Foto’s Francois Oberholster | Stilering Shelly Bergh

DIE HUISEIENAAR Jaco Brand
WAAR Rawsonville, Wes-Kaap
GROOTTE 72 m²

Ons het Jaco Brand se permakultuur-tuin op Rawsonville in ons September 2016-uitgawe gewys. Hy verduidelik die inspirasie agter sy ekovriendelike onderneming só: “Ek het op ’n plaas buite Leonardville in Namibië grootgeword. Ons het altyd ’n groentetuin gehad en my belangstelling in kos kom van my ma af. Nou het ek my eie groentetuin en is dit vir my heerlik om soggens met ’n koppie koffie soontoe te stap en my dag daar te begin. Want wat is nou lekkerder as om ’n vars produk uit die grond te trek en dit in die kombuis te gebruik?”

Die tuin is by PicardiPlace, Jaco se huis en ’n gewilde gastehuis op ’n wynplaas in die Boland. In Oktober 2016 het hy besluit om nog akkommodasie op sy 1 ha-erf te bou en ’n losstaande houtstruktuur was ’n natuurlike keuse vir die omgewingsbewuste Jaco. “Die vars kos uit my tuin en die feit dat ek dié leefwyse met my gaste kon deel, het my laat dink dat ek my koolstofspoor nog kleiner kan maak,” sê hy.

Die selfsorghuis Camomile Cottage is oor sowat ’n jaar se naweke gebou. “Dis vir my lieflik dat dit perfek inpas by die omgewing op die wynplaas en dat dit só gebou is dat die natuurlike hulpbronne so min moontlik versteur is,” verduidelik hy.

’n Groot pluspunt van verblyf by PicardiPlace is Jaco se kookklasse waartydens deelnemers vars produkte uit sy tuin gebruik. Trouens, die nuwe houtkothuis het nog nie eens ’n kombuis nie – gesellige etes is deel van die pakket!

Die hele huis is eers gebou van dik dennehoutplanke en -pilare, waarna dit met bandysters op ’n betonfondament staangemaak is. Die stoepdak is van gebeitste dennehout, die hoofdak is van sinkplate en die buitemure is beklee met Nutec-borde. Die groot aluminiumraam-stapeldeure, asook die vensters in die solderkamer, het ’n pragtige uitsig op die omliggende wynplase en die Du Toitskloofberg.

Die voorstoep met sy sementvloer is net so breed soos die huis – perfek vir al fresco-etes uit Jaco se organiese groentetuin.

Die kothuis front noord, want ek wou hê die oggendson moet bo en onder instroom. Met die groot vensters voor en kleiner vensters langs die kant kan jy van amper enige plek in die huis sit en sterre kyk. – Jaco

’n Stel trappe aan een kant van die oopplan-leefarea onder lei na die solderkamer. Die balustrades is gemaak van dennehout en vlekvryestaalkabels. Die rou betonvloere is geverf met Dekro Unymarine vir ’n duursame glansafwerking. Hanglampe van MRP Home

Die blou eetkamertafel en houtstoele, asook baie van die ander items waarmee die kothuis ingerig is, is van die meubelwinkel Tuka, wat Jaco met sy suster Theresa Brand op Rawsonville oopgemaak het (dit het intussen Bellville toe geskuif). “Ek hou van upcycling en wou die kothuis inrig in ’n knus, sjiek plaasstyl met ’n moderne kinkel,” sê Jaco.

Ons is dol oor die sweefrakkies waaraan die hanglampe vasgesit is.
Hoekom hout as boumateriaal?
  • Verklein jou koolstofspoor! Bome absorbeer koolstof namate dit groei, en dié koolstof word opgesluit wanneer die hout vir konstruksie gebruik word. Hout is ook ’n hernubare bron.
  • Tydens die bou van ’n houthuis word daar minder gemors, want dit behels meestal “droë” werk waar die onderskeie dele van die huis klaar gemaak en geïnstalleer word, in teenstelling met “nat” werk waar produkte op die perseel aangemaak en aangewend word.
  • ’n Houthuis kan maklik oor die jare by jou veranderende behoeftes aangepas word.
  • Omdat houtraammure dunner as baksteenmure is, wen jy sowat 1 m² vloerspasie binne vir elke sewe lopende meter van ’n buitemuur.
  • ’n Houtraamhuis neem sowat die helfte van die tyd om te voltooi as ’n gewone baksteenhuis.

Die meeste van die binnemure en die solder se vloer is beklee met 12 mm-gerigteveselbord (“OSB”). “Dit verleen ’n ruwe afwerking en help met stabilisering van die dennehoutstruktuur,” sê Jaco. “Laasgenoemde vorm die ruggraat van die huis en die veselbord is die spiere wat als in plek hou.” Die plafon is beklee met Nutec-borde.

’n Makliker opsie

Nadat hy ’n bouervriend met ondervinding van houtstrukture toevallig raakgeloop het, het Jaco besluit om dié boumateriaal vir die kothuis te gebruik. “Dit was baie makliker en netjieser om te bou as ’n gewone baksteenhuis,” verduidelik Jaco.

Om sy impak te verminder het Jaco besluit op ’n eenvoudige dubbelverdiepingstruktuur. Die kothuis bestaan uit ’n oopplan-leefarea, ’n hoofslaapkamer en twee badkamers onder die soldervertrek.

Wat’s volgende? “Ek wil ’n pragtige, ekovriendelike tuin rondom die kothuis aanlê,” sê Jaco met ’n glimlag.

’n Skuifdeur verbind die binnestort met ’n aangrensende buitestort en binnehof.

Dis in die detail
Die klippe vir die buitestort en die skanskorfmuur het op die erf gelê en Jaco het die stortkop en -arm gemaak van skrootmetaal.

’n Eenvoudige reling pleks van ’n groot hangkas in die badkamer bied hangplek vir gaste se klere.

Jaco se wenke vir ’n houthuis

  • Omdat die struktuur se raamwerk afsonderlik vervaardig word voor dit aan die fondament geheg word, is dit noodsaaklik om twee keer te meet en een keer te saag.
  • Maak seker die dennehout wat jy koop, is behandel teen insekte, brand en vog. Die argitek Jacques Cronjé voeg by dat hy self die nodige behandeling bepaal vir al die hout wat die kontrakteur koop. “Wat vogbeskerming betref, wissel die beskermingsvlak na gelang van waarvoor die hout gebruik gaan word; dit staan bekend as ’n risikoklas (‘hazard class’),” verduidelik hy. “Dennehout wat aan die weer en grond blootgestel gaan word, moet byvoorbeeld met Klas 3 (H3) behandel word, terwyl dennehout wat af en toe aan nattigheid blootgestel sal word, H4 of H5 nodig het. Die meeste houthandelaars behoort jou te sê watter risikoklas geskik is vir jou projek.”
  • Laat jou plaaslike munisipaliteit jou planne goedkeur voor jy begin bou – die regulasies vir ’n houtstruktuur op ’n residensiële erf verskil van dié vir ’n plaas.
FEIT OF VALS?

Ofskoon daar ’n effense toename is in die aantal houthuise wat in Suid-Afrika gebou word, is daar steeds heelwat wanopvattings wat mense afskrik, sê Jacques Cronjé van Jacques Cronjé Timber Design. “Baie is bekommerd oor ontbossing, duursaamheid of die brandrisiko.”

Mite 1: Ontbossing

Hout is ’n hernubare bron. Vir elke boom wat afgekap word, kan ’n nuwe een geplant word. Die Suid-Afrikaanse Bosboumaatskappy (SAFCOL) plant op die oomblik meer bome as wat afgekap kan word en daar is genoeg Suid-Afrikaanse dennehout om in die huidige vraag na huise te voorsien.

Mite 2: Is daar nie ’n groot kans dat ’n houthuis sal afbrand nie?

Het jy al ooit probeer vuurmaak met ’n vuurhoutjie en ’n stomp? Dis baie moeilik om ’n groot klomp hout aan die brand te kry, en wanneer dit wel brand, verkool dit mettertyd – dit beskerm die hout en vertraag die ontbranding. In die geval van ’n brand is hout baie voorspelbaar en die dimensies verander nie onder hoë temperature nie.

Mite 3: Dit kan nie so duursaam wees nie!

Daar is houthuise en -geboue wat al honderde jare staan, en die regte behandeling kan die leeftyd van hout onbepaald verleng. ’n Houthuis moet elke paar jaar herseël word – ’n redelik eenvoudige taak.

Jaco wou ’n rustieke voorkoms in die badkamer hê; die spieël was voorheen ’n venster.

KONTAKTE EN VERSKAFFERS
  • Jacques Cronjé Timber Design 021 788 2515, timberdesign.co.za
  • MRP Home 0800 212 535, mrphome.com
  • PicardiPlace 082 788 9019, picardiplace.co.za
  • Tuka 082 783 5300, facebook.com/TukaInteriors