Foto’s Elza Cooper | Stilering Suretha Jansen van Rensburg

Wie woon hier? Jakus en Dina Venter en hul honde, Chuckles en Honey

WAAR Johannesburg

Jare lank het Jakus en Dina Venter van die een huurhuis na die volgende getrek terwyl hulle vir werk en plesier oor die land heen gereis het.

Toe die avontuurlike paartjie uiteindelik in 2016 besluit om nes te skop en eiendom te koop, het hulle ’n doodgewone, taamlik saai huis in Blairgowrie gekies.

Omdat hulle albei van uitdagings hou, het hulle aanvanklik ’n huis gesoek om op te knap; dié een het geen strukturele werk nodig gehad nie, maar was eenvoudig genoeg dat hulle maklik hul eie stempel daarop kon afdruk. En dis presies wat hulle gedoen het!

Uiteindelik kon hulle al hul pragtige geërfde meubels, wat lank opgeberg was, gaan haal en ’n ereplek in hul nuwe tuiste gee. En danksy die Venters se eiesoortige sjiek aanslag kom elkeen van dié skatte nou behoorlik tot sy reg.

“Jy sal een of twee erfstukke in elke vertrek kry,” sê Dina. “In die begin het ek nogal gesukkel om met sulke ouer meubels te werk; soms het dit my so gefrustreer dat ek gewens het ek kon net nuwe goed gaan koop! Maar wanneer ek nou terugkyk, is ek dankbaar dat ons sulke besonderse meubels tot ons beskikking gehad het.”

Dina, wat ’n dekordiens bedryf (mydecorlist.com), het nog altyd in dekor belang gestel. “Ek onthou hoe ek, toe nog in Graad 2, die muntstukke wat my pa van sy oorsese sakereise af teruggebring het in patrone teen die mure geplak het. En toe ek nege was, het ek ons badkamermuur met my eie stensils probeer versier. My ma was nie juis beïndruk nie, maar sy het my tog toegelaat om my gang te gaan,” onthou sy.

Jakus bring ook sy kant met die binne-versiering. “My praktiese man moet altyd die gek idees wat ek in my kop kry, uitvoer – meestal darem sonder protes!” sê Dina met ’n glimlag.

DIE SLAAPKAMER

Die Venters het die blou en grys vertikale strepe teen die muur geverf om hoogte in die hoofslaapkamer te skep sodat die groot hemelbed van kiaat, wat hulle by Jakus se ma gekry het, tuis kon lyk in die vertrek. “Ek hou van die Gatsby-gevoel van die spieël links van die bed – dit laat my sommer spoggerig voel wanneer ek soggens daarin kyk!” sê Dina. Spieël van MRP Home

Die elegante leunstoel links, wat Jakus by sy ma geërf het, is oorgetrek met Aperture Breeze van Skinny LaMinx. Dina het weer die stel banke uit die middel van die vorige eeu by haar ouma geërf en toe met weelderige grys lap laat oortrek.

Dis darem mooi! Jakus het die staanlamp gemaak van aluminiumpyp wat hy in ’n koperkleur gespuitverf het; die skerm is ’n draad-snippermandjie.

DIE LEEFVERTREK

Die paartjie wou graag ’n fokuspunt rondom die oorspronklike kaggel skep. Hul plan was aanvanklik om nisse vir brandhout in te bou, maar omdat daar nie genoeg plek was nie, het hulle ’n seshoekige rak teen die muur vasgesit, met ’n rak wat daarop rus. Jakus het die muurstutte ’n tikkie blieng gegee met goue spuitverf; nog ’n seshoekige rak (nie op die foto nie) en metaalplakkers teen die muur rond die voorkoms af. “Ek het driehoekige goue plakkers gekies vir kontras met die outydse skildery wat aan Jakus se ma behoort het,” vertel Dina.

DIE KOMBUIS

Hoewel Dina en Jakus met die eerste oogopslag dol was oor die kombuis, wou hulle dit graag meer trefkrag gee – solank dit nie te veel sou kos nie! Toe voeg hulle ’n patroon by in die vorm van klein wit seshoekige teëls teen die eiland en spatpaneel, wat die heksagonale tema van die rakke in die leefvertrek deurvoer. Die donkergrys kleur van die voegbry aksentueer die vorm, en word herhaal in die rolblindings, muur en kombuisdeur.

Portaal

Blou was nog altyd, so lank as wat Dina kan onthou, haar gunstelingkleur. Dit was juis die inspirasie vir ’n hele versameling borde, wat begin het by een wat sy en Jakus jare gelede tydens ’n rugsakreis in Marokko gekoop het. “Nou is daar ook ’n Delft-bord van my ouma, ’n mandjie van Swaziland, ’n bord van Portugal wat ons by ’n vriend gekry het, en een deur die plaaslike keramiekkunstenaar Esra Bosch,” verduidelik Dina. Die blou teëls op die kas daaronder – nog ’n erfstuk van Jakus se ma – vul die versameling lieflik aan.

Dina se top-dekorwenke
  • Versier ’n ruimte rondom bepaalde stukke en beplan deeglik – ook vir ’n eklektiese of “onpaar” voorkoms.
  • Skep samehang met behulp van bykomstighede.
  • ’n Neutrale kleur op jou mure en wit gordyne kan van groot waarde wees. My wit gordyne het oral met my saamgetrek en vars gelyk in elke huis.
  • Groenigheid verrig wondere in enige ruimte. Ek het agtergekom bamboespalms, geraamteplant, Ficus lyrata en Calathea floreer binnenshuis.

Buite

Die Venters het die stoep net buite die sitkamer nuwe lewe gegee met treffende buitemeubels. “Ons braai dikwels op die gras. Hier kan gaste sit en ’n drankie en peuselhappies geniet tot tyd en wyl die braaivleis gereed is; dan eet ons ook buite,” sê Dina.

Sy het self die kussing op die groot plastiekboks gemaak van buite-lap (Hertex se Fat Cactus Noir). Dié “sitplek” verskaf ook bêreplek vir die hangstoel en strooikussings wanneer dit nie gebruik word nie (die skadunet oor die stoep bied nie beskerming teen reën nie). Dieselfde materiaal is gebruik vir die kussings op die geel geverfde Malawi-stoele.Hangstoel van mydecorlist.com; mat van Airloom; Malawi-stoele van Sugar Apple

"Ek inkorporeer nuwe dekor-trends soos hulle opduik, maar oordoen dit nie... dan bly die algehele voorkoms van ’n ruimte klassiek, selfs wanneer die modegier oorgewaai het." – Dina

’n Formele stoepgedeelte net buite die TV-kamer het ’n gesofistikeerde gevoel danksy ’n donkergrys buitemuur. “Ons geniet graag aandete hier buite; dit dwing ons om die TV af te skakel en rondom die tafel te sit en gesels,” vertel Dina. “Tot die honde hou daarvan; hulle slaap altyd op die mat onder die tafel, lekker beskut teen die hitte of reën.” Dié dienrak word behoorlik ingespan tydens buitekuiers. Reghoekige spieëls weerkaats die tuin. Rak van Re-Trend

DIE badkamer

Toe Dina en Jakus intrek, was die badkamer reeds opgeknap. Maar omdat die groot sandkleurige teëls nie juis hul smaak is nie, het hulle hul eie stempel afgedruk met ’n blou fokusmuur (Evolve Paints in die kleur Hermanus Mist). “Ek hou van die eenvoud hier, want dis maklik om mee te werk – ons kan dit enige tyd verander as ons iets vars wil hê,” sê Dina. Die rolblindings is hoog bo die vensters geïnstalleer om hoogte te verleen.

Ons is dol oor... dié vernuftige kashandvatsels van leer van mydecorlist.com

DIE KANTOOR

Dina se tuiskantoor is in die gastekamer; hier werk sy by haar oupa se ou skryftafel wat sy wit geverf het. Die stoel, wat voorheen bruin was, is nuut oorgetrek in pienk fluweel van U&G Fabrics (Legacyreeks, kleur 50).
Stoel van @home; muurplakkers van Simply Home; pompon-gordyn van superbalist.com

VERSKAFFERS
  • @home 0860 834 834, home.co.za
  • Airloom 021 932 6318, airloom.co.za
  • Hertex 011 262 4108, hertex.co.za
  • MRP Home 0800 212 535, mrphome.com
  • mydecorlist.com 072 345 8364
  • Re-Trend 011 888 2593
  • Simply Home 079 517 9680, simplyhome.co.za
  • Skinny laMinx 021 424 6290, skinnylaminx.com
  • Sugar Apple 079 663 2448, sugarapple.co.za
  • U&G Fabrics 0861 44 45 46, ugfabrics.com