Foto’s Francois Oberholster
Assistent Suné Esterhuizen

“Oor die feestyd is dit vir ons belangrik dat ons huis gul en gemaklik is, en dat elkeen ’n lêplek het,” vertel Alda Fick in haar kenmerkende Overbergse aksent op hul plaas, ook Dassies-fontein, ’n paar minute se grondpadry van die gelyknamige padstal af. “Ons slaan sommer ’n paar tente in die tuin op as dit moet!”

Vir haar is Kersfees ’n gemaklike affêre sonder fieterjasies. Pleks van ’n boom en blinkgoed verkies sy ’n bos kruie uit haar groente-en-kruietuin, met Kersliggies.

Sassie hou al sy lewe lank op Dassiesfontein Kersfees, want sy pa het dié skaap-en-saaiplaas in sy geboortejaar gekoop. Deesdae is hy egter voltyds betrokke by die bestuur van die padstal-en-plaasmeul langs die N2, sowat 14 km voor Caledon op regterhand as jy van die Kaap af ry.

Die padstal, wat kort ná hulle troue in 1990 eers as ’n enkele – en kort voor lank drie – groentewaentjies begin het, is deesdae ’n gewilde stilhouplek. Daar’s ’n restaurant en ’n winkel met geskenke en dekor en allerlei tuisgemaakte lekkernye soos kaas, wyn, biltong, konfyt, bokkoms, pasteie en plaasbrood.

Die afgelope 27 jaar word Kersfees om die beurt by die Ficks en die Rouxs (Alda se familie) gevier.

Waar hulle ook al kuier, dis ’n erg gesellige gedoente wat gaan oor familie en samesyn. En natuurlik bly die kos nie agterweë nie. Wanneer dit die Ficks se beurt is, word selfs ’n WhatsApp-groepie gestig waar almal gesels oor wie wat na die Kerstafel bring. Maar een gereg is ’n tradisie waarvan nie afgewyk sal word nie: Alda se lamsboud. Haar suster, Cornel Roux, maak ook ’n hemelse hoenderpastei. En nee, dis nie Dassiesfontein se hoenders wat in die pot beland nie; hulle is lêhoenders wat plaaseiers aan die padstal voorsien.

En die feesmaal begin. Kloksgewys van links voor is Cornel Roux (Alda se suster), met haar kleindogter Anel Dreyer op haar skoot; Josef Dreyer; Teresa van Niekerk (Sassie se suster); Juan Samuel; Nina en Rouxan Roux (Alda se skoonsuster en broer); Alda en Sassie Fick; Corné en Lynne van Antwerpen (Sassie se swaer en suster); Robert en Maresa Samuel met hul seuntjie Adrian op Robert se skoot.

Geskenke – en kos!

Geskenke word tradisioneel Oukersaand uitgedeel nadat almal saam gekuier het om ’n knetterende vuur. Die kombuis is dan reeds vir Kersdag gereserveer, daarom maak hulle hamburgers oor die kole. “Ons braai tuisgemaakte patties en elke ou pak sy eie burger soos hy hom wil hê,” verduidelik Alda.

“Die groot sports begin as ons geskenke uitdeel. Elke gas bring een geskenk van R150. Elkeen trek ’n nommer en dan gaan kies ons ’n geskenk uit in die volgorde van die nommers. As dit jou beurt is, mag jy iemand se geskenk ‘terugsteel’ en dan moet dié persoon weer een gaan haal. Die biltong en wyn word natuurlik die meeste teruggesteel!”

Kersoggend gaan dié wat wakker is (en nie kinderoppasser speel nie) kerk toe op Caledon. Terwyl Alda met haar vintage-breekware, silwer-eetgerei en tafeldoeke van haar ouma Cornelie Fourie ’n feestafel dek in die ruim sonkamer, maak Sassie seker die eerste hongerpyne word gestil met ’n “voor-voorgereg” – tuisgemaakte wildswors van springbok, gemsbok en vetstertskaap uit Namibië, waar die Ficks elke Julie gaan jag. Dié wors maak dit nooit tot op die etenstafel nie. “Dit word sommer net daar om die vuur en kuiertafel van die rooster af geëet,” vertel Alda.

En dan is dit ’n feesmaal van skaapboud wat so sag en sappig is dat dit met ’n lepel geskep word, hoenderpastei, eisbein, kool met witsous, beet-en-vyeslaai, en die plaasbrood en -botter wat so gewild is by die Ficks se padstal.

Argitek Maureen Wolters; houtraamvensters deur Murle Joinery; kandelabers van Strand Trading Post

Die sonkamer aan die noordekant van die huis is Alda en Sassie se gunsteling-kuierplek. Danksy die klipwerk, latte-plafon, growwe houtbalke en ou houtvloerplanke wat herwin is uit Caledon se NG Kerk-sentrum, sou jy nooit kon raai dié gesellige vertrek is eers in 2013 aangebou nie.

Ons is pláásmense en natuurkinders; familie kom eerste. – Alda

Dié braaistoep reg langs die sonkamer is heerlik koel op warm somerdae. Maresa (Sassie se susterskind) en Robert Samuel kom kuier gereeld met Adriaan (5) en Juan (amper 3). Die bank kom uit Alda se ouers se huis, en haar pa, Coen Roux, het al sy lae verf vir haar afgeskraap.

/
/

Alda en Sassie saam met Tomba. Juan Samuel sit ‘n handjie by. Die Kersboom is pure eenvoud – droë kandelaarblomme (Brunsvigia) uit die omgewing. Alda en haar regterhand, Ragel Aron, werskaf sy aan sy in die kombuis (oorkant) wat die Ficks in Augustus 2016 opgeknap het. “Ek het by Callie Kombuiskas, ’n firma van Bredasdorp, gaan raad vra en hulle het my lekker praktiese plaaskombuiskaste gemaak – net wat ek wou hê.”

Die dekor

“Ons is baie lief vir ons huis; dit moet hartlik wees en mense moet gemaklik wees hier,” sê Alda. Dié hartlikheid skemer sterk deur in haar dekor – ’n gesellige kombinasie van ougoed, mooigoed, familiegoed, optelgoed en tweedehandse kopies. Ook dinge wat sy nou en dan by haar padstal gaan “gaps”!

En as dit nie regtig oud is nie, lýk dit ouwêrelds, soos die landelike kombuis wat sy in 2016 laat inbou het. Die huis met sy pragtige plankvloere en mure van klip uit die omgewing is rondom 1947 gebou en Alda wou seker maak haar nuwe kombuis skakel in by die plaasatmosfeer.

As eienaar van die padstal met al sy ouwêreldse huisware het sy ’n fyn oog vir estetika, en ferm beginsels oor wat sy in haar huis indra. “Óf ’n ding moet ’n storie vertel én prakties werk, óf hy hoort nie hier nie,” sê sy ferm.

So lief soos Alda en Sassie vir hul mense is, so lief is hulle vir hul honde, Tomba en Luka (dié is ongelukkig kort ná Tuis se kuier oorlede). “Kinders moet hier met driewiele kan jaag en my honde- kinders moet darem ook ’n rusbank hê. ’n Huis moet mos lééf.”

Lééf is iets wat die Ficks self met oorgawe doen. “In die somer stap ons en die honde sommer met ’n bottel wyn en ’n pak tjops op na die dam toe. Dan sit ons daar en geniet die uitsig en eet sommer van die rooster af.” En só tel die Ficks hul seëninge met klein, aardse lekkertes wat vir hulle groot vreugde bring. Net soos hul familie.

Kant op rakke van Strand Trading Post
Kroonkandelare van Dassiesfontein-padstal
Ek sal nie sê my dekorstyl is vintage nie; ek is net baie lief vir ougoed. – Alda
/
/
Lig
Kussings

“As ’n ding mooi is, moet hy hier kom staan,” sê Alda oor die pragtige houtkas van Strand Trading Post in haar sitkamer. Sy het die waskom en beker as sewejarige by haar ouma Sannie Roux geërf. Dié dubbelbed in die gastekamer het Alda se ma, Madelief Roux, dekades gelede vir R250 gekoop toe Alda by haar eerste woonstel ingetrek het. Die laaikas het sy later by haar ma geërf. “My naam was binne-in geplak op ’n stukkie maskeerband,” onthou sy.

Tomba en die Deense hond Luka wag vir hul eie Kersete op die agterstoep, net buite die kombuis. “Sassie noem die klimop teen die mure sy ‘Plascon-plantjie’, want jy hoef nie te verf nie,” verduidelik Alda laggend.

Ek en Sassie is regtig mal oor die plaaslewe. Ons is baie dankbaar. – Alda
VERSKAFFERS
  • Callie Kombuiskas 028 424 1517
  • Dassiesfontein-padstal-en-plaasmeul 028 214 1475, dassies.co.za
  • Maureen Wolters (argitek) 082 450 3970
  • Murle Joinery 028 212 1574
  • Plan B Vintage 082 491 3677, planbvintage.co.za
  • Strand Trading Post 021 853 6619