Foto’s Elsa Young/Frank Features

DIE HUISEIENAAR Darryl Freeman
WAAR Maun, Botswana
GROOTTE 87 m²

Danksy haar werk as interieurontwerper vir safari-lodges het Darryl Freeman die mooiste dele van Afrika gesien. Sy het ’n afgesonderde erf langs die Thamalakane-rivier aan die buitewyke van Maun in Botswana gehad, en toe sy in 2012 moes besluit op ’n ontwerp vir haar eie huis, het Darryl oorgenoeg inspirasie gehad.

Dié passievolle omgewingskundige het besluit op ’n struktuur van vasgestampte grond omdat die boumateriaal geredelik beskikbaar is en die rustieke huise wat daarmee gebou word duursaam én mooi is.

Die mure word gemaak deur goed gesifte grond (sand, gruis, klei en slik) in hout-bekisting vas te stamp. Sodra die grond droog is, word die raam verwyder. Die resultaat is mure wat treffende horisontale grondlae vertoon. “My mure het die mooiste afwerking met ’n lagie fyn gruis tussen lagies fyn sand,” sê Darryl. Tuis het in September 2015 ’n gebou gewys waarvan party mure met vasgestampte grond gebou is, en dit wil voorkom of dié tegniek stadig maar seker besig is om veld te wen – en dis geen wonder nie as jy al die voordele in ag neem.

“Huise met grondmure word gebou van maklik bekombare materiaal; dié metode het geen verf of ander afwerkings nodig nie, dis duursaam en danksy die dikte van die mure is die gebou koel in die somer en warm in die winter,” sê Paul Marais, ’n argitek wat in geboue van vasgestampte grond spesialiseer; hy het Darryl se huis ontwerp en toesig gehou oor die bou van haar huis.

“Dit kan ’n kostedoeltreffende opsie wees. Sulke huise verg ook minder energie vir die verkryging, verwerking, vervaardiging en lewering van boumateriaal as by tradisionele boumetodes; gevolglik dra dit ook veel minder by tot klimaatsverandering.”

Darryl het drie jaar hier gewoon, maar deesdae verhuur sy die huis op Airbnb. Sy kom loer wel af en toe in. “Ek is dol oor die huis, en die omgewing is beeldskoon. Ek het al besoek gekry van olifante, seekoeie en krokodille, en daar is ook donkies, bokke en koeie wat vryelik hier rondloop. Dis regtig baie spesiaal.”

Die sementvloere en die ligpienk skynsel van die rooi sand in die mure is ’n pragtige agtergrond vir Darryl se meubels. “My tweedehandse antieke meubels pas perfek in by die omgewingsvriendelike tema van dié huis,” verduidelik Darryl. “Baie van die stukke was op die ‘weggooilys’ van vriende en familie wat verhuis het. Ek skuif net ’n bietjie rond, of ruil af en toe die oortreksels, strooikussings of dekens.”

Die hele huis se vloere het ’n afvlaklaag van wit sement wat dit ’n afgewitte voorkoms gee.

Dis in die detail
Luike, afgewerk met tou vir tekstuur, laat warm lug ontsnap.
Ek wou eenvoudige, skoon lyne hê wat die aandag op die ruwe tekstuur van die mure vestig. – Darryl

Een kant van die huis het houtskuifdeure wat oopmaak op die braaiarea met ’n ongerepte uitsig op die Thamalakane-rivier daar naby. Bedags verskaf kameeldoringbome lieflike skadu; latte-skerms rondom die basis van die huis hou slange uit.

Die oopplankombuis is só ontwerp dat al die toerusting, behalwe die yskas, in die eiland gehuisves word. Die werkblad is gemaak van ou dennehout-vloerplanke en die kasdeure is soliede hout wat met naaswit hoëglans-Duco gespuitverf is. Die voordeur is gemaak van staalplate wat met fosforsuur verouder is.

Tussen vier mure

Darryl, Paul en ’n span bouers het drie jaar aan die projek gewerk. Hulle het ’n fondament van gewone beton gekies, en al is dit algemene praktyk om die grond onder so ’n gebou met gif te behandel teen termiete, het Darryl besluit om ’n gegalvaniseerde staalplaat tussen die fondament en die mure in te voeg as versperring teen dié insekte.

Om die 40 cm dik mure te bou is vragte fyn rooi gruis uit ’n steengroef aangery van Toteng, sowat 30 minute daarvandaan. Dit is toe gemeng met grond van die terrein self en gebind met kalk. Toteng se rooi sand gee die mure ’n pienk tint, terwyl die kalk die mure waterbestand maak en keer dat die sand loskom. Die mure verg geen verdere behandeling nie.

Ou houthortjies wat Darryl op ’n familielid se werf opgetel het, is hergebruik vir die mure se bekisting. Die bouers het self stampers gemaak om die grond daarin vas te stamp totdat dit goed gekompakteer is. Nadat die sand geset het, is die bekisting verwyder en hergebruik vir die skuifdeure en die dak – in laasgenoemde geval is dit oorgetrek met dik plastiek wat vir damwalle gebruik word.

Die huis het 12 sonkragpanele: vier vir elektrisiteit en agt vir ’n pomp in die rivier wat die huis voorsien van lopende water.

’n Versameling houtmeubels, waaronder ’n treffende dog eenvoudige hemelbed van Weylandts, skep ’n rustige, rustieke atmosfeer in die hoofslaapkamer. Darryl het die laaikas by haar ouers gekry; sy het die verf afgestroop vir dié verweerde voorkoms.

Dis in die detail
’n Reënketting regs van die deur herlei reënwater na die grag met rivierwater wat voor die huis verbyvloei. Dié water skep ook ’n natuurlike verkoelingstelsel: Die wind vervoer koel lug boontoe deur die lae vensters.

’n Dek van sandgespuite dennehout loop voor die huis verby. Water vir die natuurlike swembad net buite die kombuis word uit die rivier daar naby gepomp. “Die swembad is ’n heerlike lafenis teen die hitte; ek is ook dol op die swetterjoel voëls wat soggens hier kom bad,” sê Darryl.

’n Skuifdeur van dennehoutplanke kan oop- of toegetrek word vir privaatheid by die hoofbadkamer se buitestort. Tussen die houtlatte is stroke gaas, wat insekte uithou. Van die hout wat gebruik is as bekisting vir die vasgestampte mure, is hergebruik in die plafon. ’n Eenvoudige houttafel dien as wasbakkas in die hoofbadkamer; die wasbak is ’n blik-uitstalbak van Weylandts.

Ek wou die onvolmaakthede beklemtoon deur ou meubels met moderne toebehore te kombineer. – Darryl

V&A met die argitek

Die argitek Paul Marais se ontwerp vir die huis het ’n Afrisam-SAIA-prys vir volhoubare argitektuur en innovering verwerf.

Is ’n gebou van vasgestampte grond iets wat Jan Alleman kan aanpak, en maak die ligging saak?

Enigiemand kan so ’n struktuur op enige plek bou. Die tegniek word wêreldwyd, in nat én droë klimate, toegepas. In Jemen is daar geboue wat sewe verdiepings hoog staan en in China is hele dorpe (tolou) van vasgestampte grond gebou. Al wat jy nodig het, is goeie grond wat uit sand, gruis, klei en slik bestaan, en dié materiaal kry jy oral in die land.

Wat is dit van vasgestampte grond wat jou so fassineer, en watter ander groenboumetodes is ’n tweede kyk werd?

’n Muur van vasgestampte grond is soos ’n mooi stuk hout – jy wil net daaraan vat. Dit het ’n klein koolstofspoor, en met ’n goeie ontwerp kan sy termiese massa die huis se binnekant uiters gemaklik maak. Ander materiale om te oorweeg is hout en bamboes, hennep (vir sy uitstekende isolasie-eienskappe), hooibale en tradisionele strooi-en-kleistene.

Hoe duursaam is ’n huis van vasgestampte grond?

’n Gebou van gestabiliseerde gestampte grond sal ’n baksteengebou oorleef; trouens, van hierdie grondgeboue is meer as 6 000 jaar oud. Die mure is mooi en al is dit sagter as tradisionele pleister, is dit hard genoeg om ’n duursame huis mee te bou. Die mure gee selde ’n stowwerigheid af, maar as dit gebeur, kan dit eenvoudig verseël word.

Wat is die uitdagings wanneer jy ’n huis van vasgestampte grond bou?

Jy moet van meet af alles gereed hê. Omdat daar baie vakmanne betrokke is by konvensionele baksteenhuise, kan klein foutjies enige tyd gedurende die bouproses reggestel word. Grond-huise word op een slag klaargebou, wat enige aanpassings agterna moeiliker maak.

Die eerste struktuur wat op die eiendom opgerig is, is wat Darryl “The Shack” noem. Dis gebou van hout van ’n plaaslike skrootwerf en sy het vir 18 maande daar gebly terwyl die hoofhuis gebou is – nou is dit die perfekte slaapplek vir gaste. Die stinkhoutbed is ’n erfstuk van haar ouma en die ysterbed was ’n tweedehandse vonds. ’n Ragfyn muskietnet is onontbeerlik in dié geweste.

KONTAK EN VERSKAFFER
  • Paul Marais 078 147 8945, simplysustainable.co.za
  • Weylandts 0860 103 400, weylandts.co.za

Ekstra bronne

  • issuu.com/earthworksmagazine
  • insideout.com.au
  • naturalbuildingcollective.com