Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER?
Arno en Melanie Carstens, hul seun, Hayden (7), en die honde Bucket en Steven
WAAR Cairnside, Simonstad
GROOTTE 722 m²

Arno het wel ’n aparte ateljee, maar hy verf ook graag in die sitkamer.

Meubels in die sitkamer is met sorg so geplaas dat dit bepaalde areas afbaken.

Toe hulle drie jaar gelede dié ruim huislangs die water koop, het die bekroonde musikant en kunstenaar Arno Carstens en sy vrou en bestuurder, Melanie, die rustige atmosfeer van die Suidelike Skiereiland al goed geken – hulle het immers voorheen in die nabygeleë Clovelly en Kalkbaai gewoon.

“Die ligging is fantasties, want ons is reg oorkant Glencairn se getypoel en strand,” sê Melanie. “Die buurt is baie rustig en redelik onontwikkel. Dis wonderlik, veral as jy besef dis net ’n halfuur se ry van die Kaapse middestad af.”

Interessant genoeg was dit nie net die pragtige see-uitsigte wat die koop beklink het nie. “Ons het ook gedink die koepelvormige plafon in die sitkamer is iets besonders,” onthou Melanie. “Die vorige eienaar het dit spesiaal ontwerp vir sy vrou, ’n pianis, en dit gee die ruim vertrek uitstekende akoestiese én visuele bekoring.”

Daar het wel ’n taamlike opknap vir die Carstense voorgelê. Die huis met sy vier slaapkamers en een badkamer was destyds in ’n treurige toestand en die kombuis was swak ontwerp.

“Ons het al die vaste toebehore uitgehaal, die elektriese bedrading oorgedoen en regdeur nuwe loodgieterspype laat insit,” verduidelik Melanie. “Ek het self die nuwe vloerplan ontwerp en ons het met Carl Rennick van C&G Renovators saamgewerk om ons visie ’n werklikheid te maak.”

Tydens die opknap is die oorspronklike houtkaggel breër gemaak en oorgeteël. Die groot rooi mat, stoel en poewe is by The Railway House in Kalkbaai gekoop. “Hayden het so te sê op dié mat grootgeword, so dit het baie sentimentele waarde,” sê Melanie. Teëls van CTM

Die paartjie het die oorspronklike loodglasvensters in die sitkamer behou, wat die huis ’n outentieke, historiese atmosfeer gee. Die olieskilderye is Arno se handewerk; dis aanlyn te koop, of op afspraak by hul ateljee en galery by die huis.

Geraamde bladmusiek vir Arno se treffer Another Universe pryk teen die muur. Sy SAMA-pryse staan op ’n buffetkas uit ’n tweedehandswinkel in Tokai. David Jones-lamp van Woolworths

Dis ’n leefstyl

Vandag spog die huis met drie en suite-slaapkamers, ’n kombuis met ’n eetdeel, ’n tuiskantoor, gastebadkamer en aparte ateljee waar Arno skilder. En die hart van die Carstens-huis is die sonnige sit-eetkamer en aangrensende sonkamer waar hulle die meeste van hul tyd deurbring.

“Daar speel altyd musiek in ons huis en ons lag heeltyd,” sê Melanie. Dis hier waar die paartjie se sewejarige seun, Hayden, klavier oefen en amper al die kuns teen die mure is Arno se handewerk.

“Ons huis dien ook as galery waar ons Arno se kuns op afspraak uitstal,” verduidelik Melanie. “Elke keer as ons ’n werk verkoop, moet ons die kuns van voor af hang; die vertrek verander dus gereeld en is nooit vervelig nie!”

Dis ook geen wonder dat die see ’n groot rol in haar gesin se lewe speel nie. “In die somer stap Arno en Hayden so te sê elke dag oor die pad met hul duikpakke en branderplanke. Ek kan my nie ’n lekkerder leefstyl indink nie.”

Epoksivloere is ’n duursame, laeonderhoud-oplossing in die kompakte dog hoogs funksionele kombuis wat Melanie ontwerp het. Die kunswerk is ’n gesinsportret wat Arno vir Melanie gemaak het om hul 10de huweliksherdenking te vier. “Ons eet soggens ontbyt by die kombuistafel en geniet dikwels ook ontspanne aandetes hier,” sê Melanie. Sy het self die elegante, onderbeklemtoonde wit kaste ontwerp. 

Dié kas van rou hout is ’n vonds uit ’n vintage-meubelwinkel. Ná ’n goeie skrop met suikerseep en nuwe handvatsels, nuwe glas en ’n nuwe rugkant is dit nou een van die paartjie se gunsteling-meubelstukke.

Ligtoebehore van MRP Home; kaste gemaak deur Woodbridge Design

In die toegeboude sonstoep hang ’n portret van Arno wat Richard Scott vir ’n liefdadigheidsgeleentheid geskilder het – en agterna vir die gesin present gegee het. Melanie lees dikwels op die dagbed terwyl Arno en Hayden bordspeletjies speel.

Daar was nie plek in die gastekamer se en suite vir die pootjiesbad nie, nou staan dit sommer in die kamer. “Jy kan lekker in die bad lê en TV kyk,” sê Melanie. Die vloere is van oorspronklike Oregonden en beukehout. Dis afgeskuur en ’n skeut wit kleursel is by die verseëlaar gevoeg om die oranje kleur effens te versag. Wit aluminiumhortjies reg deur die huis bied privaatheid en veiligheid wanneer dit toe is. Hortjies van Plantation Shutters; pootjiesbad van Builders

Melanie het tweedehandse kaste vir die badkamers gekoop en klipblaaie laat sny om bo-op te pas. Klipblaaie van CK Surfaces

Die laaikas (regs op die foto) in die hoofslaapkamer is Arno s’n uit sy babadae, daarom het dit spesiale betekenis vir die paartjie.

Die kasteelbed in Hayden se kamer was ’n geskenk van Melanie se ma.

Die Carstense se bouer, Carl Rennick, het die braai met sy tradisionele voorkoms ingebou. Die betonvloere is geverf met wit emalje-stoepverf. Die paartjie wou ’n tafel hê wat lank genoeg is vir 16 mense; dié tafel en twee kanttafels is deur Taffy Creation gemaak. Die rusbanke is van ’n vorige huis; hulle het dit wit geverf en die kussings laat herstoffeer. Betonblad en latte-afdak gebou deur Pinecore; Skaakbord-teëls op trappe (regs) van CTMKussings en deken van Arabesque; blomme deur Flowers for Everyone

Pret in die son

Die Carstense is ook groot kuiergeeste. Gaste kom graag oor vir lang, luilekker middagetes onder die braai-area se lattedak aan die onderkant van die tuin, en in die winter vir meer formele etes in die sitkamer. En al is die meubels en dekor met sorg gekies en bymekaargesit, is daar niks opgesmuks aan dié knus, kunstige ruimte nie.

“Ons sluit ons seun by amper al ons aktiwiteite in, so ons leefstyl is baie gesinsgeoriënteer,” sê Melanie. “Ons hou van kreatief wees, of ons nou verf, skryf of musiek maak of selfs Minecraft speel. Ons gebruik ook ons sonkamer as ’n lekker leeshoekie en speelplek vir ons seun se gunstelinge: Monopoly, GoFish en Jenga.”

Die paartjie sien kans vir nog verbeteringe. “Ons wil graag boontoe bou om die uitsig beter te benut en dalk ’n verhitte swembad in die voortuin bou,” sê Melanie. “Ons kyk maar wat die toekoms inhou!”

VERSKAFFERS