Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? John en Fiona Whitfield
WAAR Port Elizabeth
GROOTTE 167 m²

As iemand wat in Walmer grootgeword het, het Fiona Whitfield goeie herinneringe aan die Vriendelike Stad. Nadat sy en haar man, John, deur die jare op verskillende plekke gewoon het, het die paartjie in 2001 teruggekeer na Port Elizabeth om hier langs die kus te kom aftree.

Hulle het die eiendom met sy uitsig oor die lieflike Baakensriviervallei gekoop en in 2015 begin bou aan ’n kontemporêre, ekovriendelike “boomhuis”. Die struktuur is ’n kombinasie van swaar en ligte staal en die resultaat wys dat ’n knap begroting nie in die pad van jou drome hoef te staan nie – solank jy ’n duidelike visie daarvoor het.

“Dit bevestig net weer – as jy weet wat jy wil hê en bereid is om skouer aan die wiel te sit, is enigiets moontlik,” sê Fiona.
Hollywood Décor het ekovriendelike verf van Paintsmiths deur die hele huis gebruik: Midas Envirolite Natureplast (1 mm), Hanglampe van Unique Lighting

By die voordeur is ’n skerm van gegalvaniseerde hoekyster aan die hoofstruktuur van I-balke geheg. Dit verskaf ’n mate van privaatheid van die tweede huis aan die bokant van die onderverdeelde erf.

Die sitkamer het ’n onbelemmerde uitsig oor die Baakensvallei.

In die boomtoppe

Toe John en Fiona hul erf gekoop het, was die onderste deel een groot boskasie. “Tydens die skoonmaakproses het ons besef hoe groot die eiendom in werklikheid is, en begin dink aan onderverdeel,” verduidelik Fiona.

“Maar ons was bekommerd dat as ons die onderste helfte verkoop, die nuwe eienaar ons uitsig vanuit die huis aan die bokant kon toebou. Toe besluit ons om die deel met die huis bo te verkoop en self ondertoe te trek!”

Hoewel die laer deel van die eiendom pragtig was, was dit ongelyk, met ’n steil helling. Die meeste mense sou daarvan wegskram om op sulke terrein te bou, maar nie die Whitfields nie.

“Ons het Dal Venables, toe nog ’n argitektuurstudent, gevra om na die erf te kom kyk. Hy was baie opgewonde oor die moontlikhede, net soos ons!” vertel Fiona.

In 2015, toe dit tyd word om te begin bou, is die Whitfields terug na Dal, wat teen dié tyd saam met Neal Fisher die firma DMV Architecture op die been gebring het. Die twee het die uitdaging aanvaar en drie maande later kon die bouwerk begin.

Die projek het skaars meer as ’n jaar geduur – ’n voordeel van staalraamkonstruksie – en in Mei 2016 kon die paartjie intrek. “Dis vir ons heerlik om een met die natuur te wees hier in die boomtoppe; dis ’n rustige, ontspanne manier van lewe,” sê Fiona.

“Die hoofraam om die huis bestaan uit I-balke en pilare wat in betongevulde baksteenbasisse bevestig is. Die sekondêre raam, wat die eintlike huis vorm, is van ligte staal en glas wat in die hoofraam van swaar staal pas,” verduidelik Neal, die argitek.

“Die ligtestaalraam is met ligte beton (’n kombinasie van beton en herwinde polistireenballetjies) gevul, wat uitstekende klank- en hitte-isolasie verskaf. Die dak is aan die hoofraam vasgesit en skep as’t ware ’n ‘dak oor ’n dak’; dit sorg vir natuurlike ventilasie van enige hitte wat tussen die sekondêre en die hoofdak opbou.”

Die huis het een keermuur wat saam met die badkamermuur op die onderste vlak as syverspanning dien en ondersteuning aan die staalstruktuur bied.

Het jy geweet?
Ligtestaalkonstruksie verseker aansienlik laer vervoer- en ander koste, wat die algehele koolstofspoor verklein, verduidelik Dal en Neal, wat dikwels van dié boumetode gebruik maak. Die eindproduk verskaf heelwat beter hitte-isolasie as ’n dubbele baksteenmuur. Dit beperk die behoefte aan verhitting/verkoeling van die gebou tot die minimum – iets wat die koolstofspoor verder verklein. Die kernkomponent, staal, is 100% herwinbaar en het ’n leeftyd van 600 jaar.

Die kombuis spog met kaste van gewone spaanderbord asook gerigteveselbord (“OSB”). Laasgenoemde bestaan uit growwe houtskaafsels wat kruis en dwars met hars en was onder hoë hitte en druk tot borde saamgepers is. Dis ’n kostedoeltreffende en koolstofneutrale alternatief vir meer tradisionele boumateriale. Die werkblaaie is sintetiese klip, maar die eiland is ook van gerigtespaanderbord, met ’n glasblad bo-oor. “Dis ’n klein kombuis, maar prakties en maklik om in te werk,” verduidelik Fiona.
Kaste geïnstalleer deur Solid Goods

WENKE BY DIE ONDERVERDELING VAN ’N ERF]

Die onderverdeling van ’n erf kan ’n ingewikkelde proses wees en behels kortliks die volgende:

  • Eerstens moet ’n private stadsbeplanner en landmeter aangestel word om ’n konsepplan op te stel.
  • Dié plan word by jou plaaslike munisipaliteit ingedien, wat dan ’n assessering doen en die onderverdeling goedkeur (of nie) met bepaalde voorwaardes ten opsigte van die aanlê van dienste, toegang en toelaatbare konstruksie.
  • Ná munisipale goedkeuring trek die landmeter ’n finale diagram vir die onderverdeling op en dien dit in vir goedkeuring deur die landmeter-generaal.
  • Met dié se goedkeuring moet ’n aktebesorger die onderverdeling in die aktekantoor laat registreer. Jou private stadsbeplanner sal jou lei in al dié stappe.

Gronde vir afkeuring sluit in:

  • Jou plaaslike munisipaliteit se verordeninge of beleid ten opsigte van kwessies soos die minimum grootte van onderverdeelde erwe, boulyne en die toelaatbare vloeroppervlakte;
  • die sonering van die eiendom;
  • geldige besware van bure; of
  • beperkende voorwaardes in die titelakte wat onderverdeling verhoed.

Bron Greyvensteins Prokureurs


’n Wen-ontwerp

Die Whitfields het aanvanklik ’n houthuis in gedagte gehad, maar Dal en Neal het ’n kombinasie van ligte en swaar staal voorgestel – nie net om die uitdagings wat die terrein ingehou het, die hoof te bied nie, maar ook om binne hul kliënte se ononderhandelbare begroting van R1,5 miljoen te bly. “Ons het nog nooit tevore van ligte staal gehoor nie, maar was opgewonde oor die gedagte,” sê Fiona.

Neal verduidelik dat die keuse van ligte staal hoofsaaklik ’n praktiese oplossing was. Weens die steil helling moes die span met ’n struktuur vorendag kom wat min weeg – een wat nie swaar versterkte baksteen- of betonwerk sou verg om die huis te ondersteun nie. Fiona vertel: “Ons begroting was baie knap en die argitekte, wat ook as projekbestuurders opgetree het, het wondere daarmee verrig.”

Die konstruksie was so ’n groot sukses dat dit twee argitektuurpryse losgeslaan het: benewens die Instituut van Argitekte (SAIA) se merietetoekenning in die Oos-Kaapstreek in 2017 het dit ook eervolle vermelding van Corobrik SAIA in 2018 verwerf. “Ek is in die wolke oor dié twee jong argitekte en hul fantastiese visie,” sê Fiona.

Houtgange en -dekke tussen die bome wat teen die helling groei, skep ’n asemrowende boomhuisgevoel.

Die bed, bedkassies en kaste in die hoofslaapkamer is van gerigteveselbord gemaak. Agter die ingeboude kopstuk is ’n spieëltafel, laaie en kaste. Die bed is spesifiek so geplaas dat dit die beste uitsig het.
Bed en kaste gemaak deur Solid Goods; Ardmore-plakpapier van Cole & Son in die VK; bedlampe van Woolworths

Hoe maak ’n mens seker jou nuwe huis is ekovriendelik?

“Jou uitgangspunt moet die grondslae van ‘basiese’ ontwerp wees,” is Neal se raad. “Daarmee bedoel ek dat die eenvoudige ontwerp-beginsels wat ons navolg altyd die terrein in ag moet neem – dis ononderhandelbaar. Ons moet die lig, die wind, asook permanente elemente op die terrein soos skaduwees wat koue kolle kan veroorsaak, die plantegroei en gradiënt in gedagte hou. “Dié elemente bepaal die korrekte oriëntasie van die gebou en hoe elke fasade op bogenoemde elemente of terreinbeperkings gaan reageer. Al dié beginsels kan maklik aangepas word en vereis min of geen verdere kapitaalbelegging nie.”

Ander ontwerp- en spesifikasie-aspekte kan die volgende insluit:

  • ’n goed geïsoleerde gebou met korrekte ventilasie;
  • die gebruik van passiewe omgewingsmetodes soos sonkrag vir verhitting en elektrisiteit;
  • opvangs van reënwater;
  • die gebruik van herwinbare materiale;
  • voorkeur vir plaaslike materiaal met ’n lae koolstofspoor.

Die buitestort loop naatloos uit die hoofslaapkamer en word heeljaar gebruik, ongeag die weer.

Om so tussen die boomtoppe en die voëls wakker te word met ’n lieflike sonsopkoms is asemrowend! – Fiona

Die baksteenmuur in die gastekamer onder is ook ’n keermuur. Die vloer is van balau, aangesien dié deel oorspronklik as buitekuierplek ontwerp is.

Ekovriendelike interieur

Die huis het een hoofslaapkamer op die boonste vlak en ’n gastekamer onder wat hulle tans deur Airbnb verhuur.

“Die gastekamer is regtig besonders! Die deure skuif aan die voorkant en langs die kante oop en laat dit voel asof jy buite slaap,” vertel Fiona. “Ons gaste is versot daarop en ons kry wonderlike terugvoer.”

Die vloere bo is van laaghout, wat ekovriendeliker as soliede hout is; Hollywood Décor het dit gebeits.

Die hoofslaapkamer se bed en kaste is van gerigteveselbord, terwyl ’n verfrissende buitestort by die ontwerp ingesluit is. “Ons hou van buite wees; die stort het ’n plafon en kan dus later met glas toegemaak word, sou dit nodig word,” sê sy. “Ons stort winter en somer hier. Boonop laat die skuifdeure wat uit die slaapkamer op die dek oopmaak, die ruimte ook ietwat groter voel.”

Wanneer hulle terugkyk op die projek, is John en Fiona in hul noppies oor wat hulle op hul begroting reggekry het. “Ja, ons sou kon doen met spoggeriger afwerkings, ’n ekstra slaapkamer en groter dekke, maar dit voel nie asof ons enigiets kort nie. As daar geld is, kan ons later ’n studeerkamer of gastekamer aanbou,” sê Fiona. Gelukkig is die staalstruktuur in ’n modulêre formaat ontwerp sodat nog modules eenvoudig aangelas kan word.

Nou sien die Whitfields daarna uit om hul inheemse tuin onder hande te neem en ’n stelsel te installeer wat reënwater oes en bewaar. “Vir eers geniet ons net die inwonende singvalk, die ander voëls en die skoenlappers; hier is selfs ’n likkewaan wat af en toe inloer. Wat meer kan ’n mens vra?” wil Fiona weet.

KONTAKTE EN VERSKAFFERS
  • Cole & Son cole-and-son.com
  • DMV Architecture 041 581 1590, dmvarchitecture.co.za
  • Hollywood Décor 083 320 5978
  • Paintsmiths 021 447 0217, paintsmiths.co.za
  • Solid Goods 082 804 0111
  • Unique Lighting 041 363 5007, uniquelighting.co.za
  • Woolworths 0860 022 002, woolworths.co.za