Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

Axel Ryder en Richard Wood

WAAR Riebeek-Wes, Wes-Kaap
GROOTTE 248 m²

Stap jy deur Axel Ryder en Richard Wood se vraghouerhuis op Riebeek-Wes in die Swartland, besef jy gou: Dié projek is ’n droom wat werklikheid geword het. Maar nie sonder bloedsweet en klippe kou nie – want ’n huis van vraghouers wat soos ’n legkaart in ’n staalraam pas, en hier en daar baksteenwerk om die gapings te vul, kos deeglike beplanning.

En dis presies hoe dié twee kreatiewe geeste hul projek aangepak het: met baie navorsing en groot sorg.

In die boomrykste deel van hul agterplaas op die groot erf waarop reeds twee huise staan, het hulle in November 2016 die fondamente vir hul droomhuis begin grawe.

Richard en Axel ontspan by die voordeur van hul huis (foto heel bo). Die buitekant is in ’n paar skakerings van grys geverf.

rider, wood, riebeeck west, reader home, container

In die oopplan-kombuis-en-eetkamer vang die pienk staalkas die oog; die deure is met swartbordverf bedek, wat ideaal is vir inkopielysies. Die kas regs daarvan was ’n ou dennehout-boekrak. Axel het ou melamiendeure van verskillende groottes aangesit en só die rak in ’n kombuiskas omskep. Mat, effekleurige kussings en kussings met blaarmotief van MRP Home; ander kussings deur RU Designs

Die leefvertrek, wat aan die kombuis grens, is ’n heerlike kuierruimte. Onder die toonbank bied ’n versameling ou Duitse koekieblikke pakplek vir CD’s. Die vloer is tans gebruikte laaghout, maar Richard en Axel beoog om later ’n nuwe houtvloer bo-oor te installeer.

Hul eerste hindernis was dat die hele projek met harde kontant gefinansier moes word: “Banke gee jou nie ’n lening as jy met vraghouers bou nie,” maan Axel. Maar hulle was vasbeslote: Vraghouers moes dit wees, veral nadat hulle soortgelyke projekte op die Britse TV-program Grand Designs gesien het. Gelukkig is Axel ’n boukontrakteur wat baie van die werk self kon doen, en so kon hulle ’n paar rand bespaar. Tussen ander bouprojekte deur het hy tyd afgeknyp om hul huis te laat vorm aanneem, terwyl Richard, wat ’n skoonheidsalon op dieselfde perseel bedryf, die idees uitgeryg het. Op 1 Junie verlede jaar kon hulle intrek – net meer as ’n jaar en ’n half nadat die eerste sooi gespit is.

Die formele sitkamer het aluminium-stapeldeure met dubbelglas wat op die tuin oopmaak. Agter die Art Deco-kas kan die oorspronklike muur van een van die vraghouers gesien word. Axel het die koffietafel al 16 jaar gelede uit laaghout gemaak en dit is oor die jare in verskeie kleure geverf. Die silwer tas het Richard in 1991 in Singapoer gekoop tydens een van sy vele seereise op die Queen Elizabeth II waar hy as haarkapper gewerk het. Swart en grys kleiteëls van Shaw Tec; kussings van MRP Home; rusbank gestoffeer deur RU Designs

Die ou naaimasjien het aan Richard se oorlede ma behoort en is steeds in ’n werkende toestand. Die grafika daarbo is van ’n foto wat ’n plaaslike fotograaf, AD Goedhart, van Axel en Richard geneem het. Die stene is met ’n waterbestande deurskynende seëlaar afgerond.

Eklektiese styl

Richard en Axel het ’n fyn oog vir detail. Hulle beskryf hul styl as eklekties en hulle koop graag by tweedehandse-winkels, kattebakverkopings en markte.

Kleur speel ’n belangrike rol reg deur, iets wat ten beste geïllustreer word deur die groen blertse buite-om die vraghouer waar swak plekke toegesweis en met vrolike neongroen verf bedek is. Dis net so gelos, om juis te beklemtoon dat vraghouers met ’n geskiedenis hier gebruik is. “Ons dink buite die boks, askies vir die woordspeling,” spot Richard.

Nog ’n aanduiding van hul speelse aanslag is ’n ou graaf wat nou deel is van ’n waterglanspunt langs die voordeur.

Die twee het ook ’n kunstige streep, soos oral te bespeur in die keurige dekor wat hulle vir elke vertrek gekies het. Iedere meubelstuk en bykomstigheid het sy eie storie en saam vertel dit ’n verhaal van goeie smaak en geduldige beplanning. Byna alles is herwin uit die een of ander vorige bouprojek en mooigemaak met skuurpapier en vernis.

Bo die kombuis is die vraghouers se isolasiemateriaal nog duidelik te sien; dit sal mettertyd toegemaak word. Die vertrek is beplan vir gesellig kook en kuier. Die buighoutstoele was ’n geskenk en Axel het die rame in die kleure van die stoffeermateriaal geverf. Die tafel is gekoop by dorpenaars wat geëmigreer het. Al die kombuiskaste en hout wat gebruik is, is herwin uit Axel se bouprojekte.

Die kleurryke studeerkamer maak jou sommer lus vir werk. Die stoel is met ’n helder oortreksel opgekikker en die kassie is oor die jare ook al in vele kleure geverf. Die binnemure is beklee met Nutec-veselsement van Everite.

Die projek

Axel en Richard het jare lank geloop met die idee om ’n vraghouerhuis te bou. Die geluk was aan hul kant toe hulle hoor van vier vraghouers wat hulle vir ’n appel en ’n ei kon opraap; toe kon hulle met die beplanning begin.

Vra jy uit by wie hulle om raad aangeklop het, kom die antwoord eenvoudig: “Almal wat moontlik kon help.” Die raamwerk van die struktuur is staal, met vyf vraghouers (nog een moes aangeskaf word) wat knus daarin pas – drie onder en twee bo. Die onderste drie houers staan op ’n betonvloer waarin die staalbalke vir die raam geplant is.

Twee 12 m lange vraghouers, elk 2,34 m breed, vorm die kombuis en TV-sitkamer. Hulle staan sy aan sy vir ’n gekombineerde oppervlakte van amper 56 m². Sowat 7 m verder is ’n kleiner, 6 m lange vraghouer parallel met die eerste twee staangemaak en ingerig as gastesuite. Die ruimte tussen die kombuisdeel en die gastekamer-in-’n-vraghouer is toegebou en vorm nou ’n ruim leefvertrek.

Dwars bo-oor die onderste drie vraghouers rus nog twee van die groter vraghouers, wat saam die hoofslaapkamer en suite vorm; ’n studeerkamer is op dieselfde vlak bo die kombuis aangebou.

Verfkleur Plascon Dusk of Day

Die interessante bed in die hoofslaapkamer is gemaak uit ou industriële staalrakke wat Axel se pa, Don, in 1970 vir ’n sportwinkel ontwerp het. Die houtmuur daaragter is met paletplanke beklee. Al die kaste in die aantrekkamer is van melamien – dis herwin uit bouprojekte waarby Axel betrokke was en toe deur ’n plaaslike werktuigkundige wit gespuitverf. Die oorspronklike staalafwerking van die herwinde vraghouer is behou vir die binnemure (inlas). Vinielvloer van Builders, geïnstalleer deur Top Carpets and Floors

Ons is dol hieroor!

Bo die wasbak is twee van die oorspronklike ligte wat in die ou vraghouers was; hulle is net skoongemaak, afgeskuur en geverf. Die hoofslaapkamer se en suite is ’n lus vir die oog in swart en wit. ’n Ou spieëlkas is afgeskuur, wit geverf en dien as wasbakkas. Op die vloer is wit mosaïekteëls in ’n interessante patroon gelê. Die opening bo die wasbak na die aantrekkamer langsaan, met sy kandelaber uit ’n tweedehandswinkel, skep ’n gevoel van ruimte. Badkamertoebehore van Tiletoria; plafon beklee met Isoboard

Aan die voorkant van die huis is die tuin ’n lushof, selfs in die somer. Richard en Axel is heeltemal onafhanklik van die dorp se water danksy ’n gesofistikeerde behandelingsaanleg deur THS Technology wat hul boorgatwater suiwer. Corné Pretorius en André Beaurain van Riebeek Valley Garden Centre het met die uitleg gehelp.

Die gastekamer maak oop op die voortuin waar ’n tweedehandse rottang- dubbelbed onder die koelteboom jou uitnooi om ’n boek nader te sleep. Axel het die koepelstruktuur in die agtergrond met glasbottels en sement gebou as kuierplek wanneer dit reën. Binne is ’n vuurherd waar jy ’n vleisie kan braai of net die warmte van die vuur kan geniet. 

VERSKAFFERS EN KONTAKTE