Foto’s Greg Cox l Produksie Marian van Wyk

WIE WOON HIER?
Steven en Lella Kondylis, met Charlie die Jack Russell en Lulu die Yorkie 
WAAR Constantia, Kaapstad
GROOTTE 506 m²

Op die gesellige stoep is die dekor elegant maar sonder pretensie, in ’n wit-en-grys palet. Eetstoele van Tafelberg Furniture; banke van Plaisir du Jardin 

Lella Kondylis sê self sy’s presies die teenoorgestelde van Marie Kondo, die beroemde Japannese ontrommelaar wat glo elke ding moet op sy plek wees. Nie dat sy van ’n deurmekaarspul hou nie. Dis juis die bekoring van haar 30 jaar oue huis in Constantia: Aan die een kant is dit lig en lugtig; aan die ander kant die ene dramatiese dekor met groot areas bedek met plakpapier en helder kleure – wat uiteindelik perfek saamwerk.

“Alles het ’n storietjie, maar ek oordink beslis nie my dekor nie,” sê Lella, ’n keramiekkunstenaar wat onder die naam Porcelain Petites werk. “Ek verkies ’n gesellige huis, nie ’n skouhuis nie.”

Lella en Steven het hul huis in die 1990’s gebou en dit is al as ’n kombinasie van die Kaapse en Karibiese volksboustyl beskryf. Hulle wou ’n eenvoudige struktuur hê met ’n sinkdak en oop dakkappe. “My opdrag aan die bouers was dubbelvolume en hope lig,” verduidelik Lella. 

Met verloop van tyd het die huis organies saam met die paartjie gegroei. Hulle het die kinders se kamers, nadat dié uit die huis is, vergroot en ook ’n soldervertrek en toilet bo die motorhuis gebou. ’n Buitedeel is in ’n sonvertrek omskep en ’n nuwe stoep is aangebou. 

As kunstenaar is dit vir Lella tweede natuur om balans met kleur te skep; dit geld ook haar huis se afwerkings en die dekor. Die vloere is doodgewone Suid-Afrikaanse dennehoutplanke; sy het party afgewit en ander meer solied bedek met wit padverf. 

“My vloere is glad nie vir my heilig nie,” verduidelik sy laggend. “Dis prakties, en kan nogal raas – veral wanneer die kinders mekaar deur die huis gejaag het toe hulle klein was.”

Die meeste van haar vensters het nie gordyne nie en daarom word die binneruimtes in natuurlike lig gebaai. Omdat die eiendom omring word deur bome, is privaatheid nie ’n kwessie nie. 

Die onderste slaap- en badkamers het wel gordyne en blindings voor die vensters; in die hoofslaapkamer is blindings en hortjies. “Die glasdriehoek bo my balkondeur en die kantvensters is oop sodat ons saans na die maan kan staar,” sê Lella.

’n Verskeidenheid geverfde en antieke meubels werk saam in die leefruimtes. “Ek was voorheen ’n sierverwer en het mense jare lank probeer oortuig om lelike hout te verf. Maar natuurlik sou ek nooit antieke stukke verf nie. Ek kry partykeer net ’n bevlieging en dan verf ek stukke wat ek dink ’n bietjie kleur kort.”

’n Kunsversameling versier die mure en Lella gee toe sy het straks gans te veel kunsvoorwerpe. “Ek versamel kuns, en my ma en ouma het vir my wonderlike stukke gegee,” verduidelik sy. “My pa het gehou van versamelings en ek het nou van syne ook. Ek hou van sterk ontwerpe, maar is nie seker of dit ’n bepaalde styl is nie. 

“Dubbelvolume en witgeverfde oop dakkappe skep die idee van ruimte en ek dink graag dit alles werk goed saam. Daar’s niks gewoons aan ons huis nie. ’n Mens kan dit seker as eklekties beskryf, miskien selfs eksentriek!” 

Dis eers onlangs dat die treffende plakpapier wat een hele muur tot by die tussenvlak bedek, bygekom het; Steven is mal oor palmbome, terwyl Lella van die verskillende groene en titsels rooi hou.

Plakpapier van Cara Saven Wall Design; kandelaber van Morgan Associates; tafel en stoele van Block & Chisel 

Dahlias van Jaftha’s Flower Farm in Constantia bring kleur op die ou werkbank wat rooi gespuitverf is.

Die TV-kamer is uit die oog op ’n tussenvlak bo die oopplan-eetgedeelte. 

Die oorspronklike onderdak-stoep is toegebou en omskep in ’n klein sonvertrek, steeds met die ou rietplafon. Dis nou ’n lekker kuierkol in die winter. Die kunswerke heel links is geskilder deur Lella se pa se oupagrootjie terwyl hy in Afghanistan was. Muurlig van Morgan Associates; groot kunswerk met tente deur die Spaanse kunstenaar N de Garcia; ronde skildery deur Anthony Harris

Kombuis met ’n kinkel

Oor die jare is verskeie veranderings in die kombuis aangebring. Dit was aanvanklik ’n spierwit ruimte met ’n massiewe eiland. 

Oorspronklik was die trap en venster links agter ’n muur versteek, maar nadat die muur afgebreek is, kom die trap en venster tot hul reg as deel van ’n lieflike oopplankombuis waar baie natuurlike lig instroom. Al die kombuiskaste is uitgehaal sodat die paartjie die vertrek van voor af kon inrig.

 “Ek wou nie hê dit moet soos ’n konvensionele kombuis lyk nie; ek het heelparty losstaande eenhede wat rondgeskuif kan word,” verduidelik Lella. “Ek is aangetrokke tot donker kleure, vandaar die houtskool kaste. En die tafel werk net soveel beter as ’n eiland. Om dié tafel kook ons graag, skink drankies of geniet mekaar se geselskap. Ons onthaal ook graag met ’n ‘feestafel’.

Dan kuier gaste in die eetarea of buite, terwyl ek ’n fees hier op die kombuistafel voorsit.”

Min mense sou ’n pienk bank in die kombuis verwag, maar hier werk dit soos ’n droom. Dié klein bank, wat 30 jaar oud is, het al talle gedaantewisselings ondergaan en pas perfek onder die trap. Lella het die kombuistafel se pote geverf en die stoeltjies kom van ’n rommelwinkel. Kaste deur Reto Kitchens; tafel van Block & Chisel; kandelaber van die destydse Smileys at Home

Op die stoep

Die eenvoudige dog elegante stoep het ’n paar jaar gelede bygekom nadat die oorspronklike onderdakstoep toegebou is. “Ons bring die meeste van ons tyd hier deur en wanneer die weer dit toelaat, is dit ook waar ons al ons maaltye geniet,” sê Lella. ’n Manjifieke pienk bougainvillea skep ’n betowerende atmosfeer in die somer wanneer dit vol in die blom is; daar broei ook talle spreeus in die struik. Ander rankplante wat die wit mure bedek, sluit grenadella, jasmyn en bloureën in.“Die stoep met sitplek aan een kant is eintlik ’n verlengstuk van die tuin en het die lieflikste uitsig op die berg,” vertel Lella. “Jy kan ook die swembad van daar af sien. 

“Die vloer is eenvoudig wit beton wat ek met grys industriële verf bedek het. Maar dit was ’n groot fout, want dit lyk bietjie soos ’n motorvertoonlokaal. Ek sien dit begin nou afdop – dis eintlik ’n seën!”  

Lella en Steven is geweldig trots op hul byekorf en bly oor die sowat 16 flessies heuning wat hulle elke maand daaruit oes. Die tuin is organies en daar is massas blomme en onkruid waaraan die bye kan smul. In die winter haal hulle nie heuning uit nie sodat die bye kan rus. 

In die somer bied hierdie tuinhoekie net buite die eetkamer ’n koel sitplek uit die son, perfek vir ’n koppie koffie. Skaduliewende plante versag die harde elemente. Tafel en stoele van Plaisir du Jardin

[Lella se dekorwenke]

• Vertrou jou instink. Jou huis is nie ’n vertoonstuk nie – jy leef daar en dis belangrik dat jy daarvan hou. Moenie die voorkoms oordink nie. 

• Verf verrig wondere en jy kan altyd oorverf as jy nie van die resultaat hou nie. Verf altyd eers toetsblokkies sodat jy die regte kleur kan kies.

• Gebruik tekstiele en strooikussings om spatsels kleur in te bring.

• Ondersteun plaaslike verskaffers – ons het wonderlike kunstenaars en handwerkers in die land.

Die hoofslaapkamer is ’n ware toevlug met ’n groot glasdeur na die balkon onder ’n dak van grenadellablare. Met die massiewe moeraseik daarbuite voel dit kompleet soos ’n boomhuis. Die goue en silwer Griekse ikone (party is antiek) teen die muur kom van Steven se familie; die paartjie bring altyd nog ikone saam van hul reise na Griekeland.

Badkamer-werkboek

Hoewel klein, voel die en suite-badkamer ruim danksy die hoë plafon en oop dakkappe. “Die instapstort het nie ’n deur nie en matglas in die venster laat ons toe om die uitsig op die tuin geniet,” verduidelik Lella. “Van hier kan ons al die groenigheid en pragtige voëls waardeer.” ’n Klein ovaal bad en ’n toilet met ’n waterbak in die muur spaar heelwat ruimte, terwyl die kabinet met sy dubbelwasbak oorgenoeg bêreplek het. Daar is ’n stortkop en ’n handstort in die stort, asook ’n haak teen die oorkantse muur wat sorg dat jou handdoek droog bly en byderhand is. 

Eenvoud en elegansie heers in die en suite-badkamer.

Kennersraad

Sandy Warner, wat in badkamerontwerp spesialiseer, het hierdie wenke vir ’n stortvloer:

• Skep ’n naatlose voorkoms deur dieselfde vloerteëls in die stort as in die res van die badkamer te gebruik. Groot teëls (1200 x 600 mm) is tans baie gewild.

• Die meeste moderne badkamervloerteëls is glyvas; jy kan ook ’n produk bo-oor aanwend wat die oppervlak veiliger vir nat voete maak.

• Mosaïekteëls bly ’n gewilde keuse vir stortvloere; kies ’n mooi ontwerp, soos stylvolle ses- of agthoekige vorms, in ’n soortgelyke kleur as die res van die vloer. Mosaïek verskaf meer tekstuur en detail en is ook meer glyvas; hou net in gedagte dat die voegbry onderhoud verg.

• Patrone wat van die badkamervloer reg deur tot in die stort strek, werk goed – selfs in klein ruimtes! 

• Vir ’n naatlose oorgang in ouer huise waar die badkamervloer ook van hout is, is dit raadsaam om ’n stortvloer met ’n hout-voorkoms by ’n badkamerverskaffer te koop of te laat maak.

• Marmer is nou hoogmode in badkamers, hetsy eg of sinteties. Onthou net dat marmer goed verseël moet word en gereelde onderhoud nodig het om mooi te bly.

KONTAK sandy@san-ware.co.za 

Die wasbaktafel in die gastetoilet is geverf met Plascon Velvaglo Silver Protect; dit het ’n waterbasis en die kleur is spesiaal gemeng sodat dit by die plakpapier inskakel. 

Kies vir jou!

1 Joburg-muurhake van beukehout (pak van drie; 22 cm) R420, Knus

2 Vlekvryestaal-seepbakkie met goue afwerking (12 cm) R129, @home

3 Medium rottangmandjie R799,99, Mr Price Home

4 Umbra- kuipvormige stortrak (33 x 59,7 cm) R1299, Yuppiechef

5 Istanbul-spieël met silwer rand (91 x 50 cm) R1199, @home

6 Leerstreep-katoenbadmat (80 x 50 cm) R329, Woolworths

7 Mini-orgidee met twee stele R199,99, Woolworths

8 Wild Coast-mini-geurkers (100ml) R130, Knus

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

@home 0860 834 834

Anthony Harris 072 379 5933

Block & Chisel 087 015 0181

Cara Saven Wall Design 082 953 6246

Jaftha’s Flower Farm 078 999 7504

Knus 087 550 7600, knus.co

Morgan Associates 021 762 8961

Mr Price Home 0800 212 535

Plaisir du Jardin 021 794 4449

Reto Kitchens 021 418 4055

Porcelain Petites 083 226 2309, porcelainpetites@gmail.com

Tafelberg Furnishers 021 944 3330

Woolworths 0860 022 002

Yuppiechef 0861 702 4969