Foto’s en stilering Eleonora Pouwels

Vir lafenis teen die warm somerson het Sally met ’n koel, vars palet van hoofsaaklik blou en groen skakerings gewerk. Die paartjie het die blou vloer so kom kry en dit net ’n vars laag verf gegee. 

WIE KUIER HIER?

Henry Paine en Sally Kennedy

WAAR Lesbos, Griekeland

GROOTTE 95 m2

Nes jy nie die wind kan beheer nie, kan jy ook nie ’n seiljag aanjaag nie – nog minder ’n Griekse bouer ... Dis die les wat die Suid-Afrikaanse paartjie Henry Paine en Sally Kennedy, albei ywerige seevaarders, geleer het toe hulle twee jaar gelede ’n lappie grond op die Griekse eiland Lesbos gekoop en opgeknap het.

Die eiendom was bekostigbaar – minder as R1 miljoen vir ’n klein dubbelverdieping-huis op 1 700 m2. Dit was wel bewoonbaar, maar in ’n swak toestand; toe besluit die twee om dit op te knap en as vakansieverblyf te verhuur wanneer hulle nie daar is nie. Maar dis een ding om van ’n opknap in Griekeland te droom; om dit gedoen te kry verg heelwat ouzo.

Toe Henry en Sally mekaar in 2002 ontmoet, was sy besig om ’n vakansiehuis in Ballotsbaai op die Tuinroete te bou; maar konflik tussen haar en die argitek het amper in die hof gaan draai. Henry, ’n bekroonde erfenis-argitek, het Sally oorgehaal met sy geduld en bereidwilligheid om te luister. Sy was toe al platsak; daarom het sy Henry onbeperkte gebruik van die huis aangebied as betaling.

’n Paar jaar later, terwyl hulle saam aan haar Saxonwold-huis gewerk het, het Henry Sally se avontuurlustige kant ontdek toe sy holderstebolder Moembaai toe is om meters goue, smaraggroen, rooi en lemmetjiegroen sy vir gordyne te koop.

“Ek het gemeen dit sou goedkoper uitwerk en ek sou terselfdertyd ’n avontuur kon inpas!” onthou Sally. Henry het self ’n avontuurlustige streep, en het lankal daarvan gedroom om ’n seiljag te koop en die Middellandse See te deurkruis. En teen daardie tyd het al die saamwerk tussen die twee tot ’n romantiese verhouding gelei. In 2011 is hulle Griekeland toe om ’n boot – Pegasus – te koop en sedertdien vaar hulle elke jaar minstens drie maande net waar die wind hulle waai.

“Die tuin is eintlik ’n plaas,” sê Sally. “Volgens Griekse standaarde is dit baie groot en ongelooflik vrugbaar.” Buiten die roostuin wat die paartjie op die boonste terras aangelê het, het hulle dit sover moontlik net so gelos: natuurlik en onbewerk met baie blomme en klein diere. Hul enigste ingryping was om ruimtes in te rig waar jy onder die olyfbome kan eet en ontspan.

Op reis

In 2016 het Henry en Sally hulle op die Egeïese See bevind; hulle het Pegasus in vriendelike hawens geanker en is dikwels getref deur ’n seldsame vrygewigheid. Dié eienskap, eie aan die Grieke, staan bekend as philoxenia, wat “vriend vir die vreemdeling” beteken.

Op ’n dag het hulle in Plomari aangekom, maar kwaai deinings weens ’n baie sterk wind het hulle laat besluit om na rustiger waters te vlug. Toe hulle die volgende jaar weer by dié dorpie aandoen, was die weer mooi en die see glad – maar toe tref ’n aardbewing die streek.

“Pegasus het soos ’n kurkprop in kookwater gedobber,” onthou Sally. Die see het teruggetrek en weer uitgestoot – amper soos ’n tsoenami. “Dit was absoluut skrikwekkend!”

Daardie aand beland hulle in ’n taverne vol plaaslike inwoners. “Ons was nog vol adrenalien van ons noue ontkoming van Poseidon se toorn,” sê Sally. “Die hele aand het wildvreemdelinge glasies ouzo na ons tafel gestuur en die atmosfeer was ongelooflik.” Twee weke later was die twee nog steeds op Plomari ...

Die plaashuis is idillies met sy olyfboord en sitrus-, okkerneut-, amandel-, granaat-, pruim-, persimmon- en vyebome.

Reuse-terracottakruike wat gebruik is om olyfolie in te bêre, is onder die grondvloer uitgegrawe en staan nou in die tuin as herinnering aan die kothuis se ryk geskiedenis.

’n Groot skuif

Henry het ’n Britse paspoort en met die oog op Brexit, wat huiskoop in Griekeland dalk kan kompliseer, het die paartjie in 2017 besluit om in ’n huis te belê. So ’n stap hou wel heelwat burokratiese rompslomp in vir nie-inwoners van die Europese Unie, maar dis nie onmoontlik nie.

“ ’n Eiendomsagent het ons ’n paar huise op Plomari gewys wat ons nie geval het nie. Toe, op ’n dag, wys die agent ’n klein plaashuis knus tussen die olyfbome aan die ander kant van die vallei uit wat die volgende jaar in die mark sou kom,” verduidelik Sally. “Dit was klein genoeg dat ons dit op ’n knap begroting sou kon behartig, daarom het ons ’n jaar later teruggekeer, vuur en vlam om te koop – net om te hoor die plek het reeds ’n nuwe eienaar. Ons was verslae! Tot ons verligting het die agent ’n paar dae later laat weet die eiendom is weer beskikbaar.”

Binne was die huis ’n “deurmekaarspul”, soos Sally dit beskryf. Die boonste verdieping het bestaan uit ’n gang en vier piepklein vertrekke – elk ’n ander helder kleur geverf. “Onder was ’n skuur vir diere en pakplek vir plaasgereedskap,” sê sy. “Maar Henry was geïnspireer deur die potensiaal en oor ’n glas ouzo of twee het ons besluit om te koop.” Sally en Henry was so opgewonde, maar daar het ’n paar verrassings op hulle gewag ...

Die eiendom is klein genoeg dat ons dit op ‘n knap begroting kan behartig. – Sally


’n Lelike betontrap is in die 1950’s aangebou vir toegang tot die boonste verdieping. Die trap en ’n stoorkamer het al die vensters versper. Alles is afgebreek en vervang met ’n houtbalkon.

Die paartjie wou nie graag afsien van die oorspronklike kombuis met sy groen kaste nie, maar hulle kon die eenvoudige Griekse styl vasvang deur die afgeremde meubels wat die vorige eienaar agtergelaat het, op te knap. Die oorspronklike turkoois vloer het die kleurskema, wat ook ’n paar neutrale grys skakerings insluit, geïnspireer. 

Dis in 1876 gebou deur voorsate van die familie wat die huis aan Henry en Sally verkoop het. Die boonste verdieping was verdeel in ’n gang en vier vertrekke, elk in ’n ander helder kleur – insluitend turkoois, groen en pienk! Die paartjie het al die binnemure uitgebreek om ’n oopplan-kombuis-en-sitkamer te skep. Die groot antieke spieël is ’n winskoop van die bekende Monastiraki-vlooimark in Athene.


Nie vir sissies nie

Die paartjie het ’n plaaslike Engelssprekende argitek ontmoet van wie hulle gehou het. “Ons het besluit om hom aan te stel, want ons het geweet ons sou nooit hierdie projek vanuit Suid-Afrika kon bestuur met kontrakteurs wat nie Engels praat, die internet gebruik of selfs bouplanne lees nie,” sê Sally.

“Bouwerk het in Oktober 2018 begin met werkers wat die plaaslike argitek namens ons gehuur het. Maar kort nadat ons in April 2019 hier aangekom het, het hy die bouspan afgedank omdat hulle so gereeld eenvoudig nie opgedaag het nie.”

Maar dit was nie al haakplek nie... Hulle het byvoorbeeld ook agterkom dat die betondak oor die anneks aan die suidekant met dele van ’n ou ysterkatel versterk is; dit moes herbou word.

Verder het hulle uitgevind die balke in die huis se plafon (wat ’n plaaslike ingenieur wel goedgekeur het) was vrot. Hulle moes die hele dak vervang. En in die wintermaande kort voor Henry en Sally se aankoms het die dorp die hoogste reënval in onlangse heugenis gehad, wat ’n groot klipmuur laat ineenstort het. Boonop het water deur die mure tot in die kelder gelek omdat die huis teen ’n heuwel gebou is. Hulle moes uitgrawings doen, waterdigting installeer en weer met rotslae opvul.

Henry en Sally het op die moeilike manier geleer dat as iemand belowe hulle doen iets avrio (môre), dit eintlik dae of weke later kan gebeur. “Nadat die vorige span die trekpas gekry het, het nuwe werkers opgedaag. Weer kon net ’n paar van hulle Engels praat,” sê Sally. “Ons het ook besef die argitek het nooit na Henry se planne gekyk nie; trouens, hy was selde op die perseel. In die vier maande dat ons daar was, het daar tot vyf weke verbygegaan sonder dat enigiemand die perseel besoek het!” Henry het besef hy sou moes inspring.

Op die ou end het hulle in die drie laaste weke van hul verblyf daar self die projek voltooi met die hulp van hul tuinier en goeie vriend Nikolaos Alatelis.

Die linnelakens in die hoofslaapkamer is van die Suid-Afrikaanse tekstielsaak Mungo. Die gestreepte kussingslope en grys liggewig-deken is van Natural Greek Fabrics, ’n winkel wat Sally in Athene ontdek het; hulle weef katoen en linne volgens tradisionele metodes.

“Ons beste skepping was die spiraal op die stortvloer in die grondvloer se hoofbadkamer,” sê Sally. “Ons het die klippe op plaaslike strande opgetel, en al het die bouer gesê dis onmoontlik, het ons deurgedruk; ons het die klippe op ’n maas-rugkant geplak en dit in die afvlaklaag gelê. Dis nie perfek nie, maar dit lyk nog steeds mooi.” Die onderste vloer se plafon is wit geverf en die klipmure sal afgewit word sodra dit heeltemal uitgedroog het ná die reënseisoen.

Benewens borduurwerk word kant ook tradisioneel gebruik om Griekse huise te versier.

Oor die dekor

Sally het ’n duidelike idee gehad watter voorkoms sy wou skep. “Ons wou ’n Griekse plaashuis-styl hê, maar met ’n gevoel van weelde. Griekeland is so warm in die somer en die huis met sy 1 m dik mure is ’n oase. Ons gebruik hoofsaaklik blou en groen skakerings om die ruimte vars, koel en lugtig te hou.

“Die oorspronklike turkoois houtvloer op die tweede verdieping was ’n goeie beginpunt. Ons wou graag iets uit die oorspronklike huis behou en het besluit om die vloer met kapmerke en al te behou en weer in ’n soortgelyke kleur te verf,” sê Sally. “Ons het neutrale skakerings bygevoeg, soos liggrys vir die venstersitplek se kussing en ’n roomgrys genaamd Poseidon’s Beard vir die kaste. Ons wonder nou nog of dit die naam is wat ons die kleur laat kies het!”

Sally was ook geïnspireer deur die kikois wat die Suid-Afrikaanse tekstielsaak Mungo maak; sy het ’n antieke Griekse bankie daarmee oorgetrek en gebruik dit ook as kussingoortreksels en handdoeke. “Ek moes ’n bietjie lewe inbring en het besluit op titsels suurlemoengeel. Ons wou ’n aardse ruimte skep – niks swierigs nie – daarom het ons net linne en katoen gebruik. Die meeste daarvan het ons by Natural Greek Fabrics, ’n wonderlike winkel in Athene, gekry.”

Die vorige eienaar het Henry en Sally ook ’n hele paar meubelstukke uit die ou huis gegee, onder meer matte wat die eienaar se ma sowat 80 jaar gelede met die hand geweef het! “Dié elemente het gehelp om die outentiek Griekse gevoel wat ons graag wou hê, te versterk,” sê Sally. “Ons het so min moontlik verander, maar wel ’n aluminiumdeur vervang met ’n pragtige antieke deur wat ons by ’n ou pakhuis op die hoofdorp, Mytilini, gekry het. Vakmanne op Plomari het dit noukeurig herstel. Ons het lank geworstel oor dié duur kopie, maar ons beskou dit nou as ’n noodsaaklikheid en ’n wonderlike kunswerk.” Die paartjie het die huis “Philoxenia” gedoop – en hul voordeur staan inderdaad altyd oop vir vriend én vreemdeling.

Die tradisionele gestreepte lakens in die tweede slaapkamer onder in die anneks is deur Natural Greek Fabrics geweef.

Wat jy moet weet as jy buitelandse eiendom wil koop

’n Belegging in eiendom in Europa lei nie noodwendig tot burgerskap nie en die kriteria vir burgerskap verskil van land tot land. Verblyfreg-programme (sogenaamde “goue visums”) in lande soos Griekeland, Portugal en Spanje maak dit wel moontlik om in Europa te woon, en in sommige lande kan jy selfs werk en studeer.

’n Suid-Afrikaner (met net ’n Suid-Afrikaanse paspoort) kan in die meeste Europese lande eiendom koop, sê Chris Immelman, die hoof van Pam Golding International. Portugal is tans die gewildste keuse.

“In Portugal sal buitelandse banke selfs lenings aan Suid-Afrikaners toestaan – en lenings kan teen ’n rentekoers van 1,5% bekom word! Die koopproses in Portugal is baie soortgelyk aan dié in Suid-Afrika en eienaarskap word deur ’n titelakte verseker.”

In Griekeland, byvoorbeeld, werk dit anders, sê Henry en Sally. “In ons geval is die transaksie met net ’n handdruk beklink, sonder ’n amptelike koopaanbod,” sê Henry. Amptelike “kontrakte” is eers heelwat later geteken.

Die eerste stap as jy eiendom in Griekeland wil koop is om ’n prokureur en aktebesorger aan te stel wat sal verseker dat alle vereistes nagekom word en jou belange in die transaksie beskerm is.

VERBLYFREG vs. BURGERSKAP
  • Verblyfreg in die EU (’n goue visum) kan verkry word deur in eiendom in deelnemende lande te belê. Die grootte van die belegging wissel van land tot land; in Griekeland is die bedrag €250 000, in Portugal €350 000 en in Spanje €500 000. In Griekeland laat ’n goue visum jou nie toe om in die land of elders in die EU te werk nie, terwyl ’n Portugese goue visum jou wel toelaat om te werk, maar net in Portugal. Albei laat vrye beweging tussen alle Schengen-lande toe. Verblyfreg kan egter aan hernuwing onderworpe wees en wette kan verander. Daar is geen waarborg vir burgerskap nie. Nadat jy op ’n land besluit het, raadpleeg ’n spesialis om slaggate te vermy.
  • Burgerskap is gelykstaande aan ’n paspoort wat uitgereik is deur die land waarin jy belê het. Dit kan nie van jou weggeneem word nie (tensy jy dit op ’n bedrieglike wyse bekom het) en gee jou dieselfde regte, sekuriteit en voordele as landsburgers. In Europa kan jy ’n EU-paspoort bekom in Malta en Siprus, maar die nodige beleggings is ingewikkelder en aansienlik duurder as die goue visum-program. In Malta sal burgerskap jou byvoorbeeld €880 000 uit die sak jaag.
  • Bronne goldenvisas.com; globalpropertyguide.com

Nog foto's van Philoxenia:

KONTAK EN VERSKAFFER