Foto’s Francois Oberholster l Produksie Nelia Andrag

WIE WOON HIER?

Paul en Mona Haumann en hul kinders, Paul (9) en Kate (8)

WAAR Mostertsdrif, Stellenbosch

GROOTTE 325 m²

Dié glasboks was nie deel van die huis se oorspronklike grondplan nie – dis bygevoeg juis om die binne-buitegevoel te versterk. Die groen tuinstel uit ’n tweedehandswinkel het Mona laat dink aan haar ouma se tuin in Groblersdal met presies dieselfde tuinmeubels.

In 1965 plant Rousselot en Antoinette Pienaar die eerste van 52 inheemse bome in die tuin van hul splinternuwe huis op Stellenbosch. Een van sy gunstelinge is die ysterhout en oor dié reuseboom skryf SANBI (die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut) op sy webblad pza.sanbi.org: “Gelukkig is die kleinkind wat ’n tuin erf wat in die skaduwee van ’n ysterhout staan, want hulle het slim, versiende grootouers.”

Dit is hierdie bome wat gemaak het dat ’n jong gesin die huis in 2015 in Stellenbosch gekoop het. Vandag speel hulle kinders en dié se maats onder die einste bome.

“Ja, ons het eintlik die huis gekoop oor die tuin,” bevestig Mona Haumann. “Ek het sonder my man se wete begin huise kyk. Toe ek hier omloop en ek sien die bome, toe weet ek hier sal ek wil woon.” Sy en Paul en die kinders het anderhalf jaar heerlik hier gebly toe die skilder in Mona begin kriewelrig raak omdat haar ateljee so klein is.

“Paul wou nie die huis laat opknap nie, maar ek sê toe kom ons kry ’n argitek om vir ons planne te teken, dan kyk ons net.”

Soos dit met argitekte gaan, het dit nie gebly by “dan kyk ons net” na ’n ateljee bo-op die motorhuis nie.

“Hulle stel toe honderde ander planne voor. Die ateljee moes deel van die huis wees en die badkamers op die tweede verdieping moes oorgedoen word. Toe kom ’n stoep agter by en hiermee saam verander die kombuis ook,” vertel Mona.

Geeneen van die voorstelle was onwelkom nie, want daar was byvoorbeeld nie ’n stoep vir buite kuier nie; hulle het maar altyd ’n tafel onder die boom gesleep en in die Weber gebraai. Die badkamers het aandag nodig gehad, veral die hoofslaapkamer s’n met sy ongemaklike skuins plafon. En dan natuurlik Mona se ateljee ... wat sy toe nooit gekry het nie.

Vir Paul was daar een voorwaarde as hulle wel begin bou: dat daar soveel moontlik by die huis se oorspronklike voetspoor gehou word. “En dit was baie belangrik dat geen bome in die slag moes bly nie,” sê hy. “Ek hoop om oom Rousselot se liefde vir bome ook by my kinders te kweek. Ons het sedert ons ingetrek het al heelwat nuwes bygeplant.”

Die eiland met sy wit marmerblad, wat ook deur die argitekte ontwerp is, het genoeg ruimte rondom sodat die kokke nie die deurloop blokkeer nie. Stoeltjies van Haldane Martin; hanglampe van Illumina Lighting; eiland gemaak deur Timeless Timbers

Die kinders se skoppelmaai in die agterplaas hang aan ’n groot ou riviervaderlandswilg (Combretum erythrophyllum).

Met die oog op Mona se kunsagtergrond het die argitekte gespeel met kleur. Van die kombuiskasdeure is ’n diep groen gespuitverf en in die opwasdeel eggo ’n groen Marmoleum-vloer die kleure van die tuin. Nube-hanglamp van Arora Lights

Hier langs die vuurherd met sy koperbekleding word dikwels onthaal. Die tafeldoek het Mona in Mosambiek gekoop. Koperwerk deur G-Tech Roofing

Die sitkamer is die hart van die huis. In die winter brand die vuur van vroegoggend tot laat saans in die smeulkaggel – “een van ons beste beleggings ooit” – wat byna die hele onderste verdieping warm maak. Mona het die twee banke van prentjies af ontwerp en laat maak. Dovre-kaggel van Home Fires; houtkas van Ridgways; lae koffietafel van Haldane Martin

Oper en ruimer

In 2018 trek die Haumanns tydelik uit en die bouery begin. “Die eenvoud van die vloerplan het dit ’n maklike aanbouing gemaak,” vertel Paul. “Voor het ons die meeste elemente van die ou huis behou, byvoorbeeld die staalraamvensters.”

Net ’n prieel is opgerig met houtbalke wat op ’n staalbalk rus. Hier tuimel die bloureën in die lente af na die sterjasmyn wat teen die pale opklim.

Die deel wat aangebou is, sou Mona se begeerde ateljee wees. “Dis dié dat daar so baie natuurlike lig in die vertrek is, met vensters van bo tot onder.

“Maar toe voel ek skuldig om dit net vir myself te hou, want dis nou so lekker hier,” sê Mona. “Ons skuif toe die hele huis om die vertrek een reuse-leefarea te maak.”

Sy praat van die “binne-buite-effek” en dis inderdaad so dat as jy daar instap, dit voel of die tuin met al sy groen binne-in die huis is.

By hierdie vertrek en aan die agterkant van die huis het hulle op dubbelglas-vensters met aluminiumrame besluit. Dubbelglas is iets waarsonder Paul nooit weer wil leef nie. “Dit sorg dat die huis lekker koel is in die somer en warm in die winter,” sê hy, “en hou ook die meeste geraas uit.”

Daar is geen gordyne in die leefvertrek nie omdat dit die uitsig sou bederf. En hoewel dit lyk asof daar ook geen diefwering is nie, verduidelik Paul dat dit wel beveilig is.

“Ons het hier Clear Guard-skuifdeure van Trellidor gebruik wat baie stewig sluit en in die somer insekte uithou terwyl die deure saans oopstaan. Dieselfde produk is as vaste panele op die boonste verdieping voor ons kantel-en-draaivensters gebruik. Dit beteken die vensters kan oopstaan, maar onwelkome mense en muskiete word uitgehou.”

In teenstelling met die fasade het die agterste deel van die huis ’n aantreklike boksvorm. Dit was die oplossing om meer ruimte op die boonste verdieping te skep.

“Die huis het oorspronklik nie storte gehad nie, daarom het ons die badkamers aan die agterkant uitgebou om plek te maak vir storte en om ’n bietjie meer ruimte te wen,” sê Paul.

Vir hom is die mees geslaagde aspek van hul aanbouing dat daar geen vermorste ruimtes is nie en dat hulle alles kan benut vir ’n gerieflike gesinslewe. “En daardie leefvertrek wat jou deel van die tuin laat voel!”

Mona stem saam.

En haar ateljee dan?

“Ag wat, miskien eendag as die kinders groot en uit die huis is. Nou het ons alles wat ons begeer,” sê sy.

Die leefvertrek is so vol lig omdat dit aanvanklik aangebou is as skilderateljee vir Mona. Nou laat dit die huis deel van die tuin voel. In die lente, wanneer bloureën en sterjasmyn die prieel van bo en onder toerank, drink Mona en Paul hul eerste koppie koffie vroegoggend hier aan die voorkant van die huis om hulle te verlekker in die geure. Sonkraginstallasie deur Solaheat Kussings van Isobel Sippel; banke gemaak deur Supreme Upholsterers; houtvloer in visgraatpatroon gelê deur Lalegno

In die lente, wanneer bloureën en sterjasmyn die prieel van bo en onder toerank, drink Mona en Paul hul eerste koppie koffie vroegoggend hier aan die voorkant van die huis om hulle te verlekker in die geure. Sonkraginstallasie deur Solaheat

’n Tuinhuisie wat voorheen vir tuingereedskap gebruik is, is nou Kate se pophuis.

Die ingangsportaal se oorspronklike houtvloer is afgeskuur. Een van Mona se skilderye, The sky is the limit, vorm ’n lieflike agtergrond vir die koperpotte uit haar grootwordhuis in Pretoria. Bankie van Haldane Martin

Nuwe staalrelings by die trap, met ’n geïntegreerde veiligheidshek, gee saans sekuriteit aan die boonste verdieping.

Die argitekte vertel

Vir Anthon Bernard en Hein Visser van die argiteksfirma VKDB was die grootste sukses van huis Haumann die nuutgevonde aansluiting by die tuin. “Paul en Mona se liefde vir die natuur en hul tuin was ’n groot dryfveer agter ons ontwerp,” sê Anthon.

“Die huis se uitleg was tipies van sy era, met afsonderlike vertrekke vir verskillende funksies. Die aanbouing het vir ons ’n geleentheid geskep om ruimtes oop te maak sodat die kombuis, sitkamer en eetkamer ’n nuwe aaneenlopende vloerplan kry, met boonop ’n uitsig op die tuin vanuit al dié dele. Die grootste vensters moontlik is gekies om die uitsig op die ruie bome in die tuin ten volle te benut.”

Voorheen kon ’n mens nie die boomryke tuin na waarde skat nie – nie van binne af nie en ook omdat daar geen onderdak-kuierplek buite was nie.

“Die aanbring van stoepe aan die suidekant en priële na die noorde van die huis skep buitelug-leefareas wat die oorgang tussen binne en buite versag en die geleentheid skep om die tuin te gebruik as verlengstuk van die huis se leefareas,” verduidelik Anthon hul uiters geslaagde poging om die groenigheid van buite na binne te bring.

Die argitekte en die Haumanns het saamgestem dat die oorspronklike houtvloere behou en tydens die bouwerk beskerm sou word. “Om aan te pas by hierdie vloere het ons in die nuwe oopplan-leefareas en kombuis ’n houtvloer in ’n soortgelyke kleurskakering gebruik en dit in ’n visgraatpatroon gelê. Onder die volvloermatte op die boonste verdieping in die slaapkamers het ons parketvloere ontdek wat ons sorgvuldig blokkie vir blokkie verwyder, afgeskuur en oorgelê het.”

Deel van die Haumanns se opdrag was ’n versoek vir ’n gemoderniseerde hoofbadkamer met meer ruimte en lig. “Die ou badkamer was in die dakruimte agter die hoofslaapkamer op die boonste vloer,” verduidelik Anthon. “Met die inbring van ’n kontemporêre boks-element wat dié badkamer sou vergroot, het ons die potensiaal van al die vertrekke in die dakruimte aan die suidekant van die huis ontgin.

“Die boks is verleng oor die volle breedte van die huis. So is die gastekamer vergroot en ruimte geskep vir ’n bykomende badkamer vir die kinders en gaste. Wat aansig en volume betref, het die gastekamer voorkeur bo die badkamers geniet deurdat die dak van die vertrek gelig is en die buitemure beklee is met dieselfde materiaal as die nuwe aanbouing op die grondvloer, naamlik S-profiel-staaldakplate, soortgelyk aan dié op die dak.”

Die vloer van die hoofslaapkamer se en suite is van Marmoleum, ’n linoleum-handelsmerk met ’n subtiele marmervoorkoms wat baie voetverkeer kan trotseer. Marmoleum van KBAC Flooring

­
­

Mona skilder steeds doodgelukkig in haar beknopte ateljee.

Mona sê die muskiete hier is “so groot soos voëls” – vandaar die muskietnet in die hoofslaapkamer. “Dis ’n yslike plaag omdat ons so naby die Eersterivier woon en die grasperk baie nat is vanweë die grondwater.”

Die stoel in Paul se kamer was sy pa s’n dwarsdeur sy studiejare en het aan sy oupagrootjie Josef Uys behoort. Stapelbed van Wrought Iron Crafts

In Kate se kamer is ’n beertjie wat haar ouma Petra Derksen s’n was toe dié nog klein was. Die laslapkombers is deur dieselfde ouma gemaak. Gulliver’s Travels-plakpapier van Cara Saven Wall Design; bed van Odds & Ends

[PAUL SE WENKE AS JY AANBOU]

• Kry ’n goeie argitek van wie se idees jy hou – die geld wat jy aan so iemand bestee, spaar jy in die bouproses. Argitekte se fooie is gewoonlik opgedeel in vier stadiums van 25% elk. Die eerste is die optrek van die planne en die laaste is die bestuur van die bouprojek. “Baie mense besluit om self die projek te bestuur ten einde geld te bespaar,” vertel Paul, “maar dis na my mening die grootste fout wat jy kan maak!”

• Beplan vir gemak in al die seisoene. “Ek sal nooit weer huis bou sonder dubbelglas-vensters nie,” sê hy. Hy glo ook ’n goeie smeulkaggel is goud werd in die winter en verhitte handdoekrelings is ’n moet vir die nat Bolandse winters.

• Installeer ’n goeie sonverhitte geiser.

• Houtvloere is duur, maar dit skep so ’n aangename gevoel, is koel in die somer, gesellig in die winter en maklik om skoon te hou.

• ’n Tussenvlak in die motorhuis is ’n goeie idee vir pakplek.

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

Arora Lights 021 511 0170

Cara Saven Wall Design 082 953 6246

G-Tech Roofing 076 284 7430

Haldane Martin 087 898 4678

Home Fires 012 663 3911

Illumina Lighting 021 979 3940

KBAC Flooring 021 464 4320

Lalegno 021 851 0054

Modern Electric 021 852 1544

Mona Haumann  

Odds & Ends 021 851 8267

Ridgways 021 853 6022

Solaheat 021 788 2141

Studio Isobel Sippel 060 393 5291

Supreme Upholsterers 021 887 2756

Timeless Timbers 021 882 9240

Trellidor 0861 873 554 367

Veelvlak Signature Surfaces 028 316 3296

VKDB 021 880 2991

Wrought Iron Crafts 021 592 5468