Foto’s Elza Cooper | Stilering Amanda van Wyngaardt

WIE WOON HIER? Matthew, Lara en baba Scarlett Stonier

WAAR Linden, Johannesburg

Grootte [116 m²]

Met sy trendy kroeë en restaurante én sentrale ligging is Linden ’n gewilde Johannesburgse voorstad.

Dit het Lara en Matthew Stonier alte goed geweet, maar hulle was beslis nie van plan om ’n huis te koop nie – tot Lara op ’n dag in 2015 verby ’n nuwe uitbreiding in die buurt ry. Haar nuuskierigheid het die oorhand gekry – en net die volgende dag het die Stoniers ’n huis van die plan af gekoop! 

Die wag werd

“Ons wou die veiligheid en gerief van ’n kompleks hê sonder dat dit voel ons woon bo-op ons bure,” verduidelik Lara. “Dit het gelyk of dié huis juis dit vir ons kon bied.” En aangesien hulle albei lang ure werk en gereeld reis, was ’n nuutgeboude huis die perfekte oplossing vir hul behoeftes.

“Ons het nie die tyd of geduld om ’n ou huis op te knap nie!” sê Lara laggend.

Omdat die Stoniers toe nog gehuur het, sou die bouery nie hul lewe omverwerp nie. Die projek het wel veel langer geduur as beplan, wat beteken het hulle moes vir ’n ruk by Lara se ouers intrek. “Dit was ’n tydelike reëling, maar toe word twee maande agt! Dit was baie frustrerend, want ons het geen idee gehad wanneer dit klaar sou wees nie. Maar nou, agterna beskou, was dit beslis die wag werd.”

Ons is dol hieroor!
Die grafiese monochroom teëls om die gaskaggel is van Hadeda.

 Lara se ouers het haar oumagrootjie se eetkamertafel en -stoele laat opknap as trougeskenk vir hulle. ’n Tekstuurryke mat kontrasteer met die sementvloer en ’n vintage-dranktrollie kan geskuif word na waar dit nodig is.

Mat van Hertex

Die Stoniers het besluit op gewone wit kaste vir die kombuis, en eenvoudige dog treffende metroteëls vir die spatpaneel.

Kombuisstoele van Amatuli; hanglampe van Arkivio

Pleks van teëls het Matthew en Lara ’n afvlaklaag laat lê vir die vloere reg deur die huis. “Ons het ’n growwe, meer industriële voorkoms gekies pleks van ’n perfek gepoleerde afvlaklaag,” verduidelik hulle.

Soos dag en nag

Omdat dit ’n nuwe ontwikkeling was, was geen oordragkoste betaalbaar nie en kon die Stoniers die ekstra geld aanwend vir die afwerking. Maar daar was een uitdaging wat hulle te bowe moes kom: Lara en Matthew se dekorsmaak verskil hemelsbreed.

“Matt wou ’n donker, dramatiese atmosfeer hê,” sê Lara. “Ek hou weer van lig, oop en modern met baie plante. Ons het regtig soos dag en nag verskil oor hoe ons huis moes lyk!”

Vasbeslote om ’n goue middeweg te vind het hulle die hulp van Debbie Luke van Designed by Debbie ingeroep, wat vroeg in die bouery al by die projek betrokke geraak het. Omdat hulle van die plan af gekoop het, was daar sekere beperkings, maar die ruimte kon in ’n mate aangepas word. “Die ontwikkelaars was redelik buigsaam oor die veranderings wat ons wou maak, maar dit was grootliks beperk tot die afwerkings en toebehore eerder as die struktuur van die gebou self,” sê Lara.

Hulle het wel ’n klein kas onder die trap verander in ’n gastebadkamer – ideaal vir wanneer hulle kuiermense kry. En die stoep is vergroot om die huis met die swembad te verbind en ’n ruim kuierarea te skep.

Ons nooi graag vriende en familie oor, so dié ruimte is baie spesiaal vir ons. — Lara

Glas-stapeldeure skei die stoep van die sitkamer. Die eetkamertafel en bankie is pasgemaak deur Nuni Furniture – dis in net vier dae aanmekaargesit nadat die Stoniers 30 mense vir ete oorgenooi het en besef het daar is nie genoeg sitplek vir gaste nie!

Die bank teen die muur is gebou om die swembadpomp te verbloem, maar bied ook ekstra sit- en bêreplek. Die strooi- en sitkussings is oorgetrek met praktiese buitelap van Hertex.

Dié blou rusbank het die grondslag gevorm vir die res van die dekor in die vertrek.

Rusbank en geel stoel van Block & Chisel; mat van Hertex; strooikussings van Mezzanine Interiors

Oor die dekor

Toe dit by die binneversiering kom, het die paartjie Debbie vrye teuels gegee – en sy het hul onderskeie style met groot sukses gekombineer.

Haar benadering was heel prakties. “Om ’n oorkoepelende tema te kies het sy ons opdrag gegee om ons eie Pinterest-borde te maak met foto’s waarvan ons hou,” vertel Lara. “Daarna moes ons verduidelik wat ons na daardie spesifieke styl gelok het.”

Al waaroor hulle saamgestem het, was die blou fluweelbank; daarom was dit die grondslag van die dekor in die sitkamer.

Hulle het die res van die huis vertrek vir vertrek beplan met Debbie as bemiddelaar en het ’n Whatsapp-groep gestig sodat hulle heeltyd in kontak met mekaar kon bly. “Debbie sou gaan inkopies doen en foto’s stuur, dan sê ons ja of nee,” sê Lara.

Matt was veral ingenome met die gastetoilet: Debbie het donker kleure en treffende dekor voorgestel om ’n gevoel van ruimte te skep. Die Stoniers het toe besluit op ’n pragtige geblomde plakpapier van Wallpaper Inn en die muur agter die toilet is in ’n metaalgoue skakering geverf.

Plakpapier in gastetoilet van Wallpaper Inn

Die babakamer

“Toe ek uitvind ek verwag ’n dogtertjie, het ek ’n duidelike visie vir die babakamer begin kry,” sê Lara. Dramatiese plakpapier, Floral Posters van Sasi Wallpaper, was die beginpunt. Die doekeruiltafel is ’n antieke kas wat aan Lara se oumagrootjie behoort het; dis meer as 100 jaar oud. Kaste wat standaard in so ’n ontwikkeling geïnstalleer word, bied nie altyd genoeg ruimte nie; daarom het die paartjie laaie by dié kamer s’n gevoeg sodat daar altyd pakplek is vir losgoed.

Houtbedjie van Clever Little Monkey; stoel van SHF; mat van Fotakis Rugs and Floors

Ons is dol hieroor!
Stringligte verfraai die net wat van die dakbalk hang.

Ter wille van ruimte

Dit was ’n uitdaging om dié huis se 116 m2 optimaal te benut. Die Stoniers glo in behoorlik kuier en het ’n groot familie. “Ons wou hê die huis moet ruim voel; daarom het ons besluit dat daar niks oor ons drumpel kom wat ons nie dolgraag in die huis wil hê nie,” verduidelik Lara.

Met dié beleid in plek het hulle losgoed tot ’n minimum beperk. Verder het Debbie hulle ook aangeraai om die kasdeure in die slaapkamer te vervang met skuifdeure sodat daar plek is vir ’n groter bed en twee bedkassies.

Die palet en bykomstighede in die Stonier-huis weerspieël nou die perfekte kombinasie van albei se smaak. “Ons wou iets dramaties hê. As iemand sou sê ons huis is ‘oulik’ sou dit die ergste kompliment wees wat iemand ons kon gee. Ons wou ’n stylstelling maak; of mense nou daarvan hou of nie. Maar ons verkies natuurlik dat mense daarvan hou! Gelukkig het alles perfek uitgewerk.”

“Van al die vertrekke in ons huis hou ek die meeste van die slaapkamer,” sê Lara. “Dit kry heeljaar lieflike sonlig en voel regtig soos ’n toevlug.” Debbie het die houtbed spesiaal laat maak en tropiese plakpapier van Sasi Wallpaper vorm ’n treffende agtergrond. Die geel kussings verskaf kleur en die deken van merinowol verleen lieflike tekstuur.

Kussings van MRP Home; deken van La Laine

Kennersraad

Debbie het die volgende raad vir paartjies met uiteenlopende smaak wat saam ’n huis moet versier:

1 Argumente bring jou nêrens; wees bereid om mekaar tegemoet te kom!

2 As julle vashaak, raadpleeg ’n kenner. Dit help altyd om ’n vars paar oë te hê, al is dit net vir ’n vinnige konsultasie.

3 Werk saam en besluit van watter items albei hou, en wat julle maar kan laat gaan.

4 Gebruik verwysings soos Pinterest; sodra jy jou visuele styl kan identifiseer, het jy ’n beginpunt om mee te werk.

5 Respekteer jou maat se keuses en wees mekaar goedgesind.

Die boonste helfte van die hoofslaapkamer se en suite is smaraggroen geverf – ’n spesiaal gemengde kleur van Universal Paints. Die ronde spieël weerkaats die tropiese plakpapier op die oorkantse slaapkamermuur.

Spieël van Arkivio; swart mandjies van MRP Home

VERSKAFFERS

Amatuli 011 440 5065

Arkivio 082 840 7143

Block & Chisel 021 691 0878

Clever Little Monkey 086 100 0993

Designed by Debbie 082 555 4965

Fotakis Rugs and Floors 031 705 3331

Hertex 0860 437 839

Hadeda 011 788 5774

La Laine 084 598 9000

Mezzanine Interiors 011 778 1200

MRP Home 0800 212 535

Nuni Furniture 081 768 8124

SHF 010 492 5455

Sasi Wallpaper 011 262 4202

Universal Paints 011 462 4284

Wallpaper Inn 087 359 1682