Foto’s Justin Patrick • Stilering Marian van Wyk

Wie woon hier? Cara en Marvin Saven met hul kinders, Idana (12) en Mira (8)
WAAR Fresnaye, Kaapstad
GROOTTE 300 m²

Toe hulle in 2013 begin huis soek, was ’n ou erfenishuis nie juis wat Cara en Marvin Saven in gedagte gehad het nie. Eerstens was dit nie ’n oopplanontwerp nie. Boonop was die buitekant en tuin afgeleef en die afwerkings binne glad nie na hul smaak nie.

Wat wel hul hart gesteel het, was die pragtige komvensters, ruim voorstoep, oorspronklike houtvloere, en die ligging – Fresnaye kry nie baie wind nie en bied maklike toegang tot die berg en strand. “Hier is ook ’n groot avokadoboom,” sê Cara. “Toe ons begin opknap, het ek vir die bouers gesê hulle kan enigiets opmors, behalwe my avo-boom!”

Cara, eienaar van Cara Saven Wall Design, het ’n spesiale plekkie in haar hart vir tweedehandse vondste, maar haar hande het gejeuk om vars, moderne elemente by te voeg. Daarom het sy en Marvin, wat in die filmbedryf werk, besluit op ’n oplossing waarmee hulle die twee kon kombineer ...

Aan die voorkant is die huis so reg uit die middel van die vorige eeu, met vintage-meubels, houtvloere en warm kleure, terwyl die agterkant van die huis – ’n nuwe toevoeging – ’n moderne gevoel het danksy sement-plafonne, glas-bykomstighede en wit afgevlakte vloere. Om die twee style verder af te baken het Cara kleur gebruik: die fasade is wit geverf, terwyl die agterkant ’n trendy grys is! Twee uiterstes wat ’n perfekte geheel vorm.

Die seshoekige Douglas Jones-teëls links van die kaggel skep ’n treffende fokuspunt. Die oordekte stoep word grappenderwys “die swart long” genoem oor die swart vlekke teen die kaggelmuur, maar donkergrys dakverf verrig wondere.
Koffietafel van Weylandts; rottangstoele van Anouk Furniture; gesonke ligte van Lightworld

1. Cara het die Andrew Sutherland-skildery langs die venster present gekry en dit het die gebruik van blou in die res van die sitkamer geïnspireer. Sy het die stoele, ’n geskenk van die vorige huiseienaars, in ’n stylvolle blou fluweel laat oortrek. Die ragfyn grys gordyne hang van die plafon tot op die vloer en skep só ’n gevoel van hoogte in die ruimte.
2. Die dientafel in die leefarea was ’n tweedehandse kopie waarvoor Cara skuifdeurtjies met spieëls laat aansit het. Twee afdrukke van Cara Saven Wall Design verfraai die muur.
Hanglampe van Lightworld

Nadat die plafonpanele uitgehaal is, was Cara so beïndruk met die dakkappe dat sy besluit het om dit net so oop te hou.

’n Vars briesie

Tydens die 10 maande lange opknap is heelparty binnemure uitgebreek, vertrekke het nuwe nut gekry en ’n nuwe, L-vormige vleuel is aangebou by die deel wat suid front.

Binne is die bestaande deure verhoog en vensters vergroot of verskuif om meer lig in te laat. In ooreenstemming met die huis se herkoms is die houtvloere eenvoudig geskuur en verseël.

Nadat die groot opknapwerk en afwerking gedoen is, kon Cara wegspring met die versiering. “Ek sou sê ons dekorstyl is eklekties,” verduidelik sy. “Maar ek is dol oor die voorkoms, ontwerp en dekor van huise uit die middel van die vorige eeu; daarom kom die meeste van my meubels uit daardie era of het dit ’n soortgelyke styl. Dit herinner my aan ’n tyd toe dinge eenvoudiger was ...”

Cara verander graag aan haar dekor soos wat neigings verander. “Op die oomblik gebruik ek ’n verskeidenheid skakerings van blou en groen, asook blospienk en weelderige materiaal,” sê sy. “Maar ek kan rooi nie uitstaan nie, so ek hoop nie dit gaan gou weer gewild raak nie!”

"Ek hou van ’n samehangende palet met ’n verrassingselement hier en daar. Dis dan makliker en meer bekostigbaar om ruimtes oor te doen." – Cara

Elke paar maande sal sy nuwe of tweedehandse strooikussings en matte inbring; en omdat dit haar besigheid is, gebruik sy ook gereeld plakpapier om vertrekke op te kikker. “Die rusbank in my sitkamer is byvoorbeeld omtrent 100 jaar oud, maar die ruimte waar dit staan, het in die afgelope drie jaar al so baie verander.”

Al het Cara ’n slag met “vertrekke mooimaak”, bieg sy dat sy nie so gesout is met selfdoenprojekte nie. “Ek wens eintlik ek was handiger, en dat ek die tyd gehad het om ’n bietjie te timmer! Omdat ek in die week taamlik hard werk, herlaai ek naweke my batterye en bring tyd in die natuur deur – dan voel dit baiekeer soos werk as ek die slag iets kreatiefs wil doen. Maar ek sal af en toe by ’n vintage-mark gaan inloer en iets probeer afskuur of verf – met gemengde resultate!” sê sy en lag.

Wat eers ’n slaapkamer was, is nou deel van die oopplan-eetarea-en-kombuis; Cara het kleur by dié vertrek ingebring deur haar ma se antieke laaikas in ’n parmantige blou te spuitverf.
Eetkamertafel van Coricraft; stoele van Pezula Interiors

Die kombuis se moderne elemente – houtkaste in ’n subtiele mentgroen, wit metroteëls en ’n stylvolle Stucco Italiano-sementvloer in die kleur Glacier met ’n laeglans-verseëlaar – kontrasteer pragtig met die aardse houttafel en -stoele wat hulle saam met die huis gekry het. “Ons wil nog vir jare met ons gesin om dié tafel sit en kuier, nes die vorige eienaars 60 jaar lank met hul eie gesin gedoen het,” sê Cara nostalgies.

Cara se wenke

  • Beplan vir die toekoms. Ons het ’n sementblad bo-op die nuwe L-vormige deel gegooi toe ons opgeknap het sodat ons eendag, wanneer die tyd reg is, boontoe kan bou. Dit sal geld bespaar en beteken ons hoef nie gedurende die werkery uit die huis te trek nie. Ons het ook besluit op ’n boumetode met ligte staal omdat dit nie so baie water gebruik nie.
  • Wanneer jy ’n ruimte mooimaak, kies een of twee dekorstukke waarvan jy hou en beplan die res van die vertrek daarrondom, pleks van op een slag ’n klomp bykomstighede koop.
  • Vermy losgoed.

1 en 2. Die hoofslaapkamer het ’n rustige atmosfeer met sy ligte kleure en minimalistiese dekor.
3. In die gastebadkamer is ’n aksentmuur geskep met plakpapier, ’n uitbeelding van Venesië uit Cara se reeks. “Ek en my man het albei ons hart verloor op die stad, so dis lekker om ’n mooi herinnering daaraan te hê,” sê Cara. Die wasbakkas is ’n tweedehandse vonds, en die spieël is gemaak van ’n Oregondennehoutvensterraam wat tydens die opknap uitgehaal is.

’n Paar vinnige vrae

Visualiseer jy ’n ruimte voor jy begin of bring jy veranderinge een-een aan? Ek is geneig om een verandering op ’n slag te maak; dis vir my moeilik om dadelik die volle prentjie te sien. Ek koop dikwels iets waarvan ek hou en probeer dan later ’n plek daarvoor in die huis kry.

Wat was die grootste uitdagings met jul regruk? Daar was ’n paar goed waarmee ons moes wag tot ons genoeg gespaar het, maar ek het die uitdaging van ’n huis op ’n knap begroting regruk nogal geniet.

Wat is volgende? Ons gaan een vlak boontoe bou. Só sal ek dan ’n kantoor met ’n aparte ingang hê.

1. ’n Stewige dennehoutbankie bied sitplek op die ruim voorstoep. Cara het die Malawi-stoele pastelpienk – een van haar gunstelingkleure – geverf sodat dit uitstaan teen die vloerteëls.
2. Teëls van Union Tiles; strooikussings van MRP Home
3. Die boomhuis, handewerk van Cape Jungle Kids, het ’n foefieslaaid wat direk in die swembad daar naby loop – tot Idana en Mira se groot plesier.

KONTAKTE EN VERSKAFFERS