perfek by die huis se styl.

Herinterpretasie van ’n klassieke ontwerp

Een van die grootste veranderinge wat die Wesselse gemaak het, was om die kombuis te moderniseer en uit die agterkant van die huis te bring. “Ons leefstyl draai om kosmaak en saamkuier,” verduidelik Lochie. “In die tyd toe die huis ontwerp is, was die kombuis die onbelangrikste deel van die huis.” In hierdie geval was dit eintlik net ’n nou gang met ’n dienluik waardeur die kos na die eetkamer aangegee kon word.

Gevolglik is die ou kombuis omskep in ’n dubbelvolume-voorportaal by die nuwe voordeur, terwyl die ou onderdakstoep en buitegebou aan die oostekant van die huis nou die kombuis huisves. Dit was vir die huismense belangrik dat ook dié verandering met agting aan Pahl se filosofie en voorkeure ontwerp word. Daarom het hulle byvoorbeeld gekies om die leiklip wat op die agterste stoep was na die nuwe kombuis en kuierstoep uit te brei. “Dit was een van die goed wat die bouproses baie opgehou het,” onthou Lochie. “Daar is mos nie ’n formule vir die lê van leiklip nie, so die teëlaars het nogal gesukkel om dit reg te kry.”

Lochie beskryf die nuwe ruimte as “’n regte leefkombuis”. Dis prakties ingerig met genoeg plek dat die hele gesin saam kan kook en kuier.

Werkoppervlakke van vlekvrye staal en ingeboude kaste op staalpote skep ’n industriële gevoel wat goed aansluit by die res van hul blyplek. Die swart metroteëls wat as spatpaneel agter die stoof dien, komplementeer die staal-detail in die res van die huis. Die kombuiseiland, pasgemaak deur Evelyn Terblanche van die firma Versfeld, wat ook die res van die kombuis ontwerp het, is lank ná die opknapwerk ingesit – eers nadat Lochie die toonbank-stoeltjies raakgesien het en dit vir haar so mooi was dat die eiland daarby moes pas.

Oral in die kombuis is daar staalraamvensters en -deure, ontwerp met patrone wat herinner aan die kuns van die Nederlandse kunstenaar Piet Mondrian.

“Ons wou ook met die glaswerk in die kombuis eer betoon aan die ontwerpstyl van die bepaalde era,” verduidelik Lochie. 

Werkvlakke van vlekvrye staal en laaie is praktiese toevoegings tot ’n hardwerkende kombuis. Staalraam-glaspanele aan ’n reling skep ’n pragtige fokuspunt by uitstalgoed op die sweefrakke.

Touwerk by ’n koffiestasie langs die studeerkamer op die eerste verdieping is ’n speelse element wat ook elders in die huis herhaal word.

Die kombuis is geskuif toe die Wesselse opknapwerk aan die huis gedoen het. Die rou sementplafon en leiklipvloer gee lieflike tekstuur aan die industriële ruimte met sy monochroom palet. Kombuiseiland pasgemaak deur Versfeld; stoele van Andrew Dominic 

My waardering vir detail, vorm en karaktervolle meubels het ek by my ma geërf. – Lochie

Die afdakke op die stoep langs die sitkamer is spesiaal gemaak om die simmetrie van die vensters te eggo en bied lafenis teen die son.

Die Wesselse het die koraalboom spesiaal geplant ter wille van koelte in die somer en kleur in die winter.

Dié kuierstoep reg langs die kombuis het skuifdeure aan albei kante sodat dit voel asof ’n mens buite ontspan.

’n Spiraaltrap in ’n waaghalsige skakering van oranje, een van Lochie se gunstelingkleure, lei na die daktuin wat bo-op die motorhuis aangelê is. “Dié trap was die beginpunt van al die spatsels kleur in die huis,” vertel sy.


Ná Lochie dié uitstalkas op Facebook Marketplace gekoop het, het Marlene Stofberg van die vintage-dekor-en-meubelwinkel Malhuis dit netjies gerestoureer. Plantbak van Space for Life

Hout, glas en fyn detail

Hoe meer die Wesselse oor Pahl te wete gekom het en hoe langer hulle in die huis gewoon het, hoe meer het hulle gevoel die huis se baie spesifieke lyne en geometriese patrone vra vir meubels uit dieselfde era om dit te komplementeer. “Hoewel meubels uit daardie era waarskynlik onvanpas sou lyk in ’n ander konteks, voel dit so gemaklik in ’n mid-century-huis,” verduidelik Lochie. “Jy moet die styl van die huis omarm.” Sy het van toe af meubels uit die middel van die vorige eeu begin raaksien en stuk-stuk gerestoureer. “Dit het net dadelik reg gevoel.” Gelukkig leen dié meubelstukke hulle ook tot kleur, iets waaroor sy dol is.

“My ma het nog altyd ’n oog vir detail, vorm, kleur en gehalte-meubels gehad – iets wat ek baie van haar waardeer,” vertel Lochie. 

Khanya die Labrador loer in by die nuwe voordeur wat ontwerp is met dieselfde simmetriese verhoudings as die vensters in die res van die huis. Die vensters hier is twee verdiepings hoog en sorg vir ’n oorvloed natuurlike lig en lieflike uitsigte vanuit die boonste loopvlak.

Die staanlamp met sy oranje lampskerm uit die middel van die vorige eeu verleen ’n spatsel kleur langs ’n Laroshe-kanttafel. Die Murano-vase eggo die kleur en ronde vorms van die meubels uit die era waaroor die Wesselse gaande is.

’n Trap in ’n uitbundige blou lei na die slaapkamers op die boonste verdieping. Pius Pahl het die smal vloerlyste só ontwerp dat dit die illusie skep dat die vertrekke “sweef”.

’n Manu-buffetkas van Andrew Dominic het ’n pasgemaakte staalblad gekry as koffiestasie. Kunswerke van Gregory Kerr word op ’n smal portretlys uitgestal.

Oor Pius Pahl

Pius Pahl was ’n student van die beroemde argitek Mies van der Rohe en die laaste argitek wat by die Bauhaus, die progressiewe Duitse ontwerpskool wat bekend is vir sy enorme invloed op ontwerp in die 20ste eeu, opgelei is. Van Pahl se werk maak deel uit van ’n permanente uitstalling by die Bauhaus-museum in Berlyn. Pahl het hom in 1952 in Stellenbosch gevestig en was een van die sleutelfigure van die modernisme in Suid-Afrika. Hy was tussen 1952 en 1954 ’n dosent in argitektuur by die Universiteit van Kaapstad.

’n Franse medisynekis was die inspirasie vir die kas wat deur Evelyn Terblanche ontwerp is en waarin Lochie nou ook spesiale hartsgoed soos haar oupa se skeerpot bêre.

Leiklip in die hoofslaapkamer se en suite eggo die vloer in die kombuis en op die stoep. ’n Aantrekkamer maak deel uit van die ruimte. Die klerekaste in al die slaapkamers is ontwerp en gemaak deur Timeless Timbers.

Kunswerk deur Nelia Andrag

’n Staal-skuifdeur skei die hoofslaapkamer van die en suite-badkamer. Toe die Wesselse die volvloermatte uithaal, het hulle die houtblokkies daaronder ontdek. “Dit was nog in ’n uitstekende toestand omdat dit 25 jaar lank onder matte bedek was!” vertel Lochie. Barcelona-stoel van Malhuis

VERSKAFFERS

Andrew Dominic 027 447 1574

Black Sunbird Gardens 082 377 4588

Haldane Martin 087 898 4678

Malhuis 082 871 2770, m.stofberg@me.com

Space For Life 021 447 0808

Timeless Timbers 021 882 9240

Versfeld 

VKDB Architects 021 880 2881

Kunswerk deur Nelia Andrag