Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk

WIE KUIER HIER? Nicol en Vilhéta Retief

WAAR Stilbaai-Wes, Suid-Kaap

GROOTTE 432 m²

Die Retief-gesin se verbintenis met die gewilde stranddorp Stilbaai kom ’n lang pad; trouens, dit strek terug tot die 1940’s.“My man, Nicol, gaan al Stilbaai toe vandat hy ongeveer vier jaar oud is – en dis nou amper 75 jaar!” vertel Vilhéta. Later, as jonggetroudes en die volgende 15 jaar, het die paartjie vakansie gehou by die bekende Ocean View-losieshuis van tannie Ella van der Merwe, aan die oostekant van die Goukourivier.

In 1985 het hulle hul eerste eiendom op die dorp gekoop – ook aan die oostekant – maar oor die jare het al hoe meer van hul vriende hulle op die westeroewer gevestig.

“In 1991 het ons op die ingewing van die oomblik by ’n eiendomsagent ingestap en gevra of daar nie ’n huis teen die see in Stilbaai-Wes te koop is nie. Soos die geluk dit wou hê, was dié huis juis toe vir dringende verkoop uit ’n boedel beskikbaar.”

Die Retiefs het ’n kontantaanbod gemaak, en dis aanvaar. “Dit was eintlik ’n gróót skok,” onthou Vilhéta, “maar agterna gesien was dit ’n baie goeie waagstuk, want ek glo nie ons kon in ’n lekkerder plek belê het nie.”

Destyds het een van Stilbaai se oorspronklike huise op die erf gestaan. Maar die houtboorders in die vloere en dakbalke, ’n erg onpraktiese uitleg, klein venstertjies en ’n badkamer uit die jaar toet het vir baie werk – en vergifnis – gevra. “Met verloop van tyd het ons die huis buite-om bedek met asbespanele. Dit het die huis toe baie meer byderwets laat lyk!”

Dit was eers amper 20 jaar later, in 2008, dat die Retiefs besluit het om die ou huis te sloop en van nuuts af te bou. Omdat die oorspronklike huis so deurtrek was van houtvrot en weens al die veranderinge wat oor die jare gemaak is, het dit lankal sy oorspronklike karakter verloor en was daar nie probleme met die Erfenisraad nie. Hulle kon ’n huis bou wat presies aan hul eie en hul kinders en kleinkinders se behoeftes voldoen. En so is die Blikhuis gebore. 

Die hoofslaapkamer het sy eie balkon met ’n asemrowende see-uitsig. Een van die argitek, Johann Slee, se ontwerpkenmerke is die gebruik van hoë plafonne – dit laat klein vertrekke groter lyk. Dis in die detail Die plafonne is afgerond met geverfde Nutec.

Die leefvertrek op die grondvloer maak na agter oop op ’n beskutte binnehof met ’n houtdek van balau. Die skuifdeure is breër en hoër as die gewone, sodat binne en buite naatloos aaneenvloei. Die aluminiumhortjies is doelgemaak vir sonbeskerming en veiligheid, wat gordyne oorbodig maak.

’n Kleurvolle skildery en kussings in die sitkamer helder die neutrale palet op.

Kussings van Biggie Best

Die eetkamer is deel van die oopplan-leefvertrek wat die kombuis insluit. ’n Aparte opwasarea is wel buite sig van die leefruimtes – en help as ’n mens die vakansieskottelgoed wil wegsteek.

Presies wat hulle wou hê

Ná jare van vakansie hou in die oorspronklike huis op die erf het die Retiefs presies geweet wat hulle wou hê. Hulle het met die Stellenbosse argitek Johann Slee gaan gesels en vir hom ’n ellelange lys vereistes gegee wat by die nuwe huis ingewerk moes word.

“Gelukkig het ons baie goed gekliek,” vertel Vilhéta. “Ons koppe het eenders gewerk. Hy het die byna onmoontlike vermag om alles reg ingepas te kry, aangesien ons in die voorste ry teen die see beperk is om net die helfte van die 476 m2-erf toe te bebou.” Die huis, ’n dubbel-verdieping, het ’n voetspoor van net 216 m2 en val dus binne die boubeperking.

Vilhéta sê groot vensters aan die seekant was vir haar ononderhandelbaar. Sy wou ook die see kon sien uit die kombuis en nie afgesluit voel van die geselskap in die woonvertrek wanneer sy kook nie. “Genoeg slaapkamers vir ons gesin – kinders, kleinkinders en ons huishulp – uiteraard met die nodige badkamers daarby, was nog ’n vereiste; so ook stoorplek vir al die sporttoerusting, ’n buitestort en ’n binnebraai. Met die beperkte toelaatbare vloerspasie was dit voorwaar ’n uitdaging, maar die hoë plafonne onder skep die illusie van ruimte, al is die vertrekke eintlik nie baie groot nie.”

Vir Nicol was bêreplek vir die boot en genoeg parkeerplek agter die huis, aan die straat se kant, die belangrikste. “Dis altyd ’n krisis in vakansietye wanneer almal see toe kom!” Want kom somer, is die Retiefs se huis ’n miernes van bedrywigheid.

En daar is plek vir almal, danksy ses slaapkamers, vier badkamers en ’n gastetoilet. Daar is ook ’n buitekamer met sy eie badkamer.

Vilhéta vertel dat hul erf in die “ou dae”, voor Stilbaai sy eie munisipaliteit gehad het, die plek was waar almal kom water skep het. “Daar is heelwat fonteine wat afloop see toe en nie almal se water is blykbaar ewe lekker nie. Maar ons fontein se water is baie minder brak as die ander fonteine s’n.” 

Dis vermoedelik dié soet water wat die rede is waarom die manatoka-boom, wat Vilhéta geplant het kort nadat hulle die erf in die vroeë negentigerjare gekoop het, so goed groei. “Vir my kleinkinders, eendag,” sê sy. Vandag is dit ’n pragtige boom wat in die somermaande die skerp oggendson afkeer. “Die boom is wel windskeef gewaai deur die suidoos en ons moes hom reeds met twee pale stut.” 

’n Houttrap in die binnehof lei na die motorhuise en parkeerplek op straatvlak. Regs is ’n losstaande gaste-eenheid met ’n pakkamer daarbo.’n Buitestort om van seesand ontslae te raak.

Die plafon van bekiste beton en ’n Flowcrete-sementvloer komplementeer die neutrale palet waarvoor Vilhéta so lief is. Dit pas haar raakvatmanier van doen. Sy hou van fieterjasielose, praktiese afwerkings – veral wanneer sy vakansie hou.

Ons het alles op ons wenslys gekry. Die goedkeuringsproses was ewe maklik, want die argitek het binne die riglyne gebly... en al die bure was tevrede. – Vilhéta

Die slaapkamers se plafonhoë skuifdeure is groter as standaard-binnedeure en dra by tot die oop gevoel reg deur die huis. Wanneer die reuse-skuifdeure in die gang heeltemal oop staan, verbind dit die slaapkamers met die binnehof. In ’n seehuis het jy genoeg hangplek vir handdoeke, strandsakke en allerlei vakansie-dinge nodig!

Outentieke karakter

Die natuurlike fontein wat deur die erf loop, het nie die bouproses vergemaklik nie. “Die bouer moes letterlik ’n ‘dam’ bou wat die fonteinwater gedurende die werkery opgevang het. Daarvandaan is die water uitgepomp.” Weens die grondwater is daar ook op ’n vlotfondament besluit.

Hoewel die Blikhuis volledig van bakstene gebou is, is dit met Colorbond-dakplate beklee. “Die voordeel hiervan is dat die huis nou ’n dubbele spoumuur het,” verduidelik Vilhéta. “Dit maak die huis koeler in die somer en warmer in die winter. Ek is die praktiese een in die huis en was eers glad nie te vinde vir die ‘sink-idee’ nie, want ek was bang vir roes so langs die see! Maar ek het my laat ompraat, want dit was ‘anders’!” En ’n groot pluspunt is dat dié bekleding nie geverf hoef te word nie, vertel sy ingenome.

Al lyk dit dalk op die oog af vreemd, slaan die ontwerp terug na die oorspronklike sinkplaat-vissershuisies op Stilbaai; dit het gehelp met die munisipale goedkeuring. “As dit nie vir die dakplate was nie, sou ons dalk gesukkel het om die andersins moderne huisplan deurgevoer te kry – die plate gee dit juis daardie ‘ou’ gevoel.”

Hoewel Vilhéta haar deur die andersheid van die bekleding laat ompraat het, is die vloer haar eintlike hoogtepunt. Hulle het die eerste keer van Flowcrete, ’n Duitse produk, bewus geword by hul plaaslike vrugtemark waar vurkhysers oor die vloer ry sonder dat dit enigsins beskadig word.  “Dit was aanvanklik moeilik om die regte vloerafwerking te kies, maar toe ons op dié produk afkom, was al ons vrese besweer. Boonop is dit nie koud onder jou voete of glad as dit nat word nie.”

Die hoofslaapkamer is op die boonste vlak, in die dakruimte. Die bed kyk reguit see toe, en so ook die stort in die en suite-badkamer.

Blou deken van Biggie Best

Vilhéta se liefde vir neutrale kleure is ook te sien in die badkamers, wat almal dieselfde afwerking het.

Dekor

Toe die Retiefs destyds die eiendom gekoop het, was dit met meubels en al. “Die vorige eienaar se seun, by wie ons die huis gekoop het, het ons mooi gevra om tog nooit die stoepstoele te verkoop nie. Ons het dit nou nog, hoewel ons dit nuut laat oortrek het.” Die bitter swaar stoele is van ysterhout gemaak en het sparretjies aan die kante.

Vilhéta vertel sy het die huis se binneversiering self behartig. “’n Vriend van ons het al die ander houtmeubels gemaak. Aangesien die kamers maar klein is, moes ons op baie presiese mate werk, wat uiteraard beperkend was.” Tog, sê sy, dwing dit ’n mens om prakties te werk te gaan, wat materiaal én ruimte aanbetref. “Ek glo immers ‘less is more’!”

VERSKAFFERS

Biggie Best 021 534 8662, biggiebestwebshop.co.za

Flowcrete flowcretesa.co.za

Slee+co 021 887 3385, slee.co.za