Foto’s Elza Cooper | Stilering Amanda van Wyngaardt

WIE WOON HIER?

Hilko Johannsmeier en sy hond Maximilian, ’n swart Russiese terriër

WAAR Parkhurst, Johannesburg

GROOTTE 125m²

Al die plafonne in die huis is vervang en aandag is aan funksionele beligting gegee. Bank van Klooftique; koffietafel van Block & Chisel; kanttafel van Anatomy Design; Diesel Fork-lamp uit conranshop.co.uk; Springhaas-beeldjie deur Guy du Toit en Wilma Cruise; Bauhaus-silwerasbak ontwerp deur Marianne Brandt, vervaardig deur Alessi

Dit was ’n gelukskoot toe Hilko Johannsmeier dié huis in Parkhurst een Vrydagmiddag in 2013 “ontdek”. Al wat die eiendomsagent vooraf aangestuur het, was ’n enkele onaantreklike foto van ’n ewe onaantreklike bruin struktuur met “wimpers” – twee sonkappe voor die vensters weerskante van die voordeur. Maar die prys was reg, en een van die goedkoopste plekke wat Hilko in dié gewilde Johannesburgse buurt kon vind. Binne was dit ook maar gehawend, maar nadat Hilko die huisplanne onder oë gehad het, was hy binne ’n halfuur oortuig hy kon iets moois van dié huis maak.

“Dis ’n tipiese Parkhurst-woning, so te sê vierkantig met ’n teëldak en ’n skoorsteen. Buiten ’n klein aanbouing in die sestigerjare was die huis nog net soos dit in 1952 gebou is,” vertel hy, en voeg laggend by: “Met die oordrag van die eiendom is ek van ’n slopingsertifikaat voorsien, pleks van ’n sertifikaat van voldoening! Gelukkig was dit darem nie nodig om die huis plat te stoot nie.” Want hoewel daar baie werk was, het die gebou ’n goeie en stabiele raamwerk gehad, sonder struktuurfoute. ’n Groot plusplunt was dat die dak uitsluitlik op die buitemure gerus het. Dit het beteken Hilko kon met gemak binnemure uitbreek.

Nadat die meeste mure – onder meer dié van ’n gang en ’n aparte sonkamer – geval het, is die oorspronklike drieslaapkamerhuis omskep in ’n eenslaapkamer-toevlug met oopplan-leefruimtes en ’n stoep. Presies wat Hilko wou hê. ’n Tuinwoonstel agter is opgeknap as slaapplek vir kuiergaste, terwyl die laslappiedak weens die vorige aanbouing met ’n betonblad vervang is. En om vorm en volume te skep, is al die horisontale staalvensters met byderwetse skoolvensters vervang en die deuropeninge hoër gemaak.

Die skildery Mila deur Lionel Smit maak groot indruk in die eetkamer. Dit “lewe” omdat dit voortdurend saam met die lig verander. Die staalbalk onder die plafon is bloot vir estetiese doeleindes ingesit om die industriële gevoel van die vensters en vloer te versterk. Dit is regoor ’n groot skuifdeur wat by die tema aansluit.

Industrieel, dog gesellig

Vir Hilko was dit belangrik dat die afwerkings tydloos moet wees; hy wou hom beslis nie deur modegiere laat verlei nie.

“My vertrekpunt was eenvoud en om die huis so oorspronklik moontlik te hou,” vertel hy. “Ek wou graag ’n neutrale en klassieke basis skep wat nie aan ’n spesifieke tydvak gebonde is nie.”

Alles moes wel op ’n knap begroting gedoen word. Daarom is daar byvoorbeeld rou sementvloere deur die hele huis nadat die ou blokkiesvloere ongelukkig nie gered kon word soos aanvanklik die plan was nie. “Gelukkig skep die sementvloere nou deurlopende vloei in die huis,” sê Hilko. “Ek hou die vloere warm met los matte wat ek uit Azerbeidjan in die Midde-Ooste saamgebring het – dit lê oral waar ’n mens beweeg en staan. En in die winter hou die kaggel die huis knus en warm.”

Benewens die nuwe skoolvensters wat tot die “ligte industriële” voorkoms bydra, is die vensterbanke afgewerk met ’n ry rou bakstene vir ’n aardse element. Dié bakstene is almal herwin uit die voortuin, wat aanvanklik heeltemal geplavei was.

“Die afwerkings is prakties en die huis het ’n heerlike vloei,” vertel Hilko. “Ek benut elke vertrek elke dag en het reg deur die huis visuele asse wat ruimte en ’n gevoel van vryheid skep.”

Tafel deur Anton Weideman

Kombuis-stories

Net soos die res van die huis neig die kombuis na die onkonvensionele kant, maar is dit ook ’n fees vir die oog. “Ek wou graag ’n praktiese kombuis hê met genoeg werkoppervlakke en rakspasie,” verduidelik Hilko. “Ek hou van ’n oop rak, want jy kan alles met een oogopslag sien en hoef nie kasdeure oop en toe te maak en na dinge te soek nie. Oop rakke skep ook ’n gemaklike, informele atmosfeer.”

Gevolglik sal jy nie ’n enkele ingeboude kas in dié kombuis kry nie. “Ek het met hopeloos te veel tafels gesit en het nie eintlik geld oorgehad vir ’n behoorlike kombuis nie,” sê hy laggend.

“In my vorige huis het ek ook net los tafels in die kombuis gehad. Dit werk goed vir my. ’n Tafel is dieper as ’n gewone kombuisblad en daar is altyd genoeg plek om op te werk, selfs al staan daar ’n ketel of ’n koffiemasjien of wat nog rond. Dit is nie noodwendig so beplan nie, maar alles werk goed saam. Ek maak die meubels al oor jare bymekaar en dit pas by my rustieke en eklektiese styl,” voeg hy by.

Teen die muur het Hilko doelbewus weggebly van metroteëls omdat hy voel dit is ’n modegier wat gou sal wys in watter tydperk jy opgeknap het. “Die vierkantige wit teëls is vir my baie meer tydloos – boonop was dit spotgoedkoop!”

Rakke geïnstalleer deur Easylife Kitchens; teëls van Union Tiles

Kuns en dekor

Elke hoekie in die huis skep ’n prentjiemooi beeld. Hoewel dit netjies gestileer is, met die fynste aandag aan detail, is die voorkoms allermins styf of pretensieus – eerder gesellig. Dit is ook hoe Hilko elke dag tussen sy mooigoed leef.

“Ek het grootgeword in ’n huis met ’n kunsversameling en dit het van my kinderdae af ’n indruk op my gemaak,” vertel hy. “Ek kies hoofsaaklik ’n kunswerk omdat dit met my praat en ek daarvan hou – en besluit eers later waar dit gaan hang of staan. Alles hoef ook nie noodwendig by mekaar te pas nie. Dit skep eintlik ’n interessante en onvoorspelbare interieur wanneer elemente van mekaar verskil.”

As dit by die kleurskema kom, voer aardse en natuurlike kleure die botoon. ’n Enkele muurkleur, Plascon Samovar, is deur die hele huis gebruik. Dis ’n warm grysbruin met ’n effense olyfgroen tint. “Dié kleur het ’n wonderlike karakter en lyk nie altyd dieselfde nie. Dit hang af hoe die lig verander,” verduidelik Hilko. “Dit is ook nie sielsbedrukkend donker nie.”

Op die deurkosyne en vensterrame is wel ’n lagie donkergrys Plascon Bovine ingespan vir kontras. “Daar is dus basies net vier kleure in die huis – wit plafonne wat die oopte van die leefareas beklemtoon, die bruin mure wat met beligting verander, donkergrys vensters en deure en ’n sementvloer wat met verloop van tyd ’n interessante patina ontwikkel.”

Hoewel kuiergaste dikwels sy huis as “onkonvensioneel” beskryf, werk die voorkoms goed en voel gaste altyd op hul gemak. “Een van die fundamentele oogmerke met kontemporêre kuns is dat dit tot debat en gesprek moet lei,” vertel Hilko. “Ek kan regtig sê dit is iets wat gereeld in my huis gebeur.”

Potte hang aan hake onder die kombuistafel, aangesien daar niks is wat Hilko meer irriteer as om gestapelde potte van mekaar te lig nie! ’n Kollega het die staalrame vir die eikehoutrakke gesweis. Kunswerk getiteld Calculus deur Zolile Phetshane; werkbank van Koöperasie Stories

Hilko en Maximilian

Beeld deur Fana Malherbe

Kruipvy en klimop sal binnekort die buitemure heeltemal toerank.

Fish Walker deur Uwe Pfaff

Kunswerke (van links) deur Olaf Bischoff, Natalya Zarovnaya en Karin Preller

Wasbak van OXO; krane van Hansgrohe; spieël van Bathroom Bizarre; rakke van ODE

Rising above it-beeld deur Jacques Dhont

In die slaapkamer verskaf ’n breë houtkopstuk plek vir ’n lamp en boeke. Die skildery teen die muur kom uit ’n reeks deur Heike Allerton Davies oor vroue van Genadendal. Kopstuk deur Anton Weideman; lamp van Anatomy Design

Die agterstoepie is in die plek waar die sonkamer voorheen was en kry lekker son uit die noorde. Die meubels bly permanent buite en word met ’n sonblinding aan die westekant teen fel middagson beskerm.

[HILKO SE WENKE]

• Neem genoeg tyd om te besluit watter tipe uitleg en vloei vir jou werk. ’n Nuwe huis verander nie ou gedragspatrone nie.

• Moenie te hard probeer om die perfekte huis te skep nie. Laat die ruimte organies – met verloop van tyd – ontwikkel, sodat dit eerder ingeleef as oorgestileer lyk.

• Jou dekor moet ’n oplossing vir alledaagse probleme bied en nie hindernisse skep nie. Dink prakties sodat dit nie meer werk, moeite en spanning meebring nie.

• Hou by dit wat jou gelukkig maak, veilig laat voel en waar jy jouself kan wees.

• As jy twyfel, win professionele raad in wat by jou sal pas, maar vermy iemand wat ’n vertrek net gaan opdollie sonder dat dit jou smaak verteenwoordig.

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

Alessi

Anatomy Design 010 594 5397

Anton Weideman antonweideman@gmail.com

Bathroom Bizarre 0861 555 000

Block & Chisel 080 012 7337

Easylife Kitchens 086 132 7954

Fana Malherbe 021 883 9692, info@fanamalherbe.co.za

Guy du Toit 

Hansgrohe 0861 111 941

Heike Allerton Davies 

Jacques Dhont 

Karin Preller

Klooftique 021 424 9458

Koöperasie Stories 076 303 9336

Lionel Smit 021 205 6867

Lizamore & Associates 082 651 4702

ODE 086 111 3080

Olaf Bischoff 

OXO 

Pierre Cronje 083 324 5300

Union Tiles 0860 084 537

Uwe Pfaff 076 158 9463

Wilma Cruise 

Zolile Phetshane