Foto’s Henrique Wilding l Produksie Marian van Wyk

EIENAARS

Die Du Toit-gesin

WAAR Buff and Fellow-ekowildplaas, Glentana, Wes-Kaap

GROOTTE 86,4 m²

Twee sogenaamde Eco Coconuts staan saam met vier ander huisies – twee Eco Pods en twee Eco Cabins – om ’n dam op die Buff and Fellowekowildplaas, 10 km van George se lughawe en naby die stranddorp Glentana.

Wanneer ’n mens nadergery kom, kan jy jou verbeel dis twee ruimtetuie wat hier kom land het en sal jy dadelik jou kamera wil uithaal om hulle af te neem voor hulle weer opstyg. Ja, sê Frikkie du Toit, die man wie se idee dit was, hy wou so ’n unieke vorm hê om dit “Instagrammable” te maak. Hy het eenkeer op ’n besoek aan Phuket in Thailand huisies met so ’n kokosneutvorm gesien en wou die idee op ’n Suid-Afrikaanse manier uitvoer. Hy het self die ontwerp gedoen – met gebruikte vraghouers as basis – en toe by Innovative Modular Concepts in Kaapstad gaan aanklop om sy plan te ontwikkel.

Drie 2,4 m-vraghouers is vir die onderste vlak gebruik en drie vir die boonste. Die leefvertrek, stoep, braai-area en buitestort is onder, en bo is twee en suite-slaapkamers – almal met ’n uitsig op die dam en die Outeniekwaberge.

Die vorm van die kokosneut is verkry deur ’n raamwerk van horisontale staalringe wat buite-om die hele struktuur opgerig is en vertikale houtstroke wat laastens aan die staalvorm geheg is. Behalwe dat dit interessant lyk, help dit om die strak vorm van die skeepshouers te versag en gooi dit skaduwees wat dit koeler maak binne.  

Sukie, Pieter en Frikkie du Toit

Die spiraaltrap is Frikkie se gunsteling-element en hy sê dit herinner hom aan ’n Afrika-kleipot. Dit is gemaak deur honderde dun laaghoutvorms aan mekaar te plak. Die twee verdieping hoë venster bied ’n oorweldigende uitsig op die Suid-Kaapse landskap. Trap deur Innovative Modular Concepts

Mandjies is as lampskerms ingespan bo die eiland in die kombuis. Wit potte op rak van Beachsand; mandjies van Builders Home; Smeg-stoof van CAW Third Generation; borde van Wonki Ware 

Die kaggel is ’n gunstelingkuierplek in die winter.

Ons hou ons koolstofvoetspoor so klein moontlik deur plaaslike winkels te ondersteun en ons vars produkte uit die omgewing te kry. – Frikkie

Elke eenheid het ’n ekovriendelike kuierbad wat met ’n houtvuur verhit word. Palmbome is geplant om gaste te laat voel asof hulle iewers op ’n tropiese eiland ontspan. Verhitte bad van KolKol

Die smeulstofie is ’n Serwiese Smederevac wat die bouer self ingevoer het. Teëls van CTM

Eetkamerstoele van Patio Warehouse; die tafel is ’n familie-erfstuk

Elke kamer het ’n stort met ’n uitsig oor die plaas.

Glentana-strand is 5 km ver, daarom word strandsakke aan gaste verskaf. Rottanghake van Mr Price Home; geweefde strandsak van Builders Home

Eers ’n krisis ...

Frikkie vertel hy en sy suster, Wilma, het in die gasvryheidsbedryf grootgeword, want hul ouers, Pieter en Sukie, het vir jare ’n gastehuis met 50 slaapkamers in Johannesburg bedryf. Hy en Wilma het 10 jaar lank ’n trouvenue in George gehad. “Die liefde om mense te onthaal is in ons bloed.” Ook om mooi te maak: “Ek koop al jare lank ou huise in George en maak dit reg. Die kunstige kant kom van my ma af – nes sy hou ek daarvan om kreatief te wees,” vertel hy.

In 2019 tref teëspoed die gesin. Frikkie het baie siek geword nadat hy ’n longvirus opgedoen het en was onder meer ’n maand lank aan ’n ventilator gekoppel in intensiewe sorg. Terwyl sy ouers uit Gauteng gekom het om hom by te staan, kry pa Pieter ’n hartaanval. Dit het sy en Sukie se besluit vergemaklik om “af te tree” en in die Suid-Kaap te bly. Wilma is Gauteng toe om die gastehuis daar oor te neem. ’n Polis van Frikkie het uitbetaal omdat hy so lank nie in staat was om te werk nie en dié geld het hy gebruik om die ses Buff and Fellow-ekohuisies op die familieplaas, Ultreya, op te rig.

Die vuurput-kuierarea is aangebou sodat gaste saam om ’n vuur kan kuier. Die “fellow” in Buff and Fellow staan immers vir die “fellowship” tussen mense, terwyl die “buff” verwys na die harde, sterk buitekant van die eenhede as buffer teen die elemente.

Frikkie het die Kohler-stortkop en -krane uit Amerika bestel. Teëls van CTM

Die kopstuk in die slaapkamer is geïnspireer deur ’n vinknes en gemaak uit dun houtjies en baie vlegwerk – nog ’n blink plan van Frikkie, uitgevoer deur Len Douglas van Innovative Modular Concepts. Beddegoed van Beachsand

... en toe voorwaarts!

Sedertdien leef Pieter sy passie vir sy buffelboerdery hier uit. Hy is elke dag op die trekker en sien om na die wilde diere op die plaas. Sukie is die sjef en verantwoordelik vir verskeie “meal-in-a-box”-opsies wat mense kan bestel, terwyl Frikkie aan die stuur van Buff and Fellow staan en terselfdertyd sy kreatiwiteit in die ontwerp en dekor van die blyplekke kan uitleef.

Hy mik nie net na ’n vyfster-ervaring vir sy gaste nie, maar ook om algaande ekovriendeliker te raak. “Ons het ou vraghouers herwin en hulle is geïsoleer sodat die temperatuur so ver moontlik natuurlik beheer word. Ons gebruik ons eie boorgatwater en is besig om al minder energie uit die nasionale kragnetwerk te tap; die plan is dat ons uiteindelik 100% op sonkrag kan staatmaak.”

Dis nie noodwendig goedkoper om vraghouers vir bewoning om te bou nie, sê Frikkie. “Die voordeel is dat daar tydens die oprigting minder mense op die terrein is en hulle is net so 10 dae hier, want die groot werk word reeds vooraf in ’n pakhuis in die Kaap gedoen.”

Die reaksie van mense wat hier tuisgaan en swem en wild kyk – of net sit en die omgewing geniet – is deurgaans positief, vertel hy. Dit is soet sukses vir die Du Toits wat uit ’n krisis hierdie mooi plek tot stand gebring het. Hul plaasnaam, Ultreya, beteken nie verniet in die oorspronklike Latyn “voorwaarts met moed” nie.

Die oprigting

Hier word ’n vraghouer in Innovative Modular Concepts se fabriek in die Kaap omgebou. Die houers word eers volledig aanmekaar- en opmekaargesit om seker te maak alles pas; dan word dit weer uitmekaargehaal om vervoer te word.

Drie vragmotors en ’n hyskraan is ingespan om die skeepshouers na George te bring. So ’n houer pas presies op die vragmotor se bak.

’n Houtpaadjie is na die voordeur van die Eco Coconut aangelê.

Die skeepshouers word aanmekaargesweis, geseël en geverf.

Hier word die staalraam en houtbekleding aangebring om die Eco Coconut sy bolvorm te gee.

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

Beachsand 044 873 2665

Buff and Fellow Eco Game Farm 082 572 7095

Builders Home 044 693 2300

CAW Third Generation 044 873 4774

CTM  

Innovative Modular Concepts 082 426 1985

KolKol 082 654 5090

Mr Price Home 0800 212 535

Patio Warehouse 044 010 0102

Wonki Ware 044 884 1883