Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Arno en Geraldene du Plessis
WAAR Port Elizabeth
GROOTTE 350 m²

Toe Arno en Geraldene du Plessis ’n leë erf koop in Sunridge Park, Port Elizabeth – minder as 1 km van die huis waar hulle al 36 jaar lank dolgelukkig gewoon het – was die plan dat hulle binne ’n jaar by hul “droomhuis” intrek.

“Ons vorige huis was nogal ruim, met ’n groot tuin en uitgestrekte grasperke – en al die kenmerke so eie aan ’n huis uit die tagtigs. Maar met verloop van tyd het ons al hoe meer begin dink aan die voordele van ’n blyplek wat minder onderhoud verg; een wat ons kan geniet en waardeer voor ons later na die aftree-oord hier naby aanbeweeg,” sê Geraldene.

In April 2012 het hulle op een van hul oggendstappies afgekom op ’n oorgroeide erf wat besig was om onderverdeel te word. “Ons het gou-gou uitgevind wie die eienaar is en binne ’n paar weke die transaksie beklink,” verduidelik sy.

Maar die paartjie het gou besef as hulle dié bouprojek wil oorleef, is geduld die wagwoord! Buitendien moes hulle wag dat die nodige dienste aangelê word voor hulle oordrag kon neem – en dít het amper ’n jaar geneem.

In dié tyd het Arno en Geraldene kennis gemaak met die argitek Quinsley Sale van Kiu Architecture, ’n gereelde besoeker aan die koffiewinkel waar hulle ook graag kuier. “Ons het hom vertel van ons verwagtinge en begroting, en hom opdrag gegee om met die ontwerp te begin,” verduidelik Arno. “Toe hy sy eerste poging vir ons wys, was dit ’n absolute treffer. Ons het hom daar en dan gevra om voort te gaan met die detail-werk en ’n geskikte bouer te vind.”

Een van die glanspunte van die Du Plessis’s se huis is ’n muur van drooggepakte klip wat sowat 20 m oor die breedte van die huis se agterkant strek; dis 5 m hoog en 800 mm dik.

’n Gedeeltelik oordekte stoep kyk uit op die voortuin en swembad. Die huis se ontwerp maak voorsiening vir sonkragpanele – die hele plek sal kort voor lank onafhanklik van munisipale krag en water wees.

Die argitek Quinsley Sale se visie was ’n eenvoudige oopplan-uitleg met goeie proporsie en puik afwerking. “Ek wou ’n ruimte ontwerp wat warm en elegant sou wees, maar steeds ’n industriële gevoel het. Dié benadering het ek met die argitektuur én die meubels gevolg; die mikpunt was ’n eklektiese dog kontemporêre huis met ’n ontspanne atmosfeer.”

Dit sit nie in enigeen se broek nie

Een van die voorvereistes vir die nuwe huis was genoeg ruimte dat Arno aan sy versameling klassieke motors kan werk. “In die ontwerpstadium het ons besef die garage is beplan vir waar die bestaande swembad op die erf was,” sê Arno. Tydens ’n naweekbesoek aan die terrein het Arno ’n blink idee gehad: Hulle kan die swembad uitgrawe, en pleks van die gat opvul, kan hulle ’n kelderverdieping met ’n motorhystoestel bou.

Die paartjie wou kontant bou en het ’n streng finansiële plan opgestel. Maar toe begin die kwotasies inkom – en oorskry die begroting met ’n halfmiljoen rand! Uiteindelik het hulle ’n bouer gekies wat hulle by ’n handelskou ontmoet het; dié se kwotasie was heelwat nader aan die bedrag wat hulle in gedagte gehad het.

Maar kort daarna moes hulle die koste van die hele projek oorbereken as gevolg van gebrekkige skattings. ’n Rotslaag onder die swembad was die eerste uitdaging; hulle moes gespesialiseerde toerusting huur, wat hulle baie uit die sak gejaag het. “Net toe ons tot by die nodige diepte van 3 m gegrawe het, het ons ontdek ons het ’n waterprobleem,” verduidelik Arno. “Weens ’n hoë watertafel het ons nou ’n pomp in die kelder wat elke twee dae sowat 1 000 liter water na die munisipale stormwaterdrein pomp.”

Om vir die waterprobleem te vergoed moes die keldervloer herontwerp word, waarna keermure van bekiste beton met staalversterking en waterdigtingsmiddels geïnstalleer is.

Die skool visse bo die waterfokuspunt naby die huis se ingang kom van Arno en Geraldene se vakansiehuis op St. Francisbaai.

DIE EINDE IN SIG...

In Desember 2013, vyf maande nadat die bouproses begin het, het Arno en Geraldene se verhouding met hul bouer skipbreuk gely. En nadat ’n nuut aangestelde bourekenaar vir hulle gesê het hulle is op pad om hul begroting met miljoene te oorskry, het Arno daarin geslaag om die kontrak te kanselleer en volle beheer oor die projek te neem.

Dit was amper tyd vir die dak om opgesit te word en Arno het besluit om op sy eie voort te gaan met ’n handlanger. Hulle het stadig gevorder en die begroting het hulle ingeperk, maar die paartjie was meer as gelukkig om die leisels oor te neem. Hul droomhuis het uiteindelik begin vorm aanneem! Op die ou end het hulle ekstra geld nodig gehad om die projek te voltooi; daarom het hulle besluit om hul vakansiehuis op St. Francisbaai te verkoop.

“Die bouproses was ’n absolute nagmerrie,” bieg Geraldene. Maar was dit die moeite werd? Beslis!Die Baaise kunstenaar Joff het die pragtige uil teen die muur geverf wat deur die braaikamer se glaspanele te sien is.

Net die slaapkamers het volvloermatte; die res van die huis het hout- of afgevlakte sementvloere.
Houtvloere geïnstalleer deur Oggie; lessenaar en bypassende kas van Weylandts

Natuurlike materiaal soos eikehout, balau en handgepakte klip is regdeur die huis gebruik saam met die bekiste beton, bakstene en houtdetail. Arno het ’n Morsø-kaggel van The Fire Works onder die trap ingebou sodat warm lug boontoe kan sirkuleer; die klipmuur behou die hitte besonder goed.

Die kombuis het ’n losstaande eiland en maak op die braai-area oop. ’n Was- en opwashoekie skuil agter die kaste, en op die verste punt is ’n deur wat oopmaak op ’n binnehof wat die tenke, pompvertrek en ’n klein wasgoedlyn huisves. Die huis is grootliks deur Fab Interiors gemeubileer. “Ons het ’n paar stukke van ons vakansiehuis op St. Francisbaai gebring,” sê Geraldene. “Ons gaan mettertyd nog artikels byvoeg, maar ons wil nie die ruimte oorvol maak en die aandag van die briljante argitektuur aftrek nie.”
Eetkamertafel, ingeboude kaste en kombuiskaste gemaak deur William Terry Designs

Laat daar lig wees

Die muur van drooggepakte natuurlike klip aan die agterkant van die huis het vensters op bepaalde plekke sodat lig op die trap en tussenvlak kan val. Die gebruik van primêre kleure rondom die vensters het ook ’n belangrike impak: “Dis geïnspireer deur die kleure in moderne kuns, strokiesboeke en popkuns,” sê Quinsley.

“Ons het dit net hier en daar gebruik om ’n speelse element aan die fasade te verleen. Dit pas by die klein teëls in die en suite-badkamer en gastebadkamer onder.” 

1. Die hoofslaapkamer het ’n verdeler wat die bed van die badkamer skei. Die kopstukke in al drie slaapkamers het ingeboude swewende bedkassies. 2. Dié “Smartie-teëls”, soos Arno en Geraldene dit noem, is in die hoofslaapkamer se en suite en die gastebadkamer gebruik.
Sanitêre ware en ligte van Gigi’s Design House

Die bekleding van natuurlike hout en oop sweefrakke maak dit makliker om elke dag te besluit wat om aan te trek. – Geraldene

Die aantrekkamer langs die hoofslaapkamer hang letterlik oor die braai-area. Aan die buitekant is dit beklee met garapa (sigbaar uit die braaikamer) en binne het dit mure van gerigteveselbord (“OSB”) pleks van bakstene, wat swaarder sou wees.

VERSKAFFERS