Die vrouetorso met ’n rok en ’n voëltjie op haar skouer is die beeldhouer Louis Olivier se skepping. Aan die bure se kant links word konifere soos ’n heining gesnoei om privaatheid te skep.

Foto’s Elza Cooper | Stilering Amanda van Wyngaardt

WIE WOON HIER?

Elzabe en Piet Malan

WAAR Southdowns- landgoed, Centurion

GROOTTE 700 m²

Eenvoudig dog treffend: ’n beeld deur Ruhan Janse van Vuuren voor ’n groot blou skildery van wolke deur Esias Bosch. Elzabe het vir Ruhan kuns op laerskool gegee en hom jare later by een van Angus Taylor se slypskole raakgeloop; sy voel baie sentimenteel oor dié beeld. Die akkedis-keramiekbeeld is deur Zimele Original Ceramics.

Los oortreksels van wit linne, geverfde sementvloere en neutrale mure skep die perfekte agtergrond vir die kunswerke in die leefvertrek.

Bo die kaggel pryk ’n beeld van Wilma Cruise. Die knielende vroutjie op die koffietafel is ’n voorbeeld van die eenvoudige dog treffende beelde deur die hele huis; die kunstenaar is onbekend.

Die geëspalieerde vyeboom by die ingangshek – nie-amptelik die huis se voordeur – is Piet se “eksperiment”. Mense hou gereeld stil om hom daarna uit te vra.

In die voorportaal is ’n kunswerk deur Linda Rademan op gebruikte teesakkies.

By die Malans se ingang drapeer ’n vyeboom sy grys takke oor die rooi baksteenmuur, sy blaredak propvol klein groen-pers vytjies. Stap jy deur die sierlike roesbruin tuinhek wag ’n fees op die oog: ’n groot koi-dam met reuse-inwoners, netjies gemanikuurde buksboom-heininkies en sementpaadjies, ’n kruipvy wat teen die hoë mure opklouter, ’n imposante beeld teen die oorkantse muur ...

Elzabe Malan verwelkom jou by die voordeur. Sy is gasvry en hartlik – en tipies kunstenaar. Elke hoekie in haar tuin en huis skep ’n prentjiemooi beeld.

Sy en haar man, Piet, het twee jaar lank aan dié huis in die Southdowns-landgoed in Centurion beplan voor hulle in 2007 ingetrek het. Met die kinders reeds uit die huis – daar’s sewe kinders en 16 kleinkinders tussen die twee van hulle – was ’n ruim oopplan-leefarea op die onderste vloer noodsaaklik sodat daar genoeg kuierplek vir almal sou wees. Elke vertrek maak op die tuin oop en skep ononderbroke vloei tussen binne en buite. Dis inderdaad ’n familiefees wanneer almal hier saamkom.

Twee vrouebeelde van Angus Taylor word deel van die uitsig op die tuin.

Argitektuur en vloei

Die ontwikkeling staan ook bekend as Farm Village omdat dit so ’n plaasgevoel het. Dis nie vreemd om ’n troppie beeste in die strate te sien drentel nie! Saam met die argitek Devilliers du Toit het die Malans sensitief met die voorgestelde boustyl, die sogenaamde “ou Transvaalse plaasstyl”, omgegaan.

Buite is ’n kombinasie van afwerkings ingespan – van pleister en rooi bakstene tot ’n rooi sinkdak en rooi Irene-klip. “Ons het probeer kreatief dink en van die bakstene met wit sement afgewit vir interessante afwisseling,” vertel Elzabe. “Binne het ons die groot vensters so beplan dat gordyne onnodig sou wees; vandaar ook die hek by die vyeboom wat dien as ‘buitevoordeur’ – dit gee ons die nodige privaatheid.”

Die twee slaapkamers het hortjies aan die buitekant vir privaatheid en veiligheid – rooi geverf om by die dak aan te sluit. Houtlateie versier party van die deurgang-openinge in die huis, terwyl hoë plafonne die ruimte beklemtoon.

“Die argitektuur skep ’n informele en rustige gevoel, maar vir ons is die vloei van die huis eerste prys,” vertel Elzabe. “Daar is geen gange of vermorste spasies op die onderste vlak nie. Die een ruimte loop in die volgende in, ook van binne na buite. Ons wou graag ’n huis hê waar ons elke dag in elke vertrek kom.”

Die kombuiskaste is modern om by Piet se smaak te pas, terwyl die eetkamertafel en stoele ’n meer klassieke gevoel gee vir balans in die ruimte.

Kuns en dekor

Elzabe se liefde vir kuns kom reeds van haar skooldae af. Sy is mal oor helder kleure. Sy skilder self en werk al 15 jaar saam met die bekende kunstenaar André Naudé. “Gelukkig is Piet ook ’n kunsliefhebber en ons het oor die jare verskeie stukke bymekaargemaak. Piet is veral lief vir beeldhouwerk,” vertel Elzabe.

Die huis se neutrale basis is die perfekte agtergrond vir dié kleurryke skeppings. Tog sê Elzabe sy beskou glad nie haar huis as ’n kunsgalery nie – inteendeel! “Ek was nog altyd net so bly dat ek omring kan wees deur voorwerpe wat vir my mooi is. Besoekers was nog altyd positief oor die gevoel van die huis, al is dit nie noodwendig hul smaak nie,” vertel sy.

Ferdi Louw van Pulse het destyds met die keuse van kleure en afwerkings gehelp en Elzabe het onlangs weer sy hulp ingeroep om die voorkoms te vernuwe. Bestaande meubels is herstoffeer of geverf en rondgeskuif vir ’n vars effek.

“Dit was vir my ’n kopskuif om met soveel kleur te werk, maar dit was pure genot!” vertel Ferdi vrolik. “Elzabe en Piet is albei jong geeste en hou van nuwe ervarings. Ek kan verstaan ’n huis moenie stagneer nie en behoort saam met jou innerlike groei en smaak te verander. Elzabe is immers ’n kunstenaar en hou van verandering en vernuwing.” Ferdi se raad aan ander is om altyd jouself in jou eie spasie te wees, maar tog ook te waag en nuwe dinge op die proef te stel. “En besoek gerus galerye en koop oorspronklike kunswerke!”

Dit was vir Piet en Elzabe belangrik om ’n kombuis te hê waar almal saam kan kuier: party om die eiland en ander langs die braai waarop dit uitloop. ’n Groot skildery van André Naudé gee kleur aan die neutrale kombuis, terwyl ’n Angus Taylor-beeld die eiland versier.

Ek hou van kleur en op ’n manier haak dit die meubels, dekor en kunswerke aanmekaar sodat alles pas. – Elzabe

Piet lê en dink graag op dié ysterbed van Garden Bleu op die stoep by die hoofslaapkamer. Die groot keramiekbord op die kis in die voorgrond is van Esra Bosch.

Die Malans het die buitengewoon hoë bed vir die hoofslaapkamer laat maak by Garden Bleu nadat Elzabe haar hart op ’n soortgelyke bed by die Grand Africa Rooms-hotel op Plettenbergbaai verloor het. Die skilderye bo die kaggel is deur Nicolaas Maritz en die klein skildery bo die kapstok is deur Ronel Kellerman.

Die hoofslaapkamer se en suite kyk uit op die klein agtertuin. Die lae muur met mosaïekteëls is die perfekte uitstalplek vir mooigoed.

Die skildery bo die laaikas is Elzabe se werk.

Die gastetoilet is vrolik en intiem. Ferdi het die kassie met Dulux Signal Red geverf vir ’n vars voorkoms.

Plakpapier van Eijffinger

Elzabe se ateljee is net langs die leefarea sodat sy Piet se geselskap kan geniet terwyl sy werk.

’n Beeld deur Angus Taylor skep ’n treffende fokuspunt langs die swembad.

Piet was dadelik mal oor die drie bobbejane deur Wilma Cruise toe hy dit die eerste keer gesien het. Dis altyd ’n geselspunt tussen Oupa en die kleinkinders by die braaiplek. 

Kreatiewe tuin

Die tuin is Piet en Elzabe se eie skepping, maar met insette van vriende en familie wat almal ywerige tuiniers is. Daarby kom Frans Mailla ook elke weeksdag in die tuin help.

“Ek hou van ’n informele, deurmekaar tuin wat tog ’n sin vir orde en ritme verklap,” vertel Elzabe. Sy het dit bewerkstellig met herhaling van kleur en enkele formeel gesnoeide plante en bome. Die apploustrekkers in die tuin is natuurlik die groot beelde wat oral te sien is.

“Die kunswerke help om fokuspunte in die tuin te skep,” verduidelik Elzabe, wat na elke hoekie kyk asof dit ’n skildery is wat sy wil verf. Dis duidelik dat kunsbeginsels soos komposisie, kleur, vorm en lyn hier toegepas is. “Ek beskou ook al ons tuinbeelde as mense, selfs die bobbejane. En dit gee ’n persoonlike gevoel – hulle gesels saam!” sê sy en lag.

VERSKAFFERS