Foto’s Greg Cox

WIE WOON HIER? Susie en Tom Potgieter
WAAR Stanford, Wes-Kaap
GROOTTE 200 m²

Susie Potgieter glo vas sy het nie ’n oog vir dekor nie. Tog, kyk jy so na die binnekant van haar gesin se vakansiehuis op Stanford, sal jy sien dis glad nie die geval nie!

Maar sy hou vol dié beskeie drieslaapkamerhuis is “net ’n versameling kleurvolle vondste wat bietjie vir bietjie aangevul is, soos ’n goeie patina”.

“Ek het beslis nie ’n dekorplan gehad toe ons die huis 11 jaar gelede gekoop het nie,” sê Susie, wat in Rosebank, Kaapstad, woon saam met manlief Tom. “Ons het verlief geraak op dié dorpie nadat ons ’n paar keer hier kom kuier het, en kon nie die kans laat verbyglip toe dié kothuis op die mark kom nie.”

Susie sê met elke vakansie raak sy net al hoe meer beenaf op Stanford; die dorp is haar grootste inspirasie wanneer dit kom by die mooimaak van hul tweede tuiste.

Die huis is oorkant ’n groot, oop stuk veld en op soel someraande kuier die gesin op die voorstoep om te kyk hoe inwoners en vakansiegangers vlakkiekrieket of -rugby speel.

“Dis sulke oomblikke wat Stanford soos ’n ongerepte toevlug laat voel,” sê Susie. “Daar is heelparty stofpaaie, ’n oorvloed voëls en fynbos, die Kleinrivier loop deur die dorp, die see is aan die een kant en die berg aan die ander ...”

Getrou aan die tradisionele Stanford-voorkoms spog die fasade met ’n lae muur voor die stoep, skuifraamvensters en diamantvormige ruite in die kantmure. Susie het besluit op ’n sandkleur vir die buitemure en wit afwerkings en broekieskant vir kontras.

Die binnekant van die huis weerspieël haar voorliefde vir eenvoud en die natuur met geblomde lap, plaaslike landskapkuns, ryk teksture en tapisserieë, herwinde houtmeubels en ’n palet van ligte neutrale kleure met skakerings van blou en groen.

“Daar heers ’n gevoel van vryheid op Stanford; kinders ry fiets of speel in die rivier tot die son sak, en vakansiegangers kuier van restaurant tot restaurant waar hulle die lekkerste wyn uit die Overberg-streek geniet. Dis hoe ek my huis oor die jare versier het – met vryheid, oorgawe en sonder enige plan!” sê Susie. Die Potgieters kuier graag op die stoep; daarom wou hulle seker maak dis ’n ruimte wat hulle sou “opbeur”. “Gaste sê al die mooi ougoed en lap laat dit voel of hulle in ’n ander tydperk ingestap het,” sê Susie.

Die sitkamer het mettertyd vorm aangeneem namate Susie meubels gestoffeer en handgeweefde matte, geborduurde strooikussings, ornamente en kuns bygevoeg het. “Ek het atmosfeer probeer skep met hartsgoed, want ek wou hê dit moet ’n gemaklike ruimte wees met iets vir die oog, sonder om oorvol te lyk. Dis nogal moeilik as jy in tweedehandswinkels boer; ek moet my so inhou!” erken sy.


Dit het alles begin met kuns

“Toe ons die huis koop, was een van die eerste take op die lys om al die mure en houtvloere ’n warm wit te verf; dis ’n eenvoudige manier om patroonlap, my geverfde tweedehandse meubels en veral my kunswerke te laat uitstaan,” sê Susie. En nadat die mure geverf was, het sy haar groeiende versameling geraamde kunswerke, elk van ’n ander tweedehandswinkel, begin ophang.

“Ek wou ou kunswerke gebruik om die huis soos ’n regte plattelandse kothuis te laat voel, en die ruimte het mettertyd vorm aangeneem met dié skilderye as basis,” verduidelik sy.

Susie, self ’n kunstenaar, het inspirasie gekry uit die Bloomsbury Group, ’n informele gemeenskap Engelse skrywers, intellektuele, filosowe en kunstenaars, onder andere Virginia Woolf, wat in die eerste helfte van die 20ste eeu in die pragtige woonbuurt Bloomsbury in Londen saam gewerk en gestudeer het. Daarom het sy die huis Bloomsbury Cottage gedoop.

Ek het niks wat splinternuut is nie. Nuwe goed kos ‘n fortuin en vertel nie ‘n storie nie; dis nie my styl nie. – Susie

Die lekkerste van die lewe

Die Potgieters bring baie tyd in die kombuis deur, daarom het hulle die muur tussen die kombuis en aangrensende leefarea uitgebreek. “Ons huis het ’n lieflike ouwêreldse sjarme, terwyl die oopplan-leefarea dit ’n moderne gevoel gee,” sê sy.

Susie wou ’n redelik praktiese voorkoms met ’n plaasstyl vir haar kombuis hê, met oop rakke waarop sy haar versameling emaljeware en handgeverfde breekgoed kan uitstal. Sy versamel ook graag kapplanke van inheemse hout.

Tweedehandse houtmeubels en titsels beige, groen en wit komplementeer dié rustieke ruimte. Susie het haar mooigoed jare gelede bymekaargemaak deur gereeld by antiekware- en fabriekswinkels in Kaapstad te gaan inloer. “Ek het graag die strate van buurte soos Diepriver en Soutrivier platgeloop om dié spesiale skatte te vind,” sê sy.

Die kombuis maak oop op ’n stoep van 12 x 4 m wat Susie en Tom aan die agterkant van die huis aangebou het.

“Gemak en elegansie is belangrik vir my, so al lyk die slaapkamers eenvoudig, is daar luukse detail soos goeie beddegoed. Al die kwilts is met die hand gemaak en die gordyne en stoffering is van suiwer katoen of linne.

“ ’n Basis van wit beddegoed kan maklik opgekikker word met ’n vintage-kasjmierdeken of strooikussing wat oorgetrek is met oorskiet-katoen met ’n blompatroon.” Onpaar kanttafels, geverfde muurpanele en ’n paar kunswerke bring ook persoonlikheid in.

Die gastekamers weerspieël Susie se voorliefde vir kuns en geblomde lap.

Die betonswembad met ’n veselglasdop is pasgemaak om soos ’n plaasdam te lyk.

Die hoofslaapkamer spog met ’n laag-op-laag-voorkoms vir warm tekstuur en lieflike atmosfeer.

Susie se mooimaak-wenke

  • Neem jou tyd; dit het jare geneem om die huis so in te rig.
  • Moenie bang wees om patrone en teksture te meng nie; solank daar een kleur is wat die meeste elemente in ’n vertrek verbind (soos die turkoois in ons sitkamer), sal dit werk. Vir my is leer en probeer alles deel van die pret van versier.
  • Eksperimenteer! Ek beplan nie kopies nie; ek koop waarvan ek hou, kom huis toe en kyk dan waar dit werk. Skuif goed rond en probeer ’n nuwe item in verskillende vertrekke vir verskillende doeleindes. Ek het byvoorbeeld ’n romp wat my suster vir my in Indië gekoop het in die sitkamer langs die boekrak gebruik – dit verleen ’n lieflik persoonlike gevoel, asook tekstuur. • Kies losstaande meubels waar moontlik – jy kan dit maklik rondskuif en dit het meer persoonlikheid as ingeboude kaste.
  • Los oortreksels kan jou rusbanke se leeftyd verleng en jy kan dit na hartelus afwissel! Voeg een of twee treffende antieke stoele by – dit sal ’n interessante geheel skep.
  • Dekens in alle kleure en patrone is nuttig. Koop wanneer jy ’n bekostigbare een sien en bêre dit tot jy ’n ruimte wil mooimaak. Dekens skep vir my ’n ontspanne gevoel sonder pretensie.
KONTAK
Bloomsbury Cottage 082 359 9412, susiejaynebaily@gmail.com