Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk

DIE EIENAARS
Cathy Marriott en Basil Stilwell
WAAR Stanford
GROOTTE 50 m²

Vir die afgelope 20 jaar is Cathy Marriott en Basil Stilwell die eienaars van Sondagskloof, ’n 14 ha-kleinhoewe net buite Stanford. In dié tyd het hulle twaalf jaar lank in Kaapstad gewoon, maar die meeste naweke hier deurgebring.

In 2010, nadat hulle die ekovriendelike staalraamhuis van hul drome met strooibale, balke en klei uit die omgewing gebou het (ons het dit in die Februarie 2019-uitgawe van Tuis gewys), het hulle permanent Stanford toe getrek. Cathy, ’n voormalige mode-ontwerper, en Basil, ’n kommersiële duiker, het verlede jaar besluit om twee kothuise op die eiendom te bou en as verblyf deur Airbnb te verhuur.

“Nadat ons dogters onlangs uit die huis is om te gaan studeer, het dit na die regte tyd gevoel om die buitewêreld by ons volhoubare leefstyl in te nooi,” sê Cathy, wat hier met beeste boer en organiese groente kweek.

Die Marriotts het besluit op houthuisies deur Swissline Design. Die huise het sonkrag en is onafhanklik van die munisipale netwerk. “Pragtige houtgeboue is ’n Swissline-kenmerk, maar ek het heelwat insette gehad wat die ontwerp betref,” sê Cathy. “Ek wou ’n hoë vlerkdak hê met vensters hoog teen die plafon om soveel moontlik natuurlike lig te laat instroom vir ’n gevoel van ruimte, maar steeds met ’n klein voetspoor. En só kan jy saans in die bed lê en sterre kyk!”

Die oopplan-leefarea-en-kombuis is opgedeel in ’n paar knus hoekies – insluitend ’n “studeerkamer” langs die kaggel. Die ou kis kom uit Basil se kinderjare in Mosambiek; dit is destyds as pakplek tydens kampvakansies gebruik. Hanglamp van Overberg Lighting; vloerlamp van Weylandts

’n Groot skuifdeur en vensters in die hoek van die sitkamer verbind binne en buite. “In die somer ritsel die populiere se blare dat dit klink soos ’n kabbelende stroom; in die herfs skep die vallende blare ’n kleurspel van oranje en geel; en in die winter is die kaal silwer stamme wat bo ons uittroon, iets om te aanskou,” sê Cathy. Opvoustoele van Stanford Trading Store

Die huis is omring deur hoë populierbome, wat dit ’n dromerige woud-atmosfeer gee. Dis van die grond gelig sodat dit die kleinste impak moontlik op die omgewing het – anders as met ’n betonfondament. Die vuurput is gemaak van klippe wat op die erf opgetel is.

Ek wou ’n ruimte hê wat ’n rustige geheel vorm en aan die minimalistiese Skandinawiese styl herinner. – Cathy
Cathy het aluminiumrame vir die deure en vensters gekies. “Dis ’n onopvallende opsie en maak dig toe; daar is nêrens ’n trek nie,” sê sy. Die huis se enigste slaapkamer maak met ’n groot skuifdeur oop op die dek aan die voorkant. Bedbasis van Weylandts

HOUTRAAMgeboue

Nadia Lüdi van Swissline Design sê ’n houtraam soos dié een kan tot drie geslagte of langer hou. “In Europa kry jy huise wat met dié materiaal gebou is en al meer as 200 jaar staan,” verduidelik sy. “Die fasade van Siberiese lariks- hout het ’n UV-oliebehandeling ondergaan wat die hout elasties en die oppervlak water- en vulliswerend maak. Jy hoef dit nooit weer te skuur nie en dit is bitter weinig nodig om later weer olie of verseëlaar aan te wend. Omdat die hout oondgedroog is, is dit van ’n uitstekende gehalte en kan dit verskillende klimate trotseer.”

’n Mens sou dink die grootte of hoogte van ’n houthuis is beperk. Tog nie. “Daar staan ’n 80m hoë verdiepinggebou met ’n houtraam in Skandinawië!” sê Nadia.

Wat huislenings betref, is banke verplig om jou te help, mits die bouer by die Nasionale Huisbouersregistrasieraad (“NHBRC”) geregistreer is en aan SANS (Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde) se regulasies voldoen.

Die koste van ’n houtraamgebou wissel afhangend van die ontwerp en hoe bereikbaar die terrein is, maar begin by sowat R8 000/m2.

In die stort stel ’n vloer van onbehandelde sederhout ’n lieflike geur vry. Terwyl ’n skuifdeur na buite dit laat voel soos ’n buitestort wanneer dit oop is, is daar ook ’n houtskerm wat jy kan toeskuif vir privaatheid. Houtskerm en wasbakkas gemaak en geïnstalleer deur Swissline Design

Inspirasie uit die woud

Sondagskloof is geleë in ’n lieflike vallei omring deur fynbos, berge, ’n klein plaasgemeenskap en wynplase. Cathy en Basil het ’n groot organiese groentetuin, perde, ’n klein trop Ngunibeeste, asook varke en hoenders. Hul water kom van ’n fontein daar naby.

Die paartjie wou hê die kothuis se binnekant moet dié leefstyl weerspieël. “Ek wou graag hê dit moet ’n koesterende ruimte wees wat ’n rustige, kalmerende geheel vorm. Om ’n organiese gevoel te skep het ek sagte, neutrale kleure gebruik,” verduidelik Cathy.

“Ek is lief vir natuurlike materiaal soos skaapvel en leer wat altyd ’n ryk tekstuur verleen en ek bring graag elemente uit die natuur soos voëlnessies, skedels en klippe in. Dit versterk die gevoel dat jy een is met die omgewing en laat die ruimte warm en innemend voel.”

Die boomstomp kom van een van die min bome wat afgesaag moes word om plek te maak vir die huis.

Net vir opslaan

Cathy en Basil het Swissline Design gekies omdat hulle gehou het van hoe dié houtkonstruksiefirma se geboue lyk en weens die feit dat 80 persent van die huis by die fabriek in Bellville, Kaapstad, aanmekaargesit kon word. Kwessies soos slegte weer of die afgeleë terrein sou dus nie die bouproses in die wiele ry nie.

“Ná maande se beplanning was dit ongelooflik om die groot vragmotor en hyskraan hier te sien aankom met al die panele, en binne net vier dae is twee huisies, waaronder dié een, staangemaak!” sê Cathy.

“Die hoë R-waarde (hitteweerstand) van ons ten volle geïsoleerde modulêre houtraam is ’n groot voordeel van dié soort konstruksie,” sê Nadia Lüdi van die firma.

Klante word aangemoedig om hul terugvoer te gee wanneer dit by die ontwerp kom, en hulle kan ekstras soos kaste laat maak. Die ontwerp van dié kothuis is gegrond op een van Swissline se basiese vloerplanne (SDM4), maar hulle het die dak aangepas volgens Cathy se ontwerp.

Verfkleur Plascon Light Stone

Die kombuiskaste en werkblaaie van larikshout is gemaak deur Red Chair. “Die donker kleur is verkry deur die hout met ’n blaasvlam te ‘brand’ (’n ou Japannese metode om hout te preserveer); dit eggo die bekleding buite, wat dieselfde behandeling gekry het,” sê Cathy. Die hangrakke is gemaak en geïnstalleer deur Swissline Design. “Ek wou ’n ligte benadering tot pakplek hê. Só sien jy ook maklik en vinnig alles wat jy nodig het, wat ideaal is vir Airbnb-gaste.”

Die draadkas was eers ’n sluitkas in ’n klerefabriek tydens Cathy se “vorige lewe” in die modebedryf. Dis swart geverf en dien nou as trendy bêreplek in die leefarea.
Rusbank van Weylandts


’n eKO-sensitiewe STRUKTUUR

Die struktuur: Al die hout wat vir die struktuur en fasade gebruik is, kom uit volhoubaar bestuurde plantasies.

Die vloere en die dek is gemaak van behandelde sparhout-balke en gerigteveselbord (“OSB”); laasgenoemde bestaan uit houtskaafsels (spar, den en ander hardehoutsoorte) wat met ’n sintetiese hars in borde saamgepers is. Isolasie word verskaf deur ’n sellulosevesel gemaak van herwinde koerante (te kry by Eco-Insulation). Bo-op is gelamineerde planke (Kronotex se Mega Oak Dezent).

Die mure en plafon is gebou met behandelde stutpale van sparhout en planke van gerigteveselbord en tong-en-groef-MDF. Dis geïsoleer met Isotherm, wat bestaan uit poliëstervesel van herwinde PET-bottels. Die buitekant is beklee met geharde oondgedroogde larikshout, afgewerk met ’n eeue oue metode waartydens die hout swartgeskroei en met spesiale tungolie afgerond word.

Die dak is van Zincalume-plate saamgestel uit aluminium, sink en silikoon; dis termies doeltreffend en roesbestand. Die plafonne is van sparhoutplanke oor soliede oondgedroogde sparhoutbalke.

VERSKAFFERS EN KONTAKTE