Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Peter en Tracy Maltman
WAAR Houtbaai
GROOTTE 400 m²

Hetsy oud of nuut, vintage of modern, Tracy Maltman is dol oor kleur en ontwerp. “Ek raak maklik verveeld en ek is altyd gereed vir ’n nuwe projek,” sê sy met ’n glimlag.

Nie net is Tracy ’n ywerige versierder nie, sy spring ook self graag in by die opknap- en bouwerk. So het sy tot dusver drie huise self gebou en vyf ander opgeknap!

Die Maltmans – Tracy is oorspronklik van Zimbabwe en sy het Peter in Suid-Afrika ontmoet – het drie opknapprojekte voltooi voor hulle 12 jaar gelede Stellenbosch toe getrek het, waar hulle nog twee huise mooigemaak en drie ander nuut gebou het.

Hul jongste projek is dié huis in Houtbaai, waar hulle sedert Oktober 2015 woon. “Ons het gehou van Stellenbosch, maar moes vir sakedoeleindes nader aan die stad wees,” sê sy.

Op ’n dag het ’n vriend die paartjie vir ete genooi op ’n landgoed in Houtbaai. “Ons was dol oor die berg en bos wat so naby voel – dit was presies wat ons elke dag wou sien,” sê Tracy. Die laaste beskikbare erf is die week vantevore verkoop, maar die geluk was aan hulle kant, want die transaksie het deur die mat geval. Daar en dan kon hulle ’n aanbod insit, en wegspring met ’n volgende droomprojek.

In die hoof-leefarea het Tracy die voorkoms van rou sement verkry met MagiCrete. “Dis belangrik om iemand te kry wat weet hoe om dit aan te wend,” sê sy. Die leefarea is ruim en prakties met goeie vloei; die kombuiseiland was eers Tracy se eetkamertafel. Kombuis geïnstalleer deur Nicolwood; sementblaaie deur StoneformAspen Rustic Pine-vinielvloer van Florstore

Groot, oop ruimtes

Tracy het die huis ontwerp en ’n lieflike leefruimte in ’n skuurstyl geskep. Groot, ontblote staalbalke maak ’n treffende fokuspunt uit. Dis nie net iets vir die oog nie; dit ondersteun die dak, wat ’n tamaai 8 m hoog is! Hoë plafonne en groot, oop ruimtes was ’n moet vir die Maltmans. “Die leefarea is beslis my gunsteling-vertrek in die hele huis,” sê Tracy. “Die treffende volume slaan nou nog my asem weg.”

Wat boumateriaal betref, hou Peter en Tracy van ongewone keuses; hulle het ’n kombinasie van staalvensters, hout-skuifvensters, aluminium-skuifdeure en rou, onbehandelde slaapkamerdeure gebruik. Ondanks die wisselende style werk alles perfek saam.

“Al die deurgange is heelwat hoër as normaalweg. Om by die boustyl in te pas het ek besluit op skuurstyl-skuifdeure; verftegnieke is ook ingespan om dit ouer te laat lyk,” sê Tracy.

“Al die krane in die huis kom van ou boupersele af en niks pas bymekaar nie! My wasbakke is ’n kombinasie van klip en vlekvrye staal. Ons is dol oor meng en pas.”

Die binnemure is óf ontblote bakstene óf afgewerk met eenvoudige sement.

“In die hoof-leefarea wou ek die voorkoms van rou sement hê. Die MagiCrete wat ons gebruik het, is in baie kleure te kry. Binne het ons dit self met troffels aangewend, en buite met groot tuinbesems!”

Dis in die detail
Die riempiebankies is pasgemaak in rooi en geel vir spatsels kleur; dit pas onder die lang eetkamertafel en kan ook maklik rondgeskuif word.
Dis in die detail
Met so ’n hoë plafon wou die Maltmans graag oorgroot hanglampe hê, maar hulle kon nêrens kry waarna hulle soek nie. Die oplossing? ’n Groep lampe wat hulle maklik kan uitruil wanneer hulle die voorkoms wil verander.

Hout-sfere van Mavromac & The Gatehouse; metaal-hanglampe pasgemaak deur Dsigned Interiors; gloeilampe van Hoi P’loy; Muur-afwerking MagiCrete; Verfkleur op plafon Rhine Castle 54

Die Maltmans onthaal graag en almal kom gewoonlik in die kombuis bymekaar. Staalvensters in die Crittall-styl bied ’n uitsig op die berg.

1. Die werk aan die buiteruimtes is nog onafgehandel. Die gras is dood weens die droogte en die Maltmans wil graag die oorkant van die swembad teël – dalk iets interessants met oorgroot patroonteëls. Die Hongaarse Vizslas Bella en Molly inspekteer die swembad. 2. Die grys hortjies aan die skuifdeure is pasgemaak. Hortjie-skuifdeure deur Alu Shop Cape 3. Muur-afwerking MagiCrete.

Wys met grys

“Toe ek klaar was met die ontwerp van die huis, het ek geweet houtskoolgrys is al kleur wat ek wou gebruik,” sê Tracy. “Ons het in ’n huurhuis gebly waar als wit was en ek het dit gehaat – dit was net te strak, sonder enige warmte. Grys is baie kalmerend; dis koel in die somer en omarm jou in die winter. Terselfdertyd het ek ook kleurvolle artikels op veilings gekoop, want grys was die perfekte agtergrond daarvoor.” Selfs die plafonne is dieselfde houtskoolgrys as die mure geverf.

Met sulke hoë plafonne kom daar gewoonlik ’n paar uitdagings. Die massiewe volume van die leefarea en sy groot mure het Tracy ’n ruk lank bekommer. “Ons het ’n groot TV geïnstalleer, maar dit het nog altyd verlore geraak in die ruimte. Aan die woud se kant is daar massiewe deure wat in die spoumure wegskuif vir vloei tussen binne en buite. En al is ek dol oor plakpapier, is dit nie die regte huis daarvoor nie – dit sou hopeloos te kunsmatig en geforseerd lyk!

“Nadat ek mooi daaroor gedink het, het ek besluit op muurkuns en begin soek na iemand wat my visie tot sy reg sal laat kom. Die kunstenaar Oda Tungodden, ’n Noorweegse student wat in Suid-Afrika woon, was die perfekte keuse. Haar pragtige organiese ontwerp komplementeer die ruimte perfek. Soggens vroeg maak ons die deure in die leefarea oop en die binnekant bly koel en knus. Namate die son oorkom, stroom dit by die huis in, en dan lyk dit asof die kleure teen die mure lewe kry!”

Die Maltmans glo ligging en posisie is allerbelangrik. “Ons het so lank gesoek na die regte plek vir ’n huis met hierdie ontwerp” sê Tracy. “Ek het alreeds my volgende huis in my geestesoog ontwerp, maar ek wag nog vir die regte erf!”

Tracy het haarself bederf met ’n pragtige koperbad, maar tydens die droogte in die Kaap staan dit ongebruik.
Klip-wasbakke handgemaak deur Stoneform; bad van Wauhaus

Beplanning is als
Tracy sê: “Die kostedoeltreffendste manier om te bou is ’n reghoek of vierkant met vier hoofmure sonder enige vreemde hoeke. Dis dan makliker om ’n dak op te sit en jou bouprojek sal gouer klaar wees.”
Tracy se ontwerpwenke
  • Moenie bang wees vir kleur nie – dit gee lewe aan ’n ruimte.
  • Maak seker jou meubels is die regte grootte vir ’n vertrek. 
  • Ontwerp gemaklike ruimtes waar jy net kan “wees”.
  • Goeie beligting is noodsaaklik; dit verleen persoonlikheid aan jou huis. 
  • Hoe meer plante, hoe meer vreugde! Kies groot, groen en treffend ...

1. Die hoofslaapkamer spog met ’n pragtige uitsig op die omringende bos. Die grys mure en plafon skep ’n rustige atmosfeer
Bed van Interior ConceptsVerfkleur Plascon Rhine Castle 54

2. Hortjies hou die huis koel in die somer en bied privaatheid omdat die huis nie gordyne het nie. Dié gaste- kamer maak op die agterstoep oop. Plaveiblokke van Revelstone; verfkleur binne kamer Plascon Paris Paving

Die pragtige ingang na die huis is gebou met klip wat die bouspan op die erf opgetel het.

VERSKAFFERS