Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Leoné en Michel Rouillard
WAAR Greyton
GROOTTE 280 m²

Dit was toeval wat Leoné en Michel Rouillard in 2005 Greyton toe gebring het. “Ek was op reis saam met ’n vriendin en ons het onder meer die ikoniese sendingdorpie Genadendal besoek,” onthou Leoné. “Ons het besluit om by Greyton aan te ry omdat dit net 5 km weg is. Ek was dadelik verlief en het sommer daardie selfde dag ’n huis op dié pragtige dorp gekoop!”

’n Paar jaar later het Michel Johannesburg se gejaag verruil vir die “stilte, mense, natuur, vars lug, leefstyl en min verkeer” op Greyton, minder as twee uur se ry van Kaapstad.

Al is die paartjie afgetree, was dit nie lank voor hulle by die dorpslewe betrokke geraak het nie. Sedert 2006 bemark Leoné toerisme op Greyton, en sy help ook met die organisering van die jaarlikse Classics for All-fees. Michel, wat in Mauritius gebore is, het ’n passie vir die ontwerp en bou van huise; hy werk hard aan die bewaring van Greyton se kwesbare volksboukunde, is lid van die Greyton Conservation Society en dien in die Greyton Heritage Overlay Advisory Committee.

Die kaggel het ’n sementafwerking en skoorsteenmantel van gegote beton gekry. “Die ou stoele en Persiese mat is heeltemal sonder pretensie,” sê Leoné. “Dit laat ons gaste tuis voel.” Zorya geniet ook die ondervloerse verhitting in die sement.

’n Splinternuwe huis opgeknap

Die huis was nuut gebou, maar die oorspronklike ontwerp deur Andrew Swain (voorsitter van die Estetikakomitee) is aangepas vir ’n vakansieplek, en die veranderinge het geen waarde tot die oorspronklike plan toegevoeg nie. “Die gebou het ’n goeie raamwerk gehad met goeie proporsies en simmetrie wat baie goed beplan was, maar van die nuwe detail het dit bederf,” sê Michel.

Daar was byvoorbeeld nie ’n stoep nie – iets wat amper ongehoord is vir ’n huis in die Overberg. “En al het die huis ’n lieflike hoë plafon met ontblote balke gehad, het hulle in die slaapkamer geen beukvensters ingesit wat op warm dae ’n trek veroorsaak en die lug help afkoel nie. Daar was net ’n groot, kaal gewelmuur sonder enige openinge,” verduidelik Michel.

Die hoë plafonne, wel nie dubbelvolume nie maar “een-en-’n-half- volume”, in oorstemming met Greyton se erfenisriglyne, bied genoeg ruimte vir ’n loopgang waar Michel sy reuse-versameling landskap- en argitektuurboeke hou – hy noem dit grappenderwys sy “universiteit”. “Ek het nog altyd gedroom van ’n biblioteek. Dis mos net wat ’n ware gentleman nodig het,” sê hy laggend.

Die oorspronklike loopgang was brouwerk van dun vloerplanke met ’n lendelam handreling. “Ons het herwinde dwarsbalke aan staal-mantels geheg wat in die muur ingebou is,” verduidelik Michel. “Maar dit was nie stabiel genoeg nie en is toe met staalkabels aan die dakbalke geheg. Ons moet nog ’n staal-handreling aansit. Die loopgang verbind die twee soldervertrekke, ’n slaapkamer en my studeerkamer.”

Die huis het ook ’n paar ingeboude kaste bygekry sodat dit meer geskik kan wees as permanente blyplek.

Die paartjie verduidelik dat die sitkamer se uitleg so goed werk omdat dit ’n sterk middelpunt het. “Dit sal nie slaag as meubels sommer enige plek neergesit word nie,” sê Michel. “Goeie komposisie met eenvoudige, persoonlike versamelgoed troef ‘ontwerperstyl’ keer op keer.” Leoné se ma het die Hollandse Gouda-versameling in die glaskas begin, en sy en Michel het later daarmee voortgegaan. Die loopgang kry binnekort handrelings vir veiligheid.


Michel en Leoné met Dégâts die goue apporteer-hond en Zorya die baster-skaaphond.

Dis in die detail
’n Dik sementblad op die eiland is vervang met ou bekisting van Oregondennehout wat uit ’n pakhuis op Tulbagh kom. “Hout is warmer en sagter om aan te vat as beton,” verduidelik Michel.

Die oop rakke in die kombuis is die perfekte agtergrond vir ’n groot Johann Slee-skildery. Nuwe granietwerkblaaie met ’n mat afwerking is geïnstalleer.

Danksy drie dubbele oopswaaideure skakel die oopplan-sitkamer gemaklik met die nuwe stoep, wat ’n lieflike gevoel van ruimte skep. “Die dakbalke is in die muur vasgesit met epoksigekleurde staal-tappenne om onooglike balkbinders te vermy en die twee materiale naatloos bymekaar te bring,” sê Michel. Die dennehoutplafon is verseël met Monocoat. “Ons het ons meubels en dekor oor die jare bymekaargemaak en dit skep ’n eklektiese en informele voorkoms,” sê Leoné.

Ek is absoluut gaande oor ons oopplan-sitkamer en groot plaasstoep; dis wat ek nog altyd wou hê. – Leoné
Dis in die detail
  • Kort afvoerpype onder die geut is so geplaas dat reënwater direk in die klipgevulde trôe daaronder val, terwyl reëndruppels met die kettings langs afloop sodat daar nie ná ’n storm vir ure ’n gedrup is nie. “Die ronde rivierklippe in die trôe keer ook dat water spat en raas,” verduidelik Michel.
  • Die muurafwerking kan as “industriële sjiek” beskryf word. Dis gewone bakstene van Botrivier wat met ’n bouerspons en voegbry gesmeer is. Dis agterna verseël met ’n UV-stabiele klipseëlaar vir buitegebruik.
  • Dié pleisterstroke het druplyne aan die onderkant om die deure en hortjies teen reënskade te beskerm.
  • Die deure maak binnetoe oop en die hortjiedeure buitentoe.

In ’n goeie lig

Die grootste verandering was die aanbou van ’n ruim stoep van 68 m². “As ’n natuurbewuste ontwerper was ek bang ek keer al die fantastiese noordelike lig, wat belangrik is vir enige goeie ruimte. Maar die stoep het dit net versag,” sê Michel. “Die klein beukvensters laat oorgenoeg lig in, maar die grootste verskil was hoeveel sagter die lig is wat nou deur die breë deure stroom. Dis ’n kunstenaar se droom.”

Die dorp se advieskomitee oor estetika moes spook om al die brouwerk reg te maak. In een stadium het die ontwikkelaar die pas voltooide dak afgehaal en vier baksteenrye afgekap om aan Greyton se erfenisboustyl te voldoen.

“Nou is ons huis ’n stylvolle maar ietwat omstrede toevoeging tot dié sjarmante dorpie se ryk geskiedenis. Party mense sê die huis het ’n Provensaalse styl, maar ek stem nie saam nie!” sê Michel, wat nou besig is met sy Meestersgraad in bewaring van die beboude omgewing (“CBE”), ’n vereiste vir enigeen wat aan erfenisstrukture werk. “In Provence het hulle ook afgewitte mure en maak hulle gebruik van natuurlike klip, maar ons huis met sy klassieke hortjies lyk meer soos ’n ou plaashuis of -skuur.

“Ek is mal oor die eenvoud, die skaal, proporsie en simmetrie. Moderne argitekte het wegbeweeg van simmetrie omdat hulle meen dis beperkend en vervelig, maar ek glo ons is armer daarsonder. Simmetrie verskaf ’n sekere balans en kalmte aan ’n ruimte. Dis hoekom die huis werk – dis eenvoudig en lyk of dit al jare hier staan. Maar dis net twee jaar oud!”

Leoné het dié treffende kas in 1980 met haar eerste bonustjek gekoop. Danksy die groot deure kry die kamer lieflike oggendson. Die leunstoel het sentimentele waarde en talle herinneringe aan Leoné se pa.

Ek wou ’n oop stort hê, en dit werk – wat voorkoms én funksie betref – danksy die Cemcrete-afwerking. – Leoné

Die paartjie het alles in die hoofbadkamer uitgebreek. Nou het die bad die ereplek, met ’n oop stort teen een muur. Die Rouillards hou van die tekstuurryke en duursame Cemcrete-afwerking en pleks van die tradisionele spieël is daar ’n Johann Slee-skildery bo die wasbak; daar is wel ’n grimeerspieël in Leoné se hangkas en sy het ’n losstaande vollengte-spieël. Omdat Leoné en Michel elk hul eie badkamer het, is ’n skeerspieël nie nodig nie.