Foto’s Greg Cox l Produksie Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

Suzette en Piet du Plessis

WAAR Nieu-Bethesda

GROOTTE 328 m²

Die groot studeerkamer se vloer is van herwinde Oregondennehout uit die ou bioskoop op Graaff-Reinet. Die bank en antieke houtkas is erfstukke en die kelim op die bank is by die Grand Bazaar in Istanbul gekoop.

’n Hoekie in die sitkamer met ’n lessenaar uit ’n antiekwinkel en Suzette se ouma se koleemmer. Die bank is oorgetrek met linne wat eers haar ma se sitkamergordyne was.

Irisse aard goed in Nieu-Bethesda en die tuiniers hier ruil gedurig kleure onder mekaar uit. Amberkleurige glasvaas van Mr Price Home

‘Hier moet ons so vinnig as moontlik wegkom,” sê Piet du Plessis vir sy vrou toe hulle die eerste keer die stofpad vat deur Nieu-Bethesda.

Suzette, daarenteen, dink by haarself: hier sal sy kan woon. “Toe ons so by daardie pas afkom, toe weet ek dit. Moenie my vra hoekom nie. Terwyl ons deur die dorp ry, het ek sterre in my oë gehad. Piet het gedink die plek is te stil vir hom en wou nooit soontoe ry nie, selfs toe ons in ’n stadium in Cradock gewoon het. Toe ons egter ’n viertrek kry, kon ek hom ompraat.”

’n Jaar later, in 2007, koop die twee Pretorianers vir hulle ’n vakansiehuis op dié Karoo-dorpie aan die voet van die Sneeuberge waar die Sondagsrivier ontspring. Drie jaar lank kom hulle hierheen wanneer hulle ’n tydjie kan afknyp; en toe Piet in 2010 aftree, is hý die een wat voorstel hulle moet permanent hier kom woon. Vandag word hulle nie meer as inkommers beskou nie, maar as ingesetenes. “Ek dink ná 10 jaar kan mens jou stem begin dik maak,” spot Suzette.

Die vorige eienaar het reeds opknapwerk aan die huis gedoen, maar die Du Plessis’s het gou besef daar gaan nie genoeg plek wees vir hul groeiende gesin van drie kinders met hul wederhelftes en drie kleinkinders nie. “Ons kinders en kleinkinders is meer as gelukkig om hierheen te ry. Die oudste kleinkind is al ’n tiener en ons het gewonder wanneer hy gaan begin moeg raak om by Ouma en Oupa op dié klein dorpie te kom kuier. Maar hy is steeds doodgelukkig hier waar hy in die strate kan fietsry.”

Dit was tyd vir opknap – maar sonder om uit pas te raak met die omgewing of die huis se eenvoud. Dit was juis die huis se gebrek aan pretensie wat met Suzette se hart gepraat het.

Die kas in die eetkamer bevat onder meer ’n versameling blou-en-wit Spode-porselein.

Van die kleiner veranderings was Suzette se droomstoof: ’n Aga wat sy wou hê teen die dorp se bittere winters waar die temperatuur maklik by vriespunt draai. Soos die geluk dit wou hê, was daar ’n boer wat van syne ontslae wou raak. “Ek sê toe vir Piet hy kan my BMW-koepee verkoop en die stoof vir my koop. Mens kan in elk geval nie hier in die stof en klippe ry met daardie motortjie nie.” Toe kry sy haar stoof, laat hom restoureer en nou brand hy elke jaar heelwinter. Groen stoele van Lemon Tree Interior; tafel van Colonial Antiques

’n Toonbank skei die eetkamer en kombuis. Die paartjie hou van die oopplan-leefstyl, want dis gesellig, veral wanneer die hele familie vakansies daar is.

Die woonkamer was voorheen ’n oop stoep. Die donker struktuur was deel van ’n ou donkie wat buite die huis gestaan het en met groot moeite oopgekap is om ’n vuurherd te maak – wat toe nie gewerk het nie. Morsø-smeulstofie van Metelerkamps op Knysna

Die skets bo die deur na die spens en opwasvertrek is van hul seun Jean wat in 1999 in ’n motorongeluk oorlede is. Dis gedoen deur Frans Boekkooi, ’n plaaslike kunstenaar. 

Suzette het deur die jare heelwat van haar geliefde blou-en-wit breekware versamel. 

Wanneer die weer dit toelaat, eet die Du Plessis’s graag buite op die systoep.

Aan die agterkant van die huis het Attie Nel, ’n skrynwerker op die dorp, groot vensters gemaak volgens die Du Plessis’s se spesifikasies sodat hulle op die tuin kan uitkyk. Dis ’n sonnige vertrek in die winter en in die somer gooi die ou vyeboom genoeg skadu. Blomme deur Jacques Müller Design

’n Slaapkamer en badkamer is aangebou vir die kinders se Kers- en Paasvakansies op Nieu-Bethesda. Die geborduurde lap oor die bed kom uit Suzette se groot vintage-versameling. Skildery deur Michael Heyns

Meer lig en ruimte

Wanneer jy voor die lang wit huis met die ouwêreldse fasade stilhou, is jy bewus van baie bome en berge. In die winter is die sypaadjies groen en wei daar perde. Dit laat jou dink aan die Engelse platteland, sê Suzette.

Die huis staan so na aan die straat dat mense soms dink dis ’n restaurant, en by die vensters inloer. “Ek sê vir hulle dit is nie, maar hulle is welkom om in te kyk.”

Die voordeur maak oop op ’n donker gang met ’n stil atmosfeer en slaapkamers weerskante. Hoe dieper jy instap, hoe ligter word dit totdat die gang oopmaak op ’n oopplanruimte met groot vensters en skuifdeure. Dit is opgedeel in ’n sitkamer, woonkamer, studeerkamer en kombuis. Die opwasplek en spens is in ’n aparte vertrek.

“Ons wou soveel plek moontlik skep, maar sonder om af te wyk van die plaaslike boustyl. Die huis het ’n groot stoep gehad toe ons dit gekoop het,” vertel Suzette.

“Ons het dele hiervan toegebou en nog ’n slaapkamer, badkamer en woonkamer bygebou. ’n Stoep is aan die agterkant van die huis aangebou en die oorspronklike een aan die sykant is behou.” Die eindresultaat is vier slaapkamers en vier badkamers, en baie meer lig wat deur die groter vensters en deure agter instroom.

Hulle kuier meestal in die agterste deel van die huis wat oos front, want dis taamlik beskut teen wind en koue en in die somer gee die bome koel skaduwee. Wanneer ’n mens hier sit, kyk jy – soos die plan was met die groot, nuwe vensters – op die lieflike tuin uit. Dis die handewerk van Suzette en haar tuinier, Romeo Jacobus.  

Alles en almal gedy

“Dis moeilik om hier tuin te maak met ’n klimaat van droë, warm somers en bitter koue winters. Die ryp maak elke jaar die tuin kaal en kom die lente, moet alles weer van vooraf uitloop. Daarom is die kontras tussen die seisoene so groot.” Maar dit maak jou ook baie bewus van sterfte en hergeboorte in die natuur, sê Suzette. “Dit is terapeuties en helend om dit te beleef.”

Sy en Romeo het ’n goeie 5000 m² om mee te woeker. “Tuinmaak is harde werk, maar bevredigend. Romeo is net so ’n ywerige tuinier soos ek en hy plant, snoei, maak kompos ... En so werk ons sy aan sy.

“Iemand het eendag gesê wanneer jy in Nieu-Bethesda woon, moet jy van klippe hou. Ek het baie klippaadjies laat bou om die groot tuin in ‘kamers’ op te deel.”

Sy het besef sy moenie peuter met bestaande struike of bome wat reeds bewys het hulle aard hier nie. “Hier was byvoorbeeld baie roosbome wat goed vaar; ek het die wit ‘Icebergs’ behou. Die geharde Liriope, irisse en nieskruid is ook heel gelukkig hier.”

Maar hul vrugtebome loop deur onder ape wat kom steel, en vetplante en selfs agave ryp dood. Met die woestynrosies (Echeveria) het Suzette meer geluk gehad. Dié kry sy by die Obesa-kwekery op Graaff-Reinet. “Dis ’n plek wat ’n mens moet besoek!

“Geharde Mediterreense kruie soos roosmaryn, tiemie, origanum en salie aard goed hier en ek gebruik dit oorvloedig in my kos. Hulle is ywerige goed.” Net soos die Du Plessis’s wat hul wortels hier kom neersit het en gedy op dit wat hierdie wêreld bied.

Die dekens in die gastekamer het Suzette van haar ma se ou Sandersongordyne gemaak. Die skildery bokant die beddens is deur ’n vriendin en die borde is baie jare gelede by Memory Lane in Somerset-Wes gekoop.

Van die agterstoep lei ’n gruispaadjie jou tuin toe.

Die kuddetjie van 23 Meatmasters (’n kruising tussen Dorper- en Damaraskape) is Piet se troeteldiere en is ideaal vir die uiterste klimaat.

Woensdagoggende vroeg is dit tyd vir hul leibeurt. Die hele tuin word vloedbesproei en Suzette sê sy is oneindig dankbaar daarvoor. Nieu-Bethesda se water kom uit ’n standhoudende fontein.

Akeleie (Aquilegia vulgaris)

Die systoep is beskut teen die koue suidewind en in die somer bied die Prunus skadu vir dié lekker kuierplek.

céû\!gëh
céû\!gëh

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

Colonial Antiques 041 484 2617

Frans Boekkooi 082 228 7228

Gallery Michael Heyns  

Jacques Müller Design jox.dsgn@gmail.com

Lemon Tree Interior 041 581 0012

Memory Lane 083 660 6535

Metelerkamps 044 382 0274

Morsø 011 516 0294

Mr Price Home 0800 212 535

Attie Nel 071 046 7242

Obesa Nursery 079 496 8067