Ons ken argitek Andy Horn eintlik as die man wat huise van strooibale, sandsakke of klei bou. Maar onlangs het hy ’n ouderwetse huis uit die sewentigerjare in Pinelands – een wat geensins “groen” was nie – onder hande geneem. Die plek was donker, met ’n klomp klein vertrekkies en venstertjies. Klam mure was ’n groot probleem, maar terselfdertyd het die son smiddae geweldig gepla, aangesien die huis wes front. En dan natuurlik al die aangelapte vertrekke sonder enige vloei. Die huiseienaars, Morné en Erina Bezuidenhout, het Andy se onderneming, Eco Design Architects & Consultants, ingeroep om die huis reg te ruk, juis omdat hulle wou hê alle veranderinge en aanbouings moes groenboubeginsels in ag neem. So is dit gedoen ... 

Herwinde bakstene 

Heelwat van die binnemure is uitgebreek om die vloei van die huis te verbeter, terwyl die aangelapte agterste gedeelte van die huis, die badkamers en opwaskamer heeltemal oorgebou is. ’n Tweede verdieping met ’n studeerkamer vir Morné, ’n musiekdosent, is ook aangebou. Die mure is versigtig uitgekap sodat die meeste bakstene heel kon bly. “Hoewel die skoonmaak arbeidsintensief is, hou dit die koolstofvoetspoor klein en skep ook werk,” verduidelik Andy. “Dit gaan oor ’n lewensbeskouing – alles hoef nie stukkend geslaan, weggery en gestort te word nie.” 

Beesmis-pleister 

Nuwe mure is met ’n mengsel van beesmis, kalk, sand en kleiwater gepleister om die hoeveelheid sement wat in die gebou gebruik is, te beperk. “Beton word gans te veel gebruik, en dra sowat 6–8% van die wêreld se CO2-gasse by!” sê Andy. Kalk is koolstoof-neutraal, wat beteken dit sal al die koolstof wat tydens die vervaardiging daarvan afgegee is, weer tydens sy leeftyd absorbeer. Die mis maak die mengsel meer werkbaar. Nog ’n voordeel van dié pleister is dat jy dit kan laat staan sonder dat dit hard en onbruikbaar word soos ’n sementmengsel. Daar’s dus geen vermorsing nie. “Natuurlike pleister neem boonop vog uit die lug op en stel dit weer vry, wat die humiditeit in die huis reguleer en sodoende die luggehalte verbeter.”

Verf wat asemhaal

BreatheCoat, ’n natuurlike, ekovriendelik verf, is op al die mure, asook die dakteëls, gebruik. “Anders as ander verwe wat met lae VOV-vrystellings spog, gee dié verf geen skadelike gasse af nie.” sê Andy. Saam met die natuurlike pleister haal die verf asem en werk dit soos ’n membraan. Al nadeel is dat dit moeilik is om agterna dieselfde kleur te meng – ’n stukkie opknapwerk kan dus in ’n ander skakering wees. Bouers verf dan eerder die hele muur oor. 

Glas en isolasie 

’n Kombinasie van dubbele en veiligheidsglas is in die nuwe aanbouings gebruik. Hoewel dubbelglas letterlik dubbel soveel as gewone glas kos, bespaar jy op die lange duur op verhitting. Die dak is geïsoleer met twee 50 mm-lae Iso- therm, wat van herwinde plastiekbottels gemaak is, asook ’n foelielaag genaamd Alububble (’n produk van African Thermal Insulations) – aansienlik beter as die vorige 40 mm-veselglaslaag.

Vygies en latte

Die vygies op die plat betondak bo die sitkamer is geen groen-foe e nie. “Dit keer dat die beton aan die son blootgestel word, wat die isolasie verbeter en hitte-uitstraling in die sitkamer met 80% verminder. Dit ltreer reënwater, skep ’n groen habitat in die natuur, vergroot ons tuinspasie, verbeter die uitsig uit die studeerkamer bo, beskerm die waterdigte dakmembraan en verminder die onderhoud van die plat dak.”

Bo die venster aan die westekant is ’n afdakkie van latte opgesit. Dié latte is volgens die fases van die maan geoes – ’n antieke werkwyse wat na bewering sorg dat die hout minder kraak en nie met giftige preserveermiddels behandel hoef te word nie. Boonop is die hout van nature bestand teen swamme en houtkewers aangesien die hout geen voedingryke sap bevat nie,” verduidelik Andy.

Houtkeuses

Hout van volhoubare bronne is gebruik – onder meer plaaslike Suid-Afrikaanse dennehout, plaaslike panasta-dennehout, herwinde Oregon- hout in die dakstrukture en Afrika-okoumé vir die deure en vensterrame. Die vloere het ’n tradisionele Skandinawiese loog-afwerking danksy ’n nie-giftige plaaslike produk van EnviroTouch. “Dit bleik die hout en verander ’n gewone tong-en-groefhoutvloer van Suid-Afrikaanse dennehout in iets heel spesiaals,” vertel Andy 

Wat van strooibale en klei?

Huise van strooibale en klei-en-strooimengsels sukkel om pos te vat in Suid-Afrika. “Die rede,” verduidelik Andy, “is dat die SABS geen standaarde vir dié boumetodes het nie, en daarom kan die Nasionale Huisbouersregistrasieraad nie voldoeningsertifikate daarvoor uitreik nie. Gevolglik gee die banke nie finansiering nie en kan jy gedurende die eerste vyf jaar ook nie jou huis verkoop nie. Daarenteen is munisipale goedkeuring geen probleem nie. Ons hoop regtig dit verander gou. Dié boumetodes word immers in die meeste ander lande aanvaar.” 

KONTAKTE EN VERSKAFFERS
African Thermal Insulations 011 462 9122 Amanda Strydom Interiors 071 380 8295 BreatheCoat 021 852 8131 Eco Design Architects & Consultants 021 462 1614 EnviroTouch 0860 284 533 Flush Bathroom Interiors 021 511 7888 Granite Works 021 511 6600 Kenzan Tiles 021 510 8310 Press Up Industries 021 705 2145 U&G Fabrics 031 275 3100