Foto’s Francois Oberholster

Wie woon hier? Coen en Bettie van Graan
WAAR Boston, Bellville
GROOTTE 200 m2
ORIËNTASIE Noord

“My dekorstyl is ongekompliseerd en gemaklik, maar nie altyd prakties nie,” sê Bettie van Graan. “Solank iets vir my mooi is, sal dit werk.”

En van mooi is daar baie in die huis waar sy en haar prokureurman, Coen, sedert 2002 woon. Hulle het twee kinders, Coenraad, ’n sakeman, en Lize,  wat skoolhou in die Midde-Ooste.

Toe dit by huis soek kom, het hulle eers die buurt gekies – Boston, vir sy sentrale ligging en dorpgevoel – en toe die boomryke, karaktervolle straat. Bettie en Coen was dadelik verlief op die oorspronklike houtvloere, -deure en -kosyne van dié huis uit die jare 40.

In die voortuin groei olyfbome, salie en roosmaryn. “Ek hou van ’n oorgroeide tuin met ’n amperse feetjiegevoel,” sê Bettie.

“Destyds was dit regtig nie mooi nie; elke vertrek was in ’n ander kleur geverf,” vertel Bettie. “Maar die atmosfeer het vir ons reg gevoel.”

Dié eertydse plaaskind, wat “resepteboeke soos storieboeke lees” en talle herinneringe het aan die Aga en geure in haar ouma se kombuis, het heel eerste van die kombuis se ingeboude kaste ontslae geraak en dit met ou houtkaste vervang. Daarna het heelparty binnemure tussen die leefvertrekke getuimel om die ligte oopplanruimte te skep wat nou die perfekte agtergrond skep vir haar vintagevondste en versamelgoed.

In die sonnige sitkamer hang skilderye van onder andere Pieter van der Westhuizen, Hannetjie de Clercq, Audrey Fourie, Hennie Niemann en Aviva Maree. Die kandelaber kom uit ’n historiese huis in Tamboerskloof, waar Bettie se suster Hanna Kusevitsky gewoon het. Die meubels is meestal tweedehands, en baie van die spieëls kom van Nerf-Af en Gister se Ou Goed. ’n Vriend, Ian van Heerden, het al die houtvloere met die hand wit geverf.Rusbank van Van den Bergh's

Kreatiewe inspirasie

Hoewel hulle al amper 14 jaar hier woon, het Bettie geen tekort aan inspirasie om hul huis nog mooier te maak nie.

“Ek en Coen sal sommer ná aandete oor ’n glas wyn besluit een van die mure se pleister moet af. Hy is gelukkig baie handig en staan altyd reg om spykers in te slaan en te help meubels rondskuif.

1. Dié eetkamer (een van twee) is Bettie se gunstelingvertrek en waar sy graag haar tuisgebakte koeke versier. Spieëls van Nerf-Af en Gister se Ou Goed; kandelaber van Woodstock Vintage 2. Sy is lief vir informele tuinblomme soos plaasrose en salie wat sy met laventel en ander kruiesoorte kombineer. 3. Bettie en Coen het self dié ou Oregondennehout-kas wit geverf. Sy versamel al jare lank Franse sopkomme, wat sy dikwels by Brocante Society raakloop.

Bettie en Coen het die toegeboude agterstoep in ’n kombuis verander. Hulle het besluit die funksionele “maar ai, so lelike” melamienkaste moet waai. Dit is vervang met tweedehandse houtkaste van Ross Demolition en Carrera-marmerblaaie. Coen het self die slagtersblok met die wynrak gemaak. Die mengbakke was meestal Bettie se ouma s’n.

“Ons is baie huislike mense en dis vir my belangrik dat ons blyplek ’n knus, beskermende atmosfeer het. Ons is lief vir ons huis en die daaglikse interaksie hier,” vertel Bettie, wie se groot passie kosmaak en broodbak is.

“Ons al twee kom uit ’n familie waar kos baie belangrik was. En ons het baie spesiale herinneringe daaraan. ’n Tafel is vir my alles. Dit is werk, dit is eet, dit is leef.”

Coen is ’n entoesiastiese braaier en die windbeskutte agterstoep met sy latteafdak is die egpaar se “lekkerste kuier- en bymekaarkomplek”.

Haar woonplek is ook haar speelplek: “Ek geniet die konstante rondskuif van my mooigoed om speelse prentjies te skep. Dit is nie ’n gekompliseerde huis nie, net ’n plek waar ons kalm en rustig voel, ons sanctuary.”

"Ek hou van die ingeleefde gevoel en kontras wat die growwe bakstene skep. Dit herinner my aan wat die Franse ‘sagkens verweer’ noem." – Bettie

Ouwêreldse breekware, romantiese rose, kalm kleure

Bettie is ’n versamelaar van formaat, veral van vintagebreekware en -linne. Tog is hier nie sprake van opgaar nie. Alles word gebruik, veral wanneer sy die dag ’n storm loskook.

“Ek hou nie van opgaargoed wat rondstaan nie. Balans, kontras en patina is vir my belangrik.” En dís waarvoor sy uitkyk wanneer sy na haar gunstelingvintage- winkels glip.

“Hoewel ek glad nie sentimenteel is nie, vertel die meeste goed in ons huis ’n storie. Toe my skoonma, Chrissie van Graan, ouetehuis toe is, het ek die ou melkbekers gekry wat sy vir vla gebruik het. Uit my ma, Anna van der Merwe, se huis het ek weer die groot porseleinvleisborde gekies, asook die blou blommetjiesborde waaruit ek as kind geëet het. Hoe spesiaal is dit nie om ’n tafel te kan dek met sulke herinneringe nie?”

Coen het dié Victoriaanse eikehoutkas 35 jaar gelede op ’n agterstoep op Springbok gesien, en dit vir ’n splinternuwe vrieskas verruil. Van Bettie se breekware-versamelstukke staan daarop.

Liefde vir vintage-lap

Die saadjie vir Bettie se liefde vir vintage-lap en Franse linne kom al van kleintyd, toe haar ma se meubels met Sandersonlinne oorgetrek was. “Dit het sulke groot roosmotiewe gehad, iets wat by my vasgesteek het …” onthou sy.

“Deesdae verkies ek rustiger kleure, daarom ook die wit geverfde vloere. Dit was ’n groot besluit, maar ek was nog nie ’n oomblik spyt nie. Dit skep so ’n rustige atmosfeer. Wat bykomstighede betref, is ek lief vir skakerings van antieke wit saam met my geliefde blomlappe.”

Haar meubels is ook oor die jare versamel – daar is tweedehandse kopies, veilingkopies en optelgoed. Selfs eetkamerstoele wat uit die vlamme gered is. Net haar rusbanke, yskas en stoof is nuut.

1. Die hoofslaapkamer front oos en kry heerlike oggendson. Beddegoed van Weylandts 4. Dié oopplan-badkamer is by die hoofslaapkamer aangebou kort nadat Bettie en Coen ingetrek het. Hulle het die vensterrame geverf in ’n kleur wat hulle self van ’n paar verfmonsters gemeng het. Die kassie bo die bad het hulle in ’n stegie in Kalkbaai raakgeloop. Handdoeke van Weylandts 5. Dié kas van Nerf-Af staan tussen die badkamer en hoofslaapkamer en is waar Bettie haar linneversameling bêre.

"Ek het nog nooit ’n vintagegevoel probeer skep nie, dit het maar net gebeur." – Bettie

“Soms sal ’n vriendin instap en vra of iets nuut is, dan sê ek: ‘Nee, dit het net op ’n ander plek gestaan.’ Om my dekor te verander, gee my baie vreugde; dit is die essensie van wie ek is. En my man laat my begaan. Hy geniet die huis saam met my. Hy ry dikwels uit platteland toe en kyk altyd uit vir mooi oudhede, veral vir die kombuis, wat hy getrou aandra.

“Ek gaan soek selde iets spesifieks vir die huis; die meeste goed is toevallige vondste. Dis vir my ’n leefstyl om omring te wees met die dinge wat ek liefhet.”

Hier koop Bettie graag
  • Nerf-Af in Durbanville (084 946 6326, nerf-af.co.za)
  • Nest op Stellenbosch (082 935 2544)
  • Masquerade op Franschhoek (021 876 3944, masquerade.co.za)
  • Woodstock Vintage (082 370 8311)
  • Brocante Society in Wynberg (021 797 2228)
  • Gister se Ou Goed op Somerset-Wes (021 852 4827)
VERSKAFFERS
  • Ross Demolition Salvage Stores 021 692 1275, rossdemolition.com
  • Van den Bergh’s 021 701 5980, vandenberghs.com
  • Weylandts 0860 103 400, weylandts.co.za