Foto’s Donna Lewis l  Produksie Marian van Wyk l Assistent Malizo Masumpa

WIE WOON HIER?

Lize-Marié en Mias van der Westhuyzen en hul kinders, studente Mia en Mieke-Marié, en Willem (15)

WAAR Mostertsdrift, Stellenbosch

GROOTTE 500 m²

Lize-Marié het ’n oog vir kleur, en is veral lief vir blou en groen. “In my huis moet daar altyd kleur wees! Dis hoe ek die voorkoms van ’n vertrek verander.”

Ná jare in ’n ou huis met donker houtafwerkings en -vloere het Lize-Marié en Mias van der Westhuyzen gevoel dit is tyd vir ’n verandering. Die huis in Stellenbosch se middedorp het boonop te knap geword vir die gesin van vyf, en rondom hulle is die bure se huise een ná die ander in studentewonings omskep.

Toe hulle 14 jaar gelede ’n erf te koop sien reg langs die Jan Marais-natuurreservaat, het hulle geweet – híér kan hulle hul droomhuis oprig. Daar was net ’n klein huisie, “vierkantig soos ’n broodblik”, heel voor teen die straat, vertel Lize-Marié. “Niemand het eintlik geweet hoe groot die erf is nie, want dit was heeltemal oorgroei agter. Toe ons begin skoonmaak, was die baie ruimte ’n heerlike verrassing.”

Die ou huisie met sy twee slaapkamers was erg verwaarloos en die gesin wou juis ruimte hê. Daarom het die Van der Westhuyzens by Marcus Smit van Marcus Smit Jacobs Architects aangeklop om hul nuwe vierslaapkamerhuis te ontwerp. Mias was vertroud met Marcus se werk en het geweet hy deel die gesin se stylvoorkeure. Sementvloere, staalraamvensters en baie lig was alles op die wenslys vir hul nuwe droomhuis.

Die bestaande struktuur is platgeslaan en die bouwerk kon in Julie 2006 begin. Marcus het skuins sinkdakke voorgestel, wat heelwat ekstra ruimte op die boonste verdieping beteken en boonop ’n treffende ontwerp-element is. Die staalraamvensters sorg vir oorgenoeg natuurlike lig in die vertrekke, en bied ook lieflike uitsigte op die Jan Marais-park en Simonsberg in die verte. Dis in die detail Ronde vensters hier en daar was ’n spesiale versoek tydens die huis se ontwerp.

Die Dover-smeulkaggel, een van drie in die huis, is baie nuttig tydens die winter. Die betonvloere is met ’n gewone sementlaag afgevlak en toe behandel met ’n UV-bestande poliuretaanlaag wat verhoed dat die sonlig dit vergeel.

’n Kombinasie van sweefrakke en laaie bied oorgenoeg pakplek in die praktiese kombuis. Al die kaste teen die mure het werkvlakke van vlekvrye staal.

Die ruim kombuiseiland is perfek vir wanneer die gesin hier kook en kuier. Dit het ’n eenvoudige betonblad met dieselfde poliuretaan-beskermlaag as die vloere. “Dis prakties en maklik om skoon te maak,” verduidelik Lize-Marié. Stoeltjies van Arabesque

'n Hoekie tussen die voordeur en die kombuis se ingang bied hangplek vir handsakke en ander losgoed. Muurhorlosie van MRP Home

Die staalraamvensters is meestal in kostedoeltreffende standaardgroottes gekies, behalwe dié wat later pasgemaak is vir die stoep.

Binne, maar ook buite

Die Van der Westhuyzens geniet die buitelug en gaan stap byna daagliks met hul Jack Russell-terriër, Lucky, in die Jan Marais-park reg agter die huis – ’n hekkie in die tuin maak direk op die park oop. “Ons is dol oor die ligging. Die kinders kon almal na die nabygeleë laerskool stap, en nou ry my jongste sommer fiets hoërskool toe. Elkeen kom en gaan teen hul eie pas.”

Op enige oomblik gedurende die dag – en enige tyd van die jaar – sal jy minstens een van die gesinslede op die stoep aantref. “Hier kuier ons van die môre tot die aand,” vertel Lize-Marié. “In die somer bied die groot vensters skuiling teen die suidooster, en in die winter bly dit tot laatmiddag lekker warm, ondanks die sementvloer.”

Die stoep het aanvanklik net tot langs die braaiplek gestrek, maar omdat dit die gesin se gunsteling-kuierplek geraak het, wou Lize-Marié graag plek vir ’n eetkamertafel hier hê. Die sementvloer is toe op ’n kreatiewe manier met dwarslêers vergroot – dit gee nou ekstra tekstuur aan die vertrek, net soos die dakstruktuur met sy latte-plafon.

Dit was eers einde 2018 dat hulle die stoep toegemaak het met pasgemaakte staalraamvensters wat by die res van die huis pas. “Dis heerlik om hier te sit en te voel jy is in die tuin,” sê Lize-Marié.

Daar is oorgenoeg kuierplek op die stoep, reg langs die kombuis. Baie van die meubels is tweedehandse kopies of erfgoed; van die stoele kom uit die ou poskantoor op Stellenbosch en spog nou met nuwe lap. Pasgemaakte vensters deur Jambmax 

Dié kuierkol aan die kant van die huis is gerieflik beskut teen die suidooster. Voordat die stoep toegebou is, het die Van der Westhuyzens gereeld hier gebraai; nou bied dit privaatheid vir die kinders wanneer hulle vriende oornooi. Lize-Marié het die Adirondack-stoele laat maak en toe in haar gunsteling-skakering groen geverf.

Vanuit die ruim oopplan-hoofslaapkamer en suite het Lize-Marié en Mias die mooiste uitsig oor die Jan Marais-park. Hier, op die boonste verdieping, is die sementvloere met wit epoksi (ook UV-bestand) behandel. “Ons het eers ’n ander epoksi-laag gekies, maar alles het vergeel weens die son,” vertel Lize-Marié. Die skoorsteenpyp van die kaggel op die onderste verdieping help om die hoofslaapkamer warm te hou in die winter. Mat van Superbalist 

Lize-Marié se dekorwenke

• Moenie sommer net nuwe goed koop nie; gebruik wat jy het en doen iets nuuts daarmee.

• Jy hoef nie bang te wees vir kleur nie! Deur net ’n meubelstuk se kleur te verander, lyk dit weer soos ’n nuwe ding. Dis ’n wonderlike manier om ’n vertrek se styl te verander.

• Meubels moet mooi wees, maar ook prakties.

• Die goed wat jy uitstal, moet jy daagliks gebruik, anders gaar dit net stof op!


Kreatiwiteit in hul DNS

Lize-Marié, een van die stigterslede van die gewilde mark KAMERS/Makers, se kreatiewe flair is duidelik te bespeur in haar meubels en dekorkeuses. Die heel eerste KAMERS-mark was in hul vorige huis. “Dit was so heerlik intiem daardie eerste jaar of twee. Ek het sommer die huis leeg gedra en die uitstallers het elkeen hul eie hoekie gehad.” Mias, ’n entrepreneur en sakeman, deel sy vrou se passie vir mooimaak en het self al van sy handgemaakte spieëls by die markte verkoop.

“Ons vul mekaar goed aan wat kreatiwiteit betref,” sê Lize-Marié. Iets van dié markgevoel is steeds duidelik in die Van der Westhuyzens se huis. Van die voordeur tot by die verste vertrek op die boonste verdieping is mooigoed en meubels keurig gekombineer – tog is daar nêrens oordaad nie. Die huis se eenvoudige lyne en industriële elemente is die ideale verfdoek waarop Lize-Marié haar voorliefde vir tweedehandse meubels, ougoed en kleur kan skilder. Elke meubelstuk is met sorg uitgekies, pasgemaak, geverf of herstoffeer. “My passie is om goed te vat wat niemand wil hê nie, en iets moois daarvan te maak. Ek koop nie sommer nuwe meubels nie,” vertel sy. “Ek verf of stoffeer liewer ’n ou ding, of skuif dit van een vertrek na ’n ander sodat dit weer anders lyk.”

Spatsels blou en groen is oral te sien en vorm ’n deurlopende tema saam met die houtmeubels. Verskillende teksture skep ook interessante kontras in die huis – van ’n ontblote baksteenmuur by die vuurmaakplek tot ’n fokusmuur wat subtiel met sinkplate beklee is, en natuurlik die sementvloere deur die hele huis.

Lize-Marié vertel sy het aanvanklik ’n meer moderne aanslag vir die dekor oorweeg om by die industriële gevoel van die huis te pas. “Die moderne styl is vir my ook baie mooi, maar ek sal nie so kan leef nie. Ek is te lief vir ougoed!”

Die hoofslaapkamer se spierwit en suite komplementeer die rustige kleurskema van die hele oopplan-vertrek.

Dié kassie was deel van ’n uitstalling by KAMERS/Makers in Pretoria en bied nou pakplek vir al Lize-Marié se snuisterye.

In Willem se kamer het Mias hortjies aan skuifrelings gehang sodat die vensters kan toeskuif wanneer dit bloedig warm word.

Deur die huis kontrasteer die houtmeubels lieflik met die industriële sementvloer. Die eetkamertafel van Oregon-dennehout is gemaak van dakbalke uit die oorspronklike huis op die erf sodat iets van sy geskiedenis bewaar kon bly. 

Die groen geverfde kopstuk in Mieke-Marié se kamer kom van die winkel Nest, wat intussen toegemaak het. Daarbo hang een van Mias se spieëls.

Mia, ’n student in grafiese ontwerp, se kamer is eenvoudig en helder. Haar 88-jarige ouma het die deken as ’n geskenk vir haar gemaak. Die plafon van eenvoudige sinkplate verleen pragtige tekstuur aan die ruim vertrek.

Dié badkamer met sy klassieke swart en wit teëls is tussen die twee dogters se kamer op die boonste verdieping. Teen die muur langs die oop stort is nog een van Mias se handgemaakte spieëls

VERSKAFFERS

Arabesque 021 851 4047

Jambmax 021 982 0660

Marcus Smit Jacobs Architects 021 852 1362

Superbalist 087 362 7300