book-icon Uitgawe April 2018
Deel

Gemaklike vloei van binne na buite op Stellenbosch

akkreditasie
Oud en jonk kuier alte lekker in dié gesinshuis op Stellenbosch, waar die karakter van die oorspronklike argitektuur voortleef.

Wie woon hier? Annaline en Gerrit van den Berg en hul kinders, Karlien (4) en Joshua (2)
WAAR Stellenbosch 330 m² (motorhuis en buitekamer ingesluit)

“Die lekkerste van net hier by die huis wees, is dat ons mekaar heeltyd raakleef.” Só vertel Annaline van den Berg oor die huis waar sy en haar gesin sedert November 2016 woon.

As jy jou in die ruim oopplan-leefgedeelte tuismaak, kom jy gou agter wat sy bedoel. Die twee kleuters, Karlien en Joshua, se speelkamer (die skuifdeur links op die foto) is slim ontwerp sodat dit om ’n hoek van die leefarea is, maar steeds deel daarvan uitmaak. Gerrit kan ook net daar in die leefvertrek braai.

Dit is juis dié oop ontwerp wat hul huis so ’n lekkerleefplek maak. “Met jong kinders is dit regtig ’n groot bederf dat ons hulle uit al die vertrekke op een groot strook gras kan sien,” verduidelik Annaline.

“Sedert ons die skuifdeure ingesit het wat na suid én noord uit die leefvertrek oopmaak, leef ons baie meer oop en benut ons die tuin soveel beter. Die huis voel net soveel groter wanneer die deure alkante oop is en jy die bome en berge ook in jou visier het.”

Die huis dateer uit die jare sestig, en het nie altyd so ’n gemaklike oorgang na buite en tussen al die leefgedeeltes gehad nie.

“Ons het vir lief geneem daarmee dat ons altyd ’n ouer huis sal opknap, want ons hou baie van ou, gevestigde buurte met hoë bome – die soort adres waar nie meer leë erwe beskikbaar is nie,” vertel sy. “Nog voordat ons dié huis gesien het, het die boomryke straat en landelike gevoel van die buurt ons hart gesteel. Maar die grootste aantrekkingskrag was die langwerpige uitleg op een vlak, en al die vertrekke wat noord front.” 

Die huis se noordekant is herontwerp om baie natuurlike lig in te laat, danksy groot skuifdeure wat die argitek Cillié Malan van Slee & Co. laat installeer het. Skuifdeure van Alutech

Dis in die detail

Oorspronklik is die dakstruktuur gestut deur ’n pilaar, maar dit het die vertrek verdeel. Dis vervang met ’n staalbalk wat steun oor die hele ruimte verskaf deur middel van trek-en-stootkragte, verduidelik Cillié Malan, die argitek.

Woonarea

“Ek is lief vir onthaal en die oop ruimtes maak dit baie maklik,” sê Annaline. In gure weer braai Gerrit net hier in die leefvertrek. Die TV is slim geplaas dat dit nie ’n fokuspunt is wanneer ’n mens van die voordeur, dek of voortuin instap nie.

Die groot hanglampe bo die eiland is spesiaal uitgesoek vir die regte proporsie. Dit moes presies ’n meter uit mekaar hang tussen die dakbalke, en groot genoeg wees om die hoë plafon te komplementeer.
Laaikas van Block & Chisel; eetkamertafel van Coricraft en -stoele van @homelivingspace; vloere van verwerkte hout in die kleur Grey Mist Rustico van Oggie Hardwood Flooring; leerbank van Weylandts; gestoffeerde bank deur Giraffe Designs; mat van Hertex

Annaline wou seker maak die dekor in die oop leefruimte praat dieselfde taal regdeur, vandaar die grys palet met hout- en leeraksente vir warmte. Die ou Oregon-dakbalke regdeur die huis is afgeskuur nadat die dennehoutplafon uitgebreek is.

Die eetkamer maak oop op dié dek van Siberiese lorkehout (onder) aan die suidekant van die huis, waar die gesin graag op mooi someraande eet. Op warm dae sorg die moeraseike op die sypaadjie vir koelte hier. Hangmat van Agrimark

Met die kombuis se ontwerp het Annaline aangedring dat die yskas en mikrogolfoond buite sig moet wees. Die ou Oregondennehoutkas is ’n erfstuk van Gerrit se ma, Nina.
Kombuiskaste en kroegstoele ontwerp en vervaardig deur Holly Wood Kitchens and Furniture; hanglampe van K. Light Import

In pas met die 21ste eeu

Danksy die goeie oorspronklike ontwerp was geen drastiese ingryping nodig om die huis vir die behoeftes van ’n moderne gesin aan te pas nie. Die grootste werk was die uitbreek van enkele mure in die leefarea ter wille van ’n groter oopplankombuis-en-leefvertrek.

Buiten ’n elektrisiën wat spoorloos verdwyn het toe die hele huis herbedraad moes word, was daar geen groot terugslae tydens die opknapprojek nie. “Die geërfde foute was die grootste probleem,” onthou Annaline. “Die vloere was nie oral op dieselfde vlak nie, en om dít reg te kry nadat die mure uitgebreek is, was nogal ’n gedoente.

“Ons wou ook graag die leefgedeelte se dennehoutplafonne behou en wit verf, maar dit was onmoontlik om die hout te las waar die mure verwyder is. Waar ons kon, het ons dit behou, soos in die kinders se slaapkamers en hul speelkamer.”

Daar het darem ook iets goeds van die verlore houtplafonne gekom: “Toe dit uitgebreek is, het ons pragtige dakbalke van Oregondennehout ontdek. Ons het toe besef dié balke gaan ’n baie mooi prentjie maak en die houtvloer komplementeer. ’n Mens wil immers iets van die ou huis sien. Van die balke moes korter gesaag word en ons kon toe dié pragtige ou hout vir sweefrakke en selfs ’n spieëlraam in ’n badkamer gebruik.

“As ’n mens niks oorhou van ’n ou huis nie, kan jy maar net sowel van nuuts af bou. Nou word ons gereeld daaraan herinner dat die huis dubbel so oud soos ons is. Dit dwing respek af. Dis ’n voorreg om die mooi dele van ’n ou huis te behou sodat iets van die plek se eie karakter voortleef.”

Kinderkamers

1. Joshua se ouma Mariana de Bruyn het die lokomotiefhorlosie vir hom present gegee. Die grys staalkas is ’n tweedehandse kopie, en ’n ekstra wasgoedmandjie verskaf bêreplek vir speelgoed. Al die rakke in die kinders se kamers is gemaak van die dakbalke wat in die leefvertrek korter gesaag is.
Blou muur geverf in die Dulux-kleur California Dreaming

2. Die speelkamer skakel gemaklik met die leefvertrek, daarom het Annaline helder kleure op die mure en meubels vermy.
Muur geverf met Midas Envirolite in die kleur Incense Bundle; kaste deur Holly Wood Kitchens and Furniture

3. Die ysterbedjie in Joshua se kamer kom ook uit ouma Nina van den Berg se huis.
Deken van Woolworths

5. “Karlien het my baie duidelik verwittig dat haar kamer pienk moet wees,” onthou Annaline. Haar ysterbedjie kom uit haar ouma Nina van den Berg se huis. Annaline het die wit rand op dadorelinghoogte met ’n stensil geverf en doodgewone kolplakkers van CNA op die muur geplak.
Pienk muur geverf in die Dulux-kleur Cotton Candy; haasstoeltjies van Dovetail Furniture & Décor

’n Grys palet maak my rustig. Ek is mal oor ’n huis met ’n kalm gees. – Annaline

Gastebadkamer

Dit was Annaline se idee om die spieël in die gastebadkamer te raam met van die ou Oregon-balke wat uit die leefvertrek se dak verwyder is. Aan die onderkant vorm dit ’n rak – ’n slim ruimterekker.
Wasbakkas deur Holly Wood Kitchens and Furniture; bad van Victoria & Albert Baths; wasbak van Gio Designer Plumbing; mosaïekvloerteëls in die ontwerp River Glass White van Douglas Jones; badmatjie van Weylandts

Hoofslaapkamer

Die hoofslaapkamer is waar die ou enkelmotorhuis en ’n buitekamer was. “Dis ’n rustige oase waar ons van al die besige hoekies kan ontsnap,” sê Annaline. Sy het die bed spesiaal laat maak nadat sy in 2010 ’n soortgelyke een in Tuis gesien het.
Fotorame van Bellbottoms

Aards en klassiek

’n Mens sou maklik dink Annaline het die dienste van ’n binneversierder gebruik, maar nee. “Die mooimaakproses is vir my hopeloos te lekker!” As bedryfsingenieur wat agt jaar lank by Eskom gewerk het voor sy voltyds ma geword het, het sy ’n goeie oog vir ontwerp.

“My belangstelling in dekor het ontwikkel toe ek in plekke met allerlei funksionele of ontwerpdilemmas gewoon het, soos ’n pilaar of TV-punt op die verkeerde plek, en onpraktiese rakke.

“Só het ek begin soek vir mooi maniere om goed weg te steek of minder van ’n seeroog te maak. In die proses het ek lief geraak vir reguit lyne, rondspeel met verf, en meubels oordoen. Nou is dit vir my lekker om omring te wees deur skoonheid.” 

Neutrale kleure soos grys en wit, die tekstuur van rou hout en ’n kombinasie van moderne en klassieke elemente is haar groot dekorliefdes. “Dit keer dat ek te gou verveeld raak daarmee.”

Sy erken dat twee jong kinders ’n dramatiese uitwerking op haar dekorkeuses het. “My bank is oorgetrek in ’n baie donkerder grys as wat ek verkies, maar dis net soveel makliker om skoon te hou. As ek nie ’n ma van twee kleuters was nie, sou ek graag alles binne wit wou hou sodat jou oë van nature na die bome en berge buite dwaal,” mymer sy.

En suite

Die hoofslaapkamer se en suite-badkamer het ’n skuifdeur na ’n kompakte binnehof met ’n stort en muurpanele van Siberiese lorkehout, wat mooi kontrasteer met die wit afwerking binne. Gerrit is gaande oor die buitestort. Hulle kan die deur tussen die twee storte heeltemal oopskuif, of net die paneel regs oopmaak.
Wasbakkas deur Holly Wood Kitchens and Furniture; bad van Victoria & Albert Baths; wasbakke van Gio Designer Plumbing; mosaïekvloerteëls in die ontwerp River Glass White van Douglas Jones; skuifdeur van Alutech; badmatjie van Weylandts

Binne of buite – jy kan kies waar jy wil stort!
VERSKAFFERS
  • @homelivingspace 021 938 1911, home.co.za
  • Agrimark 021 976 3057, kaapagri.co.za
  • Alutech 021 981 1550, alutech.co.za
  • Bellbottoms 012 333 2116
  • Coricraft 021 508 5200, coricraft.co.za
  • Douglas Jones 086 166 7242, douglasjones.co.za
  • Dovetail Furniture & Décor hellodovetail.co.za
  • Gio Designer Plumbing 011 392 4208, gioplumbing.com
  • Giraffe Designs 021 824 4100, facebook.com/Giraffe Designs
  • Hertex 0860 437 839, hertex.co.za
  • Holly Wood Kitchens and Furniture 021 701 7737, hollywoodfurniture.co.za
  • K. Light Import 021 552 4370, klight.co.za
  • Oggie Hardwood Flooring 021 510 2846, oggieflooring.com
  • Slee & Co. Argitekte 021 887 3385
  • Victoria & Albert Baths 023 347 4939, vandabaths.com
  • Weylandts 0860 103 400, weylandts.co.za
  • Woolworths 0860 022 002, woolworths.co.za
Jongste uitgawe

April 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees